Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dié rowers soek groot geld

Transitorooftogte het die laaste tyd die lewe van etlike mense geëis en kenners meen dié soort rooftogte gaan toeneem. Raymond Willemse het ondersoek ingestel.

Daar was die laaste tyd ’n drastiese toename in transitorooftogte omdat dié rowers moet “opmaak” vir die verlore geleenthede toe die land onder vlak 5 van inperking was.

So sê prof. Christiaan Bezuidenhout van die departement maatskaplike werk en kriminologie aan die Universiteit van Pretoria (UP). Hy waarsku dié soort rooftogte gaan in die feestyd toeneem.

Volgens Bezuidenhout is daar wêreldwyd ’n toename in rooftogte in die vakansietyd, maar vanjaar het Covid-19 ’n bykomende rol gespeel. “Onder vlak 5 van die inperking kon die ouens nie buit nie. Nou moet hulle opmaak daarvoor.”

Die toneel van ’n transitorooftog op 30 Oktober vanjaar in Roodepoort waar rowers die agterkant van die voertuig met plofstof oopgeblaas het. Foto: ER24

Dit is ook waarom daar – namate die inperkingsmaatreëls sedert Junie verslap is – ’n toename was in transitorooftogte.

Dr. Hennie Lochner, oudpolisiebeampte en skrywer van Transito: The Truth Behind the Big-Money Robberies, sê rowers het al “sowat 13 maande gelede” vir dié Kersfees beplan.

“Hulle wil hul weelderige leefstyl behou en gaan met mening toeslaan,” voorspel hy.

Dit strook ook met die verwagting van die transitovereniging van Suid-Afrika (Citasa). Grant Clark, woordvoerder van dié vereniging, sê daar is ’n verwagting dat misdaad in die algemeen in die feestyd gaan toeneem. Dit word toegeskryf aan ’n kombinasie van faktore, waaronder die Covid-19-pandemie en die hoë werkloosheidskoers.

Koeëlgate in ’n voertuig van die verkeerspolisie ná ’n transitorooftog in Bekkersdal aan die Wes-Rand op 10 November vanjaar. Twee mense is in die voorval dood. Foto: DEAAN VIVIER

“Citasa werk baie nou saam met wetstoepassers en die veiligheidsmaatskappye wat geld vervoer om hierdie misdade noukeurig te monitor en alles moontlik te doen om die oortreders van hierdie gewelddadige voorvalle vas te trek.”

Van Mei tot November is 167 transitorooftogte landwyd aangemeld, waarvan die meeste (72) in Gauteng was. Hiervan was 45 sedert Augustus.

Wahl Bartmann, uitvoerende hoof van die Fidelity-groep, sê die toename die afgelope drie maande is onaanvaarbaar hoog.

“Die styging het in Augustus begin, twee maande voor die tradisionele jaarlikse November-piek, met Mpumalanga en Gauteng wat die ergste deurgeloop het. Daar heers kommer dat hierdie neiging nog verder kan styg hoe nader ons aan die Kerstyd kom. Ons toegewyde elite-eenhede is aktief betrokke by die versameling van inligting en hulpbron-ontplooiing en werk nou saam met die polisie en ander belangrike rolspelers. Ons moet die sindikate agter hierdie aanvalle vasvat,” sê Bartmann.

’n Woordvoerder van G4S sê hulle het die afgelope twee maande ’n afname in transitorooftogte gehad en daar is vanjaar ook minder kontant van hulle geroof teenoor die vorige paar jaar.

“Dit word toegeskryf aan die beduidende beleggings wat gedoen is om sowel werknemers as kontant te beskerm. G4S belê ook voortdurend in bedryfstelsels, tegnologie en opleiding, wat die inwerkingstelling van voertuigtegnologieë insluit. Ons het ook ons taktiese ondersteuningspanne vergroot. Hoewel die geldverlies minder is, bly die getal aanvalle in die bedryf steeds hoog.

“Tragies genoeg het drie G4S-wagte die afgelope jaar hul lewe verloor.”

Clark sê hulle maak nie bekend hoeveel geld ten tyde van transitorooftogte gesteel word nie.

“Kontantverliese neem wel jaar ná jaar af omdat misdadigers nie altyd toegang tot die kluise kan kry nie danksy verbeterings wat deur die bedryf aangebring is.”

Hulle het geen berou as hulle iemand skiet nie. Lewensverlies is nie vir hulle ’n probleem nie en daar is nie empatie nie.

Bartmann spreek sy kommer uit oor die beserings en sterftes in die transito-sektor. Volgens hom is 79 werkers vanjaar reeds gewond of beseer en 12 het gesterf.

Lochner sê die publiek sal nooit weet presies hoeveel geld in dié soort rooftogte gebuit word nie.

Wat hy wel kan sê, is dat transitorowers hulle nie ophou met klein bedrae nie. “Hulle gaan vir groot geld.”

Prof. Rudolph Zinn, kriminoloog verbonde aan Unisa, sê hoewel dit lyk of hierdie rowers optree soos mense met militêre opleiding, is dit nie die geval nie.

“Die meeste van hulle is ge­wone rowers wat oor die jare heen ‘goeie opleiding’ in hul misdaadloopbaan opgedoen het. Dis ouens wat met kleiner misdade, soos winkeldiefstal, begin het en nie gevang is nie. Oor tyd word hulle meer ervare en meer aggressief en hulle sluit by ander groepe aan waar hulle verdere ondervinding opdoen. Dis amper soos ’n kweekskool.”

Lochner sê om ’n transitorower te wees, “is die room van die oes in die misdaad-hiërargie”.

“Hulle het ’n lang misdaadgeskiedenis en het gegroei in hul misdaadloopbaan. As jy ’n transitorower is, het jy dit as ’n misdadiger gemaak.”

Vir sy boek het Lochner, voormalige senior lektor in forensiese en misdaadondersoek aan Unisa, onderhoude met 21 veroordeelde transitorowers gevoer om hul modus operandi te probeer verstaan.

“Als word tot in die fynste besonderhede beplan. Hulle kyk hoe die veiligheidswagte uit die voertuig klim, watter hand op hul geweer rus en versamel inligting oor die roete.

“Hulle agtervolg ook die voertuie om te sien hoe hulle reageer op die pad en watter wegkomroetes daar is. Die motors wat hulle gebruik, is gesteel of gekaap.”

Transitorowers is volgens Lochner ook nie verbonde aan ’n spesifieke gebied nie. “Hulle pleeg oor die land heen dié misdrywe.”

Moenie sit en kyk wat gebeur nie. As jy ’n geleentheid het om weg te kom en dit lyk veilig, raak weg.

Volgens Bezuidenhout het elke rower in die sindikaat ’n spesifieke funksie. “Hulle het binnekring-inligting en slaan met presisie toe. Hulle weet watter motors die geldwa oppas. As die een motor die geldwa slaan, slaan die ander voertuie die veiligheidsmaatskappy se voertuie wat die geldwa oppas.

“Hulle het grootkaliber-vuurwapens en is ten volle gewapen. Hulle het geen berou as hulle iemand skiet nie. Lewensverlies is nie vir hulle ’n probleem nie en daar is nie empatie nie.”

Lochner sê so ’n sindikaat tree op soos ’n goed geoliede masjien. “Die taakverdeling is ook ’n baie belangrike aspek binne die groep. Elkeen word gekies volgens hul vaardighede, hetsy dit is om ’n wapen te hanteer, vorige ondervinding of om die wegkommotor te bestuur.”

En nadat die buit verdeel is, begin elke rower weer ’n nuwe teiken soek. “Sodra die teiken geïdentifiseer is, trek hulle weer mense nader om die misdaad uit te voer. Dis nooit dieselfde groep wat die misdrywe pleeg nie.”

Zinn sê binne so ’n sindikaat is daar ook nie baie vertroue nie. “As hulle twyfel oor een van die lede of hom daarvan verdink dat hy ’n informant is, hou hulle hom dop ten tyde van die rooftog. As hy nie optree soos hulle verwag hy moet nie, stel hulle hom op die toneel tereg. Dit stuur ’n boodskap aan ander om nooit te probeer kanse vat nie. As hulle bereid is om mekaar te skiet, is hulle ook bereid om lede van die publiek te skiet.”

Daarom, waarsku Lochner, Bezuidenhout én Zinn, moet die publiek nooit probeer om betrokke te raak by ’n transitorooftog nie.

Bezuidenhout sê die rooftogte gebeur in ’n oogwink.

“Moenie sit en kyk wat gebeur nie. As jy ’n geleentheid het om weg te kom en dit lyk veilig, raak weg. As hulle jou sien, is jy ’n ooggetuie. Hulle kan jou eenvoudig uithaal omdat hulle nie ’n ooggetuie wil hê nie of jy kan per ongeluk in die spervuur beland. Hulle het hoëkaliber- outomatiese vuurwapens waarteen jy geen weerstand kan bied nie.”

Zinn sê as ’n lid van die publiek ’n vuurwapen by hom het, moet hy nie dapper probeer wees en betrokke raak nie. “Daar is ’n onbekende aantal rowers om jou wat swaar gewapen is. Hulle kan jou dalk vir ’n wag aansien en jou skiet. Die veiligheidswagte weet ook nie waar jy inpas nie.”

Transitorowers is genadeloos, sê Lochner. “Hulle sal nie huiwer om iemand dood te skiet wat in die pad is nie. Moet geen weerstand bied nie.”

Meer oor:  Transitorooftogte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.