Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Só het weduwee glo haar man se moord georkestreer
Die gesig van ’n monster?

Weke nadat Suretha Brits na bewering haar man in sy huis laat verwurg het, het die aanvallige donkerkopvrou op Facebook verklaar hoe baie sy hom mis en hoe verskriklik dit is dat sy kinders sonder hul pa moet grootword.

Suretha Brits Foto: Facebook

Die afgelope week was daar egter min sprake van dié pyn en het Suretha (30) anderpad gekyk toe haar lyfwag luidkeels sy liefde vir haar verklaar kort nadat sy in die hof in Pofadder in verband met die moord op haar man verskyn het.

“I love you, ek is lief vir jou, I love you,” het die lenige man, sy langerige hare in ’n man bun agterop sy kop gebind, vir haar geskree kort nadat sy by die hof uitgekom het. Sy het hom egter geïgnoreer en vinnig in brig. Dick de Waal, ondersoekbeampte, se polisiebakkie geklim. Die man is blykbaar een van twee lyfwagte wat Suretha ná haar man se dood aangestel het, maar Rapport kon nie vasstel wat sy naam is nie. Sy word in Pofadder se polisieselle aangehou in afwagting op haar borgtogaansoek wat Woensdag plaasvind.

Sy word aangekla van die moord op haar 41-jarige man, Leon, op 7 Oktober 2020. Een van drie mans wat reeds vir die moord aangekeer is, het ’n pleitooreenkoms met die staat aangegaan wat haar by die moord betrek.

Hulle was gelukkig getroud en onskeibaar.

Jacques van Vuuren, wat reeds tot ’n effektiewe 20 jaar vir sy aandeel in die moord gevonnis is, beweer Suretha was die baasbrein agter die moord en dat sy hom “gedurig geteister het” totdat hy uiteindelik ingegee het en twee huurmoordenaars gekry het om haar man en die pa van hul drie kinders te laat vermoor. Van Vuuren sê haar verduideliking aan hom was dat haar man haar slaan, dat hy ’n buite-egtelike verhouding het en dat sy toesig oor haar drie kinders gaan verloor as sy van hom probeer skei.

Ná Leon se dood het sy in twee lang Facebook-inskrywings verklaar hoe baie sy haar “lings” mis.

Op 18 Oktober, 11 dae ná sy dood, skyf sy: “My lewe is tot stilstand geruk. Ek kyk in 3 gesiggies vas wat ek jou in sien elke liewe dag.” En dan: “Ons grootste belegging ons kinders . . . jou woorde die aand voor jou dood.”

Leon en Suretha Foto: FACEBOOK
Leon en Suretha Brits. Foto: Facebook

Ses dae later skryf sy: “Ek weet nie hoe ek hierdie pad sonder jou gaan kan stap nie asseblief my lings sprei jou vlerke groot oop om my en kinders.”

Op 19 Desember, net meer as twee maande ná sy dood, skryf sy: “Lings, vandag sou ons 11 jr getroud wees. Jy’t elke oomblik die moeite werd gemaak. Ek mis jou onbeskryflik baie. Lief jou Lonna.”

Suretha is die afgelope Maandag in haar huis in Marchand naby Kakamas in die Noord-Kaap (140 km noordoos van Pofadder) in hegtenis geneem waar sy gedurende die week gebly het. Haar kinders, ’n 12-jarige dogter en tweelingseuns van tien jaar oud, gaan daar skool.

Volgens bronne het Suretha ná haar man se dood al hoe meer tyd in Marchand bestee, waar sy haar veiligheid opgeskerp het en waar inwoners beweer sy oor Desember en Nuwejaar groot partytjies gehou het. Sy het ook die twee lyfwagte aangestel.

Die huis op Pofadder waar Leon Brits gedurende die
Die huis in Pofadder waar Leon Brits gedurende die week gebly en hy vermoor is. Foto: Charné Kemp

Haar inhegtenisneming volg ná maande se bespiegeling onder dorpenaars wat reken dit was nie ’n tipiese rooftog of wraakaanval, soos aanvanklik berig is nie. Leon is in sy bors gesteek en met ’n hondeketting verwurg. Luidens die lykskouingsverslag het hy ook wonde op sy agterkop en verdedigingswonde aan sy arm gehad. ’n Geweer, twee pistole, 15 Krugerrande van R480 000, kontant van ongeveer R90 000, vier geslypte diamante, ’n leersak en kluissleutels is gesteel.

Die polisie het gou die eerste drie verdagtes vasgetrek. Een van hulle is die 37-jarige Van Vuuren.

Hy beweer in sy pleitverduideliking Suretha het hom sedert September “voortdurend geteister” om haar “vuilwerk” te doen.

Van Vuuren wou nie self die moord pleeg nie en het Enrich Williams (34), sy kollega by die myn op Kathu, gevra om te help. Williams het toe na bewering vir Amantle Bareki (24) gewerf vir die sending.

Van Vuuren
Jacques van Vuuren

Volgens Van Vuuren was Suretha glo bereid om R400 000 te betaal en het ook haar diamantring van R125 000 as betaling aangebied. Sy het voor die moord R200 000 kontant in paaiemente betaal en sou daarna die uitstaande R200 000 oorhandig.

Suretha het glo daarop aangedring dat Van Vuuren as middelman optree sodat die vermeende moordenaars haar nooit kan eien nie. Die moord moes by die huis in Pofadder gepleeg word, omdat die honde nie gevaarlik is nie. Sy het luidens die pleitverduideliking ’n video van die binnekant van die huis gestuur en gesê die skuifdeur na die swembad is nooit gesluit nie. Die moordenaars kan agter die bank by die swembad wegkruip.

Van Vuuren is ook gewaarsku dat Leon, wat 116 kg geweeg het, “ ’n sterk man is wat hom sal teësit”.

Nadat sy die eerste paaiement betaal het, het Suretha na bewering vir Van Vuuren voortdurend gekontak om te hoor hoe die planne vorder. Sy het glo aangedring dat die moord op 6 Oktober gepleeg word, omdat sy bang was dat haar man sou ontdek dat sy R130 000 uit sy rekening onttrek het.

Van Vuuren en die vermeende moordenaars het egter eers die aand van die 6de vertrek en op die oggend van 7 Oktober in Pofadder opgedaag. Van Vuuren het die twee mans by die huis afgelaai waar hulle op hul slagoffer gewag het. Toe hulle ongeduldig raak het Suretha hulle na bewering gepaai en verseker sy sal haar man, wat by die hotel doenig was, huis toe stuur onder voorwendsel dat die honde op straat is.

Vyftien minute nadat Leon by die huis opgedaag het, het Williams en Bareki vir Van Vuuren laat weet hy moet hulle kom oplaai. Die twee het na bewering gesê Leon het teruggeveg, waarna hy gesteek, met ’n kolf geslaan en verwurg is. Hulle het ’n leersak en ’n opgestopte geweersak by hulle gehad. Op pad na Kakamas is Leon se selfoon vernietig. ’n Ent verder het hulle Suretha langs die pad ontmoet en almal het hul gesig vermom sodat hulle mekaar nie later kon herken nie. Suretha se selfoon is ook blykbaar vernietig, waarna sy na Pofadder gery en die lyk ontdek het.

‘Hy was haar links en sy, sy regs,’ sê egpaar se werker.

Van Vuuren beweer hulle het naby Kakamas die moordwapens en hul klere vernietig.

Terug in Kathu (sowat 300 km noordwes van Kakamas) het hulle die geld wat uit die kluis gesteel was, onder mekaar verdeel. Die geweer en twee pistole is glo by Williams se huis gelaat. Van Vuuren ontken hy het ooit die Krugerrande of diamante in die sakke gesien of dat hy dit gevat het.

Williams en Bareki is op waarskuwing vrygelaat. Hulle verskyn weer op 17 Mei in die hof.

Inwoners van Pofadder was die afgelope week “weens kleindorpse politiek” sku om met Rapport te praat. Een inwoner was wel bereid om te sê dat Suretha die laaste een was om haar man van ’n buite-egtelike verhouding te kon beskuldig.

“Suretha was meer guitig as hy.”

’n Inwoner van Marchand sê vir haar het dit gelyk of Suretha “gedurig oor haar skouer loer”. “Vir wie was sy bang dat sy twee lyfwagte aanhou?” wou dié vrou weet.

Dié troufoto van ‘n jong Suretha Brits is op een v
Suretha Brits op haar troudag. Foto: Facebook

Nog ’n inwoner vertel dat Leon se roudiens gehou is onder ’n groot markiestent wat op die oewer van die Oranjerivier naby hul huis in Marchand opgeslaan is. “ ’n Tamaai kragopwekker en yskas is neergesit en elektrisiteit met kabels aangelê.

“Daar was meer kos as op ’n troue.”

Nie almal op Pofadder is gelukkig met die jongste wending in die moorddrama nie. Mari Thompson, wat die Kleinplasie-hotel bestuur wat aan die egpaar behoort, is oortuig dat Suretha onskuldig is.

“Daar was binne ses maande twee tragedies in die dorp; Leon se moord en haar inhegtenisname.

“Leon en Suretha was gelukkig getroud en onskeibaar. Hy was haar links en sy, sy regs. Hy was ons en haar mentor, hy het haar in ’n sakevrou gebrei. Sy het die hotel met ’n ysterhand regeer. Sy kan enigiets doen, van krane regmaak tot mure bou, alles dinge wat sy by Leon geleer het.”

Thompson sê Suretha se trauma nadat sy haar man se lyk ontdek het, en haar smart ná sy dood is hartverskeurend. “Dit breek my hart dat sy haar kinders alleen moet grootmaak en die besighede behartig. Ons personeel werk hard om die besigheid vir haar aan die gang te hou. Ons moet deur die hofproses sterk staan.”

Op ’n vraag wie sy dink Leon vermoor het sê sy: “Ek weet nie wie die moorde gepleeg het nie, ons land is maar ’n wrede plek. Die Here sal vir ons die skuldiges uitwys.”

Volgens haar was Leon ’n fikse man wat fiets gery en graag geroei het. “Die troosdiens was langs die Oranjerivier, dit was sy gelukkige plek. Ons kon afsluiting kry, maar hy leef voort saam met ons. Ek is ’n gelowige mens wat my nie aan skinderstories steur nie.”

Volgens ingeligte bronne het die man wat voor die hof sy liefde vir Suretha verklaar het, intussen by die Pofadder-hotel ingetrek. Die polisiekantoor waar sy aangehou word, is ’n paar straatblokke van die hotel. Etes van die hotelkombuis word glo elke dag by die selle afgelewer, aldus Rapport se bron.

De Waal en sy ondersoekspan het die afgelope week die ondernemings en plaas deurgesoek. Woensdag was die span op soek na hotel-registers van die afgelope jaar. Bronne sê die speurders was ook al na Gauteng en die Weskus.

Meer oor:  Leon Brits  |  Mari Thompson  |  Suretha Brits  |  Jacques Van Vuuren  |  Pofadder  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.