Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Dief’ binne-in polisiekantoor betrap

Meeste misdadigers probeer sover moontlik ’n polisiekantoor vermy, maar een veroordeelde inbreker in die Oos-Kaap het sommer die polisiekantoor sy teiken gemaak.

Dié brawe inbreker is Donderdag in die vroeë oggendure op heterdaad betrap terwyl hy glo rekenaartoerusting by die polisiekantoor wou steel.

Volgens die polisie se inligting het ’n 32-jarige man kort ná middernag by die Stormsrivier-polisiekantoor toegeslaan, deur oor die grensdraad aan die agterkant van die kantoor te klim.

Die man het ’n venster by die administrasieafdeling oopgedwing en die gebou binnegegaan.

Terwyl hy toegang tot die gebou verkry het, was hy salig onbewus van polisiebeamptes wat hom op kringtelevisie dophou.

Stormsrivier-polisiekantoor
Die Stormsrivier-polisiekantoor. Foto: Google Maps

Sers. Majola Nkohli, polisiewoordvoerder, sê die man is in ’n kantoor vasgetrek terwyl hy blykbaar besig was om ’n rekenaar te ontkoppel.

“Die polisie het ook twee geheuestokkies in sy broeksak teruggekry. Die voorlopige ondersoek dui daarop dat die geheuestokkies aan ’n beampte behoort wat by die polisiekantoor werk,” sê Nkohli.

Of die geheuestokkies vir persoonlike doeleindes of amptelike polisiewerk gebruik word, sal deel van die ondersoek vorm.

Dit blyk ook die man het nie die polisiekantoor geteiken om dossiere te steel nie, aangesien hy nie naby die speurders se kantore was nie.

Nkohli sê die verdagte, wat reeds drie vorige veroordelings van huisbraak en diefstal het, sal Vrydag in die landdroshof in Humansdorp op aanklagte van huisbraak en diefstal voorkom.

Volgens die polisie se inligting is die man in 2010 skuldig bevind en tot drie jaar tronkstraf gevonnis. Sedertdien het hy blykbaar verskeie keer met die gereg gebots.

Brig. John Lebok, bevelvoerder van die Humansdorp-polisiegebied, het Donderdag die polisielede vir hul oplettendheid geloof en sê: “Dit is goed om die paraatheid van die lede te sien wanneer misdadigers aan hul voordeur kom klop.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.