Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Die polisie het speurder in die steek gelaat’

Die polisie het nie genoeg gedoen om een van die Kaap se topspeurders, wat Vrydag voor sy huis in ’n sluipmoordaanval vermoor is, te beskerm nie, het die minister van polisie, Bheki Cele, Saterdag gesê.

Die minister van polisie, Bheki Cele, by Nicolette Kinnear en haar seuns, Carlisle en Casleigh, by hul huis in Bishop Lavis. Foto: Edrea du Toit

Hy het langer as ’n uur saam met die familie van lt.kol. Charl Kinnear in hul huis in Bishop Lavis deurgebring voordat hy buite die huis met joernaliste gepraat het.

Kinnear is Vrydagmiddag vyf keer voor die huis geskiet deur ’n aanvaller in ’n rooi sweetpaktop. Bure van Kinnear het die man agternagesit, maar hy het weggehardloop.

Kinnear, ’n lid van die Kaapse teen-bende-eenheid, was een van die land se topspeurders wat aan verskeie hoëprofielsake gewerk het. Rampokkers in die Kaapse onderwêreld het hom gereeld met die dood gedreig. Verlede jaar het ’n hit list uitgelek waarop sy naam was en in November is ’n man met twee handgranate buite sy huis betrap en in hegtenis geneem.

Die polisie het toe 24 uur-beskerming vir hom en sy gesin gereël, maar dit is in Januarie onttrek. Sy vrou, Nicolette, het destyds ’n emosionele pleidooi in die media vir beskerming vir haar gesin gelewer. Dit is onbeantwoord gelaat.

Polisiebronne sê Kinnear was die afgelope Maandag in Gauteng waar hy “verdoemende” getuienis ingesamel het wat Kaapse polisielede by misdaad betrek. Bronne sê “verdagte” persone is Woensdag reeds buite die Kinnears se huis opgemerk.

Hy was jare lank op Modack se spoor.

Die vermoede is dat daar dalk reeds dié aand ’n aanslag op Kinnear se lewe sou wees.

Hy was onder meer jare lank op die spoor van een van die mees berugte lede van die Kaapse onderwêreld, Nafiz Modack.

Modack en van sy meelopers, Colin Booysen, Jacques Cronjé en Ashley Fields, is onlangs onskuldig bevind op aanklagte dat hulle ’n restaurant in die Kaapse Waterfront vir beskermingsgeld afgepers het in ’n ondersoek wat Kinnear gelei het.

Hy was ook betrokke by die saak waarin die polisie ’n sindikaat blootgelê het wat vuurwapenlisensies verkoop. Dié ondersoek het gelei tot aanklagte van bedrog en regsverydeling teen Modack en sowat 20 ander mense, onder wie ’n paar polisiebeamptes. Modack is uit op R10 000 borgtog in verband met dié saak.

Kinnear was ook die ondersoekbeampte in die moord op adv. Pete Mihalik wat verskeie Kaapse bendelede as kliënte gehad het. Mihalik is in 2018 in Groenpunt vermoor terwyl hy sy kinders by die skool afgelaai het. Drie mans staan tereg weens dié moord.

Nadat die minister van polisie Saterdag die Kinnear-familie ontmoet het, het hy die media saam Nicolette en haar seuns, Carlisle en Casleigh, te woord gestaan.

Lt.kol. Charl Kinnear

Skaars vyf meter van waar die familie gestaan het, het die glasstukkies van haar man se motorruit nog gelê – stil getuienis van die oomblik toe die sluipmoordenaar Vrydagaand op hom losgebrand het terwyl hy gewag het dat sy afstandbeheerde hek oopgaan.

Drie veiligheidskameras voor teen sy huis is na die straat gerig.

Sy gesinslede het die knalle gehoor en hulle na buite gehaas. Ander inwoners het die aanvaller agternagesit, maar hy het in die nabygeleë Malawi-plakkerskamp verdwyn.

Cele het Kinnear se lof besing en gesê hy was “ ’n goeie man, die beste van die beste”. Hy het gesê die polisie sal beter moet saamwerk en alle hulpbronne gebruik om met die onderwêreld af te reken.

“Op sigwaarde lyk dit asof ons kol. Kinnear in die steek gelaat het. Die polisie kon dinge beter gedoen het . . . Ons moet dit regstel.”

Hy het gesê hy het Vrydag reeds die kwessie aan pres. Cyril Rama-phosa geopper en aan hom gesê dat “die saak hier (in die Kaap) ernstig is”.

Oor Nicolette se bekommernis oor haar gesin se veiligheid het Cele gesê: “Sy het ’n sterk saak gemaak en gesê sy wil nie hê dat haar eggenoot net deel van die statistieke moet word nie. Hulle wil weet wat gebeur het.

“Ons gaan daaraan werk.

“Daar is so baie vrae. Die man was onder bedreiging, die hele tyd. Daar sal ’n ondersoek moet wees oor hoekom hy beskerming gehad het en waarom dit weggeneem is. Laat ons eers die feite kry. Koppe sal moet rol as ons uitvind wat gebeur het.”

Cele het gesê hy is verbaas oor die Wes-Kaap se kwansuise tekort aan hulpbronne. Hy het gesê polisielede van ander provinsies is ingebring en ’n teen-bende-eenheid is gestig.

Verlede jaar is 5 000 rekrute opgelei waarvan 1 200 van die Wes-Kaap gekom het. Die polisiebronne in die Wes-Kaap is genoegsaam.

 Kinnear se vrou het Saterdag gesê haar man het vir sy werk gelewe en tot die bitter einde volgehou. Sy het haar gestorwe man se kollegas aangespoor om vas te staan en nie afgeskrik te word deur haar man se dood nie.

Sy en haar seuns was nog altyd bang dat booswigte hulle sou probeer bykom. Haar man het sy seuns egter geleer dat as jy vir niks in die lewe staan nie, jy vir enigiets val.

Senior polisielede het gesê hulle neem die minister se beloftes maar met ’n knippie sout. Een speurder met meer as 35 jaar ervaring het Saterdag wrang aan Rapport gesê: “Só word een ná die ander uitgewis of verlaat die diens. Daar’s geen backup om ons te beskerm nie. Geharde misdadigers voltooi hul vonnisse en die dag wanneer hulle vrygelaat word, begin jou as ondersoekbeampte se vonnis van vrees, want jy weet nie of jou naam volgende op daai lys is nie.”

Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, het Vrydag ’n “72 uur-aktiveringsplan” in werking gestel om Kinnear se moordenaar te probeer aankeer. Die span staan onder leiding van die provinsiale polisiekommissaris, lt.genl. Yolisa Matakata, en sluit lede van misdaadintelligensie, forensiese kenners, die Valke en taktiese eenhede in.

Modack het Vrydag aan Netwerk24 gesê hy het niks met Kinnear se dood te doen nie.

Meer oor:  Nicolette Kinnear  |  Colin Booysen  |  Bheki Cele  |  Nafiz Modack  |  Charl Kinnear  |  Pete Mihalik  |  Polisie  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.