Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Die NVG wil selektief vervolg, sê AfriForum

As die staat voortgaan om slegs lede van die voormalige veiligheidsmagte weens polities gemotiveerde moorde in die apartheidsjare te vervolg, wil die burgerregtegroep AfriForum sy private vervolgingseenheid onder leiding van Gerrie Nel gebruik om ook ANC-lede te vervolg, sê Kallie Kriel, AfriForum se uitvoerende hoof.

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) en Valke het vroeër aangekondig ’n nuwe spesialiseenheid het reeds begin om 53 sake uit die apartheidsjare te ondersoek. Nog 59 is vir vervolging gemerk.

Die Valke het reeds 34 voormalige polisiebeamptes met kennis van die “speuromgewing” gewerf om met ondersoeke te help en die NVG sou ook ervare voormalige aanklaers aanstel vir ’n kontrakperiode van drie jaar.

Die aankondigings oor hernude apartheidsvervolgings het gekom nadat vier appèlregters in Junie beslis het die regering van oudpres. Thabo Mbeki het by die NVG ingemeng om apartheidsvervolgings te keer.

Rapport het vroeër berig die regters het bevind dat die ANC-regering tussen 2003 en 2017 ingemeng het in vervolging teen meer as 300 beweerde moordenaars wat luidens die finale verslag van die Waarheids-en-versoeningskommissie (WVK) vervolg behoort te word weens moorde op teenstanders van die destydse NP-regering.

ANC het burgerlikes geteiken.

Hulle het ook bevind dat João Rodrigues, ’n voormalige veiligheidspolisieman, vervolg moet word weens die moord op die anti-apartheidsaktivis Ahmed Timol, wat in 1971 uit die kantoor van die veiligheidspolisie in die destydse John Vorsterplein na sy dood geval het.

Rodrigues is hierdie week in die ouderdom van 82 jaar dood ná ’n siekbed.

AfriForum glo egter nuwe vervolgings sal “polarisasie” veroorsaak en die “boek van die verlede moet gesluit word,” sê Kriel.

Dit lyk egter vir hulle of die NVG “selektief” wil vervolg deur slegs lede van die destydse veiligheidsmagte uit te sonder. Indien dit gebeur, sal AfriForum druk op die NVG plaas om ook “die ouens van die ANC” te vervolg, sê Kriel.

“Ons staan by die beginsel van gelykheid voor die reg.”

Die plan is om vertoë te rig en daarna ’n aansoek in te dien om die NVG te dwing om ’n besluit te neem oor vervolging as hulle te lank sloer.

Kriel sê AfriForum het reeds persone in gedagte wat hulle sou wou vervolg indien die NVG dit nie doen nie. “Ons sal nie nou name wil bekend maak nie.”

AfriForum verwys in ’n verklaring wat vandag uitgereik word en wat Rapport onder oë gehad het na “hooggeplaaste ANC-lede wat nié amnestie van die WVK ontvang het vir die opdragte wat hulle destyds vir die uitvoer van terreurdade gegee het nie”.

Hooggeplaaste ANC-lede, bekend as die ANC 27, het destyds by die WVK vir amnestie aansoek gedoen. Hul aansoeke is egter om tegniese redes afgewys, wat hulle aan vervolging blootstel.

Ingevolge die Wet op die Bevordering van Nasionale Eenheid en Versoening, wat ná 1995 die werk van die WVK gereguleer het, kon die WVK amnestie aan enige applikant toestaan wat ’n oortreding begaan het in die najaag van politieke doelstellings en wat alle relevante feite oor hul misdade bekend gemaak het.

Dit is ingevolge dié wet wat die sogenaamde ANC 27 aansoek gedoen het vir amnestie en dit nie gekry het nie.

’n Mini-dokumentêre rolprent wat AfriForum vandag oor die vervolgings uitreik, Equality Before the Law: Apartheid Crimes of the ANC, bied verdere leidrade oor wie AfriForum dalk in hul visier het. In die rolprent van 17 minute vertel genl. Siphiwe Nyanda, voormalige hoof van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) en oud-MK-lid, onder meer hoe en waarom die ANC destyds besluit het plaasboere is “legitieme teikens” in die vryheidstryd omdat baie van hulle die apartheidsregering gehelp het.

Die rolprent bevat ook die WVK-getuienis van Dirk van Eck, wat drie lede van sy gesin verloor het toe sy bakkie in 1985 ’n landmyn afgetrap het tydens ’n wildbesigtigingsrit op ’n private wildplaas in Limpopo.

Van Eck en sy enigste oorlewende seun, Erick, het in 2007 reeds daarop aangedring dat die ANC-leiers wat opdrag gegee het vir Operasie Kletswayo – waarkragtens die landmynaanval uitgevoer is – vervolg word.

Van Eck is intussen oorlede.

Genl. Johan van der Merwe, die laaste polisiekommissaris van die apartheidsjare en die eerste van die demokratiese Suid-Afrika (1990-1995), sê in die dokumentêr dit is welbekend dat Suid-Afrika “vir meer as 30 jaar gewikkel was in ’n bloedige revolusionêre oorlog teen ’n vyand wat onder meer militêre opleiding ontvang het in Sowjet-Rusland”.

Die ANC se onmag om die SAW teen te gaan, het eers gelei tot aanvalle op “sagte” burgerlike teikens, en later tot ’n “oorlog van die mense” in swart gemeenskappe waarvan die doel was om die land onregeerbaar te maak.

“Hulle het besluit om glad nie meer enige onderskeid te tref tussen sagte en harde teikens nie,” sê Van der Merwe.

Die Kerkstraat-bom in Mei 1983 word in die dokumentêr uitgesonder, wat vrae voor die WVK herhaal oor wie opdrag gegee het vir die plant van die bom, wat die lewe van 19 mense geëis het.

Lt.kol. Philani Nkwalase, woordvoerder van die Valke, sê 34 oudpolisiebeamptes werk hard aan die sake. “Ons kan nie in hierdie stadium name of besonderhede van enige misdade bekend maak nie omdat ons bang is dit kan die ondersoek in gedrang bring.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.