Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Die Here kyk mooi na my,’ toe sterf dominee en vrou

Frans Pretorius, die juwelier wat dié week in hegtenis geneem is weens die moord op ’n predikantspaar van Bethal, het ernstige finansiële probleme gehad.

Vas ná moord: Frans Pretorius, ’n juwelier van Bethal in Mpumalanga.

Maar toe hy sy sielsgenoot en jare lange leraar, dr. Hannes Beukes (70), vra waarom die Here hom so laat swaarkry, het Beukes glo gesê: “Met my gaan dit goed. Die Here kyk mooi na my. Ek het ’n meenthuis en hierdie en daardie eiendom.”

Dít, sê Pretorius se skoonpa, het hom laat knak.

“Niemand kan verduidelik hoekom nie. Dis net iets wat opbou en dan skielik breek,” sê Ernst van den Bergh.

Pretorius word nou aangekla daarvan dat hy die 70-jarige Beukes, ’n emeritus-dominee van die Hervormde Kerk, en sy vrou, Ibel (67), verlede Dinsdag vermoor het.

Skielik staan hierdie huilende man voor my en sê ‘hier is ek, skiet my . . .’

Hul lyke, met skaaf- en steekwonde, is die volgende dag in die kattebak van hul Mitsubishi-nutsvoertuig langs die Bethal-dam gekry.

Die polisie het Pretorius Woensdag op Ernst van den Bergh se plaas Wonderfontein in Mpumalanga gearresteer.

“Dit was gister die hele dag honde en choppers soos hulle hom gesoek het. Ek was saam.

“Ek was die eerste ou in die rivier en ek was gereed om te skiet as dit nodig sou wees,” sê Van den Bergh.

Hulle het hom by ’n spruit op die plaas gekry.

Dr. Hannes Beukes (70), ’n emeritus-dominee van die Hervormde Kerk en sy vrou, Ibel (67). Foto: Facebook

“Skielik staan hierdie huilende man voor my en sê ‘hier is ek, skiet my,’ en toe weet ek, ek kan nie. Fransie het vir my gevra of ek sy kinders sal grootmaak.

“Hy het vir die polisiespeurder oor en oor gesê hy weet ek sal mooi na sy kinders kyk, maar wat gaan van oom Hannes se kinders word?

“Die ondersoekbeampte wat Frans gearresteer het, supt. Nico Veldman, het my ook lesse in menslikheid geleer. Hy het Frans behandel soos wat hy is – ’n mens wat gebreek het,” sê Van den Bergh.

Hy sê Beukes en Pretorius was na aan mekaar.

“Hannes het vir meer as ’n jaar in die Middelburg-tak van Frans se juweliersbesigheid gewerk.

“Hulle het elke dag saam ’n uur soontoe gery en die meeste van hulle gesprekke op die pad en in die kantoor was oor geloof.

“Hannes het al twee Frans se ouers begrawe én sy kinders gedoop. Hy was sy predikant.”

Ernst van den Bergh

Van den Bergh sê Pretorius was onder enorme gelddruk.

“Hy het ’n klomp ouens in die dorp geld geskuld en baie daarvan. Dit het swaar gegaan.

“Toe ek my dogter ná hierdie storie gaan haal, het al hulle huisgoedjies in twee beeswaentjies gepas. Sy het R228 in haar rekening gehad.”

Nadat die egpaar Dinsdag verdwyn het, was Pretorius ook weg.

“Frans het vir my gesê hy het verlede Donderdag eers tot verhaal gekom.

“Hy is Pretoria toe waar hy sy kar in Hatfield gelos het. Toe loop hy drie dae lank langs die N4 af plaas toe,” sê Van den Bergh.

“Hy het vir ons gesê ‘die eerste keer wat jy onder ’n brug slaap kry jy nie weer ’n lift nie, want dan is jy ’n boemelaar’, en hy hét maar sleg gelyk.”

Van den Bergh sê stories dat daar rusies oor geld of diamante tussen Pretorius en die Beukes-egpaar was, of dat hy gewapen was, is alles vals.

Woensdag het Pretorius volgens Van den Bergh ’n bekentenis voor ’n landdros afgelê.

Brig. Leonard Hlathi, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, het aan Rapport bevestig dat ’n verdagte gearresteer is.

“Ons is dankbaar vir die verdagte se familie se samewerking,” het hy gesê.

Meer oor:  Hannes Beukes  |  Ibel Beukes  |  Bethal  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.