Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Die rower, die boer en die ‘taxibrigade’

’n Boer van Kinross naby Secunda in Mpumalanga kan steeds nie glo wat hom verlede week in eMalahleni (Witbank) oorgekom het nie.

Hy het nog gedink hy is nou maar deel van die misdaadstatistieke toe sy selfoon gesteel word, maar wat daarop gevolg het, het Facebook-gebruikers se verbeelding aangegryp.

Kosie van der Merwe (40) se Facebook-inskrywing oor die voorval is al meer as 5 000 keer gedeel.

“As iemand my dít sou vertel, sou ek sê ag, bog man, dit kan nie wees nie. Dit wys jou net almal is moeg vir rassisme en misdaad.”

Van der Merwe, wat met beeste en saailinge boer, sê hy was verlede week in Witbank waar hy ’n eksamen vir sy vlieglisensie moes gaan aflê. By ’n verkeerslig het ’n man ’n sigaret by hom kom bedel.

“Normaalweg sluit jy mos jou deure, maar my venster was oop. Ek het vir hom gesê ek rook nie.”

Hy is onkant betrap toe die man ’n mes uitpluk. “Ek het nie ’n kans gehad nie en toe gee ek maar vir hom my foon.”

Van der Merwe sê die passasiers in ’n taxi langs hom by die verkeerslig het die rower begin uitskel. Hy het ’n U-draai by die verkeerslig gemaak in ’n poging om die rower agterna te sit.

Die skelm het egter in ’n taxistaanplek daar naby verdwyn en Van der Merwe het daarmee vrede gemaak dat hy nooit weer sy foon sal sien nie. Hy het vliegveld toe gery.

Daar gekom, het hy sy vrou van iemand anders se selfoon gebel om haar te vertel wat gebeur het.

“Sy sê toe vir my daai ouens (in die taxi) het my foon by die rower afgevat en haar gebel om te sê my foon is by die taxistaanplek en ek moet dit daar kom haal.”

Danksy ’n taxibestuurder en sy passasiers het Kosie van der Merwe sy gesteelde foon by ’n taxistaanplek in eMalahleni (Witbank) teruggekry. Foto: Facebook

Hy sê op pad terug na die taxistaanplek het hy oorweeg om eerder polisiekantoor toe te gaan.

Van der Merwe het stilgehou om aanwysings te vra toe ’n man langs sy rooi Hilux-bakkie stop en vra of dit hy is wat na sy selfoon soek.

“Die man spring toe langs my in en sê hy sal my soontoe neem. ’n Mens het sulke vooropgestelde idees, maar hy het my gerus gestel dat taxi-mense goeie mense is.”

By die taxistaanplek is hy onder luide toejuiging verwelkom.

“Hulle het gecheer en gefluit en toe my foon vir my teruggegee. Hulle het ook die mes, waarmee die man my gedreig het, aan my gewys. Hulle het die wit waks uit hom geslaan.”

Hy sê dis ’n Okapi-mes met ’n lem van 15 cm.

Die mans het hom gevra of hy nie vir hulle koeldrank vir hul heldedaad gaan koop nie.

Van der Merwe is saam met hulle na ’n nabygeleë kitsbank en het R400 vir hulle getrek.

Meer oor:  Secunda  |  Witbank  |  Rower  |  Taxi  |  Selfoon  |  Boer  |  Rooftog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.