Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Die ‘Koninkryk’ miljoene kwyt

Duisende mense wat geld betaal het om te registreer vir ’n “toelae-skema” wat op “Christelike beginsels” bestuur word, wag al jare vir hul geld, maar die maatskappy kon onlangs miljoene rande aan ’n derde party betaal.

Hanno Bekker, ’n prokureur en direkteur van Europlaw Central.

Rapport kan vandag onthul dat Stephen Slaughter, direkteur van Universal Holdings Capital (UHC), miljoene rande oorbetaal het aan ’n maatskappy wat nou weier om verder saam met Slaughter te werk. UHC het die skema Kingdom Grant Program begin en sowat 4 360 mense het “eenhede” in die program bekom. Die lede het vroeër gesê hulle het R3 500 registrasiegeld per “eenheid” betaal.

Hulle sou dan geregtig wees op ’n “toelae” van R5 miljoen vir elke eenheid wat glo deur ’n anonieme internasionale weldoener verskaf sou word.

Beleggers het vroeër aan Rapport gesê hulle wag al jare vir hul geld en die baasbreine agter Kingdom Grant hou aan sê hulle moet net bid en geduldig wees.

Nou blyk dit Slaughter het miljoene rande oorbetaal aan ’n maatskappy genaamd Europlaw.

Kingdom Grant het sy toelaeskema-lede verseker hul miljoene is in die pos.

Europlaw tree skynbaar as “bewaarder” van dokumente en “betaalmeester” namens UHC op. Dis onduidelik presies wat die transaksies behels het.

Europlaw het aan Rapport gesê sy transaksie met Slaughter het deur die mat geval omdat hy die maatskappy “mislei” het deur nie te verklaar dat daar in die VSA bedrogklagte teen hom ingedien is nie. Rapport het vroeër berig oor Slaughter se verskeie veroordelings weens diefstal in Suid-Afrika.

Slaughter het die afgelope week deur David Haasbroek, sy prokureur, laat weet hy kan nie kommentaar lewer oor Europlaw se bewerings nie weens siviele en strafregtelike regsgedinge wat hy teen die Europlaw-groep en die korporasie Ithuba Savings and Credit, ’n bank wat glo in Amerika geregistreer is, en hul direkteure begin het.

Hanro Wallis, ’n fluitjieblaser van UHC wat bedenkings oor die Kingdom Grant Program het, glo dit wat hy tot dusver uitgevind het van die band tussen UHC en Europlaw is net die oortjies van die seekoei.

Stephen Slaughter, direkteur van Universal Holdings Capital.

Europlaw het self ’n kleurryke agtergrond. Een van die direkteure, André Vorster, was ’n dekade gelede in die nuus omdat hy as topspioen van die Nasionale Intelligensiediens glo miljoene rande in die naam van oudpres. Jacob Zuma vir liefdadigheid in Brittanje wou insamel.

Sir Edward Cooper, voormalige hoof van die Pureheart-stigting in Brittanje, het aan City Press, susterkoerant van Rapport, gesê hy het lont geruik toe Vorster hom in Londen genader het om “baie miljoene” in Vorster se trustrekening in te betaal.

Die regering het hom van Vorster se aktiwiteite gedistansieer, maar hy het enige ongerymdhede ontken.

Vorster het die afgelope week aan Rapport gesê hy het dieselfde jaar nog bedank “as ’n sakebesluit”. “Ek was nie skuldig aan enige misdryf nie. Geen siviele of strafregtelike aksies is ooit teen my ingestel nie.”

Hy het ’n polisiesertifikaat gedateer einde 2019 aangestuur om te wys hy het geen vorige veroordelings nie.

’n Australiese belegger het vroeër op ’n internetforum beweer van die direkteure van Europlaw het hom ingeloop, maar Vorster sê dis net ’n saketransaksie wat skeefgeloop het en dit is eintlik Europlaw se direkteure wat ingeloop is.

“Ons by Europlaw weet uit eerstehandse ervaring dat daar baie bedrieërs is, veral in die huidige finansiële klimaat! Ons kan die versekering gee dat ons nóóit ’n ooreenkoms met ’n hoogs gereguleerde finansiële instelling soos ’n bank (Ithuba) sou aangaan indien daar énige ongerymdhede was in hoe ons sake doen nie.

“Het ons foute in die verlede gemaak? Ja, natuurlik het ons!

“Maar ek kan die versekering gee dat Europlaw elke kontrak wat ons met ons bestaande kliënte het sal eerbiedig!”

Hanno Bekker, ’n prokureur van Bloemfontein en direkteur van Europlaw Central, sê Europ­law se sakemodel is bo verdenking. Hulle tree as tussenganger op om finansiering te verkry.

Die persoon wat finansiering vir ’n projek soek, moet 1% van die leningsbedrag betaal as ’n transaksieheffing.

Die werklike sakemodel is egter so ingewikkeld dat selfs gesoute entrepreneurs kopkrap.

Gerrie Oosthuizen, ’n myneienaar wat finansiering soek om nog ’n myn te koop, het aan Rapport gesê hy het navraag gedoen by Europlaw en gaan verbyhou.

“Europlaw het vooraf vir my gesê jy moet ’n projek voorlê.

“Toe ek daar kom, sê hulle jy moet binne 72 uur 1% van die waarde van die projek betaal.”

Die leningsbedrag word nie op een slag uitbetaal nie.

Oosthuizen sê Europlaw het hom boonop niks gevra oor sy projek wat hy wil finansier nie.

“Hulle weet (tot nou toe) nie eens wat my projek is nie.”

Kingdom Grant het sy toelaeskema-lede verseker hul miljoene is in die pos.

UHC het Vrydag aan lede ’n omsendbrief gestuur waarin hy sê die maatskappy en sy direkteure het in 2020 “gruwelike en persoonlike aanslae” verduur deur “vals, wraaksugtige en misleidende” bewerings en dat hulle in die komende weke meer daarvan verwag, “veral in die media”.

Luidens die brief het dié berigte en die impak van Covid-19 op wêreldmarkte en veral die anonieme “skenkers” hulle geraak; met onvermydelike vertragings.

“UHC wag vir die prosesse om voltooi te word.”

Meer oor:  Bedrog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.