Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Die 30 sekondes voor lt.kol. Charl Kinnear se dood
Nicolette Kinnear en haar seuns, Casleigh en Carlisle. Foto: Jaco Marais

Lt.kol. Charl Kinnear se laaste gesprek was met sy oudste seun, Carlisle Kinnear (24).

Net voordat hy geskiet is, het hy vir Carlisle gebel om te sê hy moet sy motor uit die oprit trek sodat hy (Kinnear) kan intrek. Carlisle parkeer sy voertuig dan agter dié van sy pa.

30 sekondes later is Kinnear, ’n speurhoof by die Wes-Kaapse bende-eenheid, koelbloedig in sy voertuig voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, voor sy seun doodgeskiet.

“My pa het buite gewag vir my om uit te trek.”

Lt.kol. Charl Kinnear is Vrydag in ’n sluipmoordaanval voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, vermoor.Foto: Verskaf

Carlisle het gesê hul gesin, sy ma, Nicolette, en sy jonger broer, Casleigh (19), het lankal vrede gemaak daarmee dat hul pa se werk eerste in sy lewe gekom het en hulle tweede.

“Maak nie saak waar ons was nie; ons het geweet as sy selfoon lui, gaan hy werk.”

Hoewel hy weet dit kan wreed klink, is hy bly sy pa het vinnig gesterf. “Hy sou nie wou ly nie.”

Carlisle het ook gesê die manier waarop sy pa dood is, wens hy vir niemand toe nie.

“Dis ’n gesig wat ek nooit sal vergeet nie.”

Nicolette het gesê sedert Kinnear 31 jaar gelede by die polisie aangesluit het, het hy vir sy werk geleef.

“Dit was sy passie en hy het voluit daarvoor geleef. Tot die einde.”

Nicolette en hul seuns het die media Saterdag ná ’n besoek van genl. Bheki Cele, minister van polisie, toegespreek.

Op ’n vraag of die polisie hulle in die steek gelaat het, het Nicolette gesê die minister het erken daar is baie dinge wat hulle anders kon gedoen het. Sy het ook gesê die minister het haar sy woord gegee dat haar man se moord ordentlik ondersoek sal word. En hy het belowe om binnekort met antwoorde na haar terug te kom.

“In dié stadium het ek en my kinders nie leuens in ons lewe nodig nie.”

Cele is gevra waarom polisielede wat Kinnear en sy gesin moes oppas ná ’n dreigement op sy lewe in November 2019, skaars ’n paar weke ná die dreigement in Desember 2019 onttrek is. Die minister het toe erken as hy so na die situasie kyk, moes die polisie dit anders hanteer het.

Hy het gesê hy sal in die volgende 24 uur met genl. Khehla Sitole, nasionale polisiehoof, gaan sit en hom aansê om Kaapstad toe te kom om self te kom ondersoek instel na wat in Desember 2019 gebeur het.

Hy het gesê daar is gedoen wat hulle kon doen. “En daar is goed gedoen wat ons nie moes doen nie.

“Maar daar moet ’n ondersoek gedoen word om uit te vind waar ons gefouteer het en wie gefouteer het.”

As dit nodig is, sal hy selfs na die president gaan en vra vir bykomende hulpbronne om agter die kap van die byl te kom. “Ons moet weet wat werklik gebeur het.”

Cele het Kinnear as een van die beste speurders in die Wes-Kaap en in die land beskryf. Die land moet weet waarom een van sy beste ondersoekbeamptes op dié manier dood is.

Meer oor:  Charl Kinnear  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.