Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Die Here het my kind weggehaal van Covid-19’

“Kyk wat het sy gedoen, dis sý wat dit gedoen het,” het die dodelik gewonde Kirvan Fortuin aan sy vriende gesê, toe hy met die meisie styf in sy arms by die wendyhuis instap. Op sy bors was twee gaatjies waar die 14-jarige hom minder as ’n minuut tevore met ’n mes gesteek het.

Kirvan het die meisie, wat hom glo pas gesteek het, so styf vasgehou en toe sê hy vir sy vriende: Kyk wat het sy gedoen, dis sý wat my gesteek het, beduie Charlotte Claasen, die ma van die vermoorde danser-choreograaf. Foto: Edrea du Toit

Kort daarna is die 28-jarige danser en choreograaf dood.

Fortuin se ma, Charlotte Claasen, is ’n stylvolle vrou. Op die rusbank in haar sitkamer in Sheikh Yusuf-straat in die Rondomskrik-buurt, in Macassar buite Somerset-Wes, praat sy met trots oor haar internasionaal bekende seun.

Fortuin het die afgelope paar jaar naam gemaak op die verhoë in Europa.

Hy het ’n BMus-honneursgraad in choreografie aan die Universiteit van Kaapstad en ’n BA van die Codarts Universiteit in Nederland behaal. Deur die Kirvan Fortuin-stigting en Fortuin-dansteater het hy landwyd werksgeleenthede geskep vir dansers en choreograwe.

“Kirvan het mooi jare gehad.”

Hy was ’n uitgesproke aktivis vir die regte van die LGBTQI+-gemeenskap.

Dit alles het op 13 Junie in ’n tragedie geëindig by die wendyhuis waar Fortuin saam met vyf vriende gekuier het.

Die 14-jarige meisie, wat later vir die moord gearresteer is, wou die aand glo by Fortuin-hulle brood “leen”, maar dit het glo op ’n stryery uitgeloop.

Die meisie het glo toe na bewering ’n mes gaan haal en Fortuin in die bors gesteek.

Claasen sê iemand het haar gebel en gesê wat gebeur het.

Kirvan Fortuin

Fortuin se pa, Steven, het soontoe gejaag.

“Hy het in sy pa se arms gesterf. Hy het nie eers die hospitaal gehaal nie,” sê Claasen.

“Wat soek die meisie daardie tyd van die nag buite? ’n Mes behoort mos nie in jou hand nie. Sy het die mes glo gaan haal.”

Volgens Claasen sê mense nou die verdagte was ’n probleemkind en dat sy saam met ’n veel ouer man gebly het.

“Sy’t vir mense vertel sy het voor die insident gedroom sy steek na iemand, dat die Here haar ‘gewaarsku’ het. Nou hoekom het sy dan nie na die droom geluister nie?”

Claasen se hand vries in die lug waar sy tussen twee reuseruikers sit wat Tatijana Lopez, haar seun se vriend, gebring het.

“Ja, die land is geruk. Die president en die parlement het ook ’n boodskap van medelye gestuur,” sê sy dan.

“Kirvan het hoë bloed gehad. Die Here het my kind weggehaal van Covid-19. Hy kom pluk nou sy blommetjies. Alles is deur Hom uitgesit. Kirvan het mooi jare gehad.”

Fortuin was 11 jaar oud toe hy by ’n projek van die Field Band-stigting aangesluit het. Hy kon kies tussen sang, dans of instrumente, maar hy het dans gekies.

“Herman Mashaba het hom nog ge-sponsor,” sê sy.

“Kirvan wou Macassar se kinders van die straat af kry en hy het dansklasse gegee. Hy het ook die House of Le Cap gestig om ballroom-dans te bevorder.”

Verlede jaar het die Wes-Kaapse regering hom ’n eerbewys gegee vir sy bydrae tot die bevordering van inheemse kunsvorme.

Onlangs nog het hy en Coenie de Villiers saamgewerk aan ’n ballet-opvoering, met vertellings deur ouma Katrina Esau, die laaste vlot spreker van die oeroue N|uu-taal.

Claasen sê ’n vrou in die buurt het haar vroeër vanjaar gevra of dit haar seun is wat so op die televisie verskyn. Toe maan die vrou haar: “Maar julle behoort nie hier te bly nie. Hier’s te veel geweld.”

Die 14-jarige het reeds in die hof verskyn en bly in aanhouding in ’n kinderhuis tot die verhoor hervat.

Meer oor:  Kirvan Fortuin  |  Danser  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.