Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Slagoffers sal dalk gou kan eis van verkragters

Slagoffers van verkragting en ander vorme van geweldsmisdade sal binnekort ook met die hulp van die staat siviele eise teen hul oortreders kan instel.

Lindiwe Zulu Foto: Daily Sun

Dit is as die voorgestelde Wetsontwerp oor Ondersteuningsdienste vir Slagoffers as wet bekragtig word.

Lumka Oliphant, woordvoerder vir die departement van maatskaplike ontwikkeling wat dié wetsontwerp ontwikkel het, het Maandag bevestig dat dit op 17 Julie in die Staatskoerant vir openbare kommentaar gepubliseer is.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het op 13 Julie op ’n nuuskonferensie gesê haar departement het in die lig van die hemelhoë voorkoms van geslagsgeweld en die moorde op vroue en kinders in Suid-Afrika die wetsontwerp en beleid daaroor ontwerp.

Sy het toe ook gesê die kabinet het dit reeds goedgekeur en dat dit wetgewende leiding vir ondersteuningsdienste aan slagoffers sal verskaf.

Luidens die wetsontwerp is geslagsgeweld, moorde en mishandeling van vroue en kinders ’n groot probleem in Suid-Afrika.

Dit lui verder dat daar verskeie staatsorgane is wat dienste aan slagoffers van geweldsmisdade verskaf. “Daar is egter ’n gaping in die regstelsel omdat die stelsel net op die oortreder fokus, en die slagoffer word dikwels geïsoleerd gelaat.

“Die doel van die wetsontwerp is daarom om die slagoffer sentraal in die regstelsel te bring om te verseker dat die regte vir oortreders ook uitgebrei word na slagoffers waar dit van toepassing is.”

Dit lui verder dat daar van die Regshulpraad van Suid-Afrika verwag word om ook regshulp en advies aan slagoffers te verskaf sodat hulle eise teen oortreders kan indien.

“Dit is in die konteks daarvan dat ’n beskuldigde ’n reg tot regsverteenwoordiging het wat deur die staat betaal word as hy of sy dit nie self kan betaal nie.

“Dié wetsontwerp erken hierdie teenstrydigheid in die regstelsel en vereis dat ’n slagoffer ook geregtig moet wees op regsverteenwoordiging wanneer ’n slagoffer besluit om ’n oortreder vir skadevergoeding te dagvaar.”

Dit is in die konteks daarvan dat ’n beskuldigde ’n reg tot regsverteenwoordiging het wat deur die staat betaal word as hy of sy dit nie self kan betaal nie.

Dit lui verder dat die polisie onder meer private slagoffer-vriendelike gebiede by elke polisiekantoor moet hê, slagoffers moet inlig as ’n verdagte in hegtenis geneem of vrygelaat word, van die vordering van die ondersoek op die hoogte moet hou en van hofdatums moet voorsien.

Verder vereis dit van die nasionale vervolgingsgesag om slagoffers behoorlik voor te berei om as getuies te verskyn, terwyl slagoffers ook ingelig moet word oor die besluit om te vervolg of nie, sowel as van hofdatums en -uitsprake.

Luidens die wetsontwerp moet die departement van korrektiewe dienste onder meer ook die slagoffer inlig in watter gevangenis die oortreder aangehou word, ’n geleentheid bied om aan paroolverrigtinge deel te neem en ingelig moet word wanneer oortreders uit die tronk vrygelaat sal word.

Themba Masango, hoofsekretaris van die burgerregte-organisasie #NotInMyName wat hom ook teen geslagsgeweld beywer, het Maandag die wetsontwerp beskryf as “ ’n groot stap in die regte rigting omdat slagoffers dikwels nie die ondersteuning kry wat regshulp van die staat betref nie”.

“Baie sake word dikwels weens die gebrek aan staatshulp vir slagoffers onsuksesvol vervolg. Dit is hoog tyd dat slagoffers dieselfde staatshulp as oortreders kry,” het hy gesê.

Meer oor:  Lindiwe Zulu  |  Lumka Oliphant  |  Verkragting  |  Slagoffers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.