Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
'Diesel' is rowers se gunsteling
Albert Mashigo, winkelbestuurder van Global Brands, beduie aan Clint Hardiman, bedryfsbestuurder, hoe die een rower ’n vuurwapen op hom en sy kollegas gerig het. Foto: THAPELO MAPHAKELA

Die rowers met ’n oog vir ’n duur handelsnaam-denim het presies geweet waarvoor hulle gekom het.

Terwyl personeel van die Global Brands-klerewinkel by die Atterbury Value Mart in die ooste van Pretoria vasgebind saamgebondel is, het die aanvallers sakke en sakke vol klere, spesifiek dié met die Diesel-handelsnaam, gepak.

Van die sakke was so swaar gelaai, hulle moes dit sleep.

Twee buitsakke wat te swaar was om mee te vlug, is in die winkel gelaat, sowel as die werknemers se “gekonfiskeerde” selfone – wat die rowers so ewe belowe het om te los.

“Helder oordag, net ná oopmaaktyd, omring deur ander winkels en mense. Hulle het sommer reg voor die winkel met ’n Toyota Quantum (minibus) stilgehou. Niks keer hulle om die ander winkels hier te teiken nie,” het Clint Hardiman, bedryfsbestuurder, Woensdag gesê.

Traumaberaders en paramedici was teen die middag steeds besig met die werknemers.

Niemand is fisiek beseer nie, maar almal was nog bleek en bewerig.

Albert Mashigo, winkelbestuurder, sê omstreeks 09:10 het drie mans die winkel binnegekom.

Ongewapen.

“Hulle is reguit na die Diesel-afdeling, daar waar ons duur goed is,” sê hy.

Die Global Brands-winkel was Woensdag ná die rooftog vir die res van die dag gesluit sodat werknemers traumaberading kon kry. Foto: THAPELO MAPHAKELA

Dit is ’n aparte, half-afgeskorte afdeling waar een denim maklik R2 000 kos.

Kort ná dié drie het ’n vierde man ingekom en ’n verkoopsman gevra of die uitverkoping van Jeep-klere nog aan die gang is.

“Die werker het na my gekom om dit te bevestig. Ek het om die toonbank gestap.

“Toe kom nog twee mans ingestap. Hulle het gevra of hulle hul sakke by die winkel kan invat of hier voor moet los.

“Die een het sy sak op die toonbank gesit en ’n vuurwapen uitgehaal.”

Die ander man het ook ’n wapen op die werknemer agter die toonbank, sowel as op ’n kliënt, gerig.

“Ek dink in totaal was daar agt rowers. Hulle het ons na die agterkant van die winkel gestoot, met kabelbinders vasgebind en in ’n bondel gedruk,” sê Mashigo.

Hardiman sê die rowers het toe so ewe ’n stuk papier gevat, daarop geskryf: “Shop closed due to stocktaking” en dit op die deur geplak.

’n Vrou het van buite aan die deur geklop om te hoor wanneer die winkel sou oopmaak.

“Die rowers het sowaar vir haar oopgesluit, gesê die uitverkoping-goed is agterin die winkel en haar soontoe begelei! Sy het besef iets is verkeerd en haar in een van die aantrekhokkies toegesluit,” sê Hardiman.

Daarna is rak op rak Diesel-klere kaal gestroop.

Clint Hardiman, bedryfsbestuurder, en Albert Mashigo, winkelbestuurder van Global Brands, wys die twee reuse-sakke wat die rowers moes agterlaat omdat dit te swaar gelaai was. Foto: THAPELO MAPHAKELA

Hulle het vergeet om die een werknemer, wat tussen die ander ingebondel was, vas te bind.

“Hy het, nadat die rowers weg is, hulp ontbied,” sê Mashigo.

Hulle sal Donderdag kyk hoeveel skade die winkel gely het.

“Maar nou moet ons mense eers berading kry en medies ondersoek word. En ons moet die veiligheid van die winkel opskerp,” sê Hardiman.

Meer oor:  Pretoria  |  Diesel  |  Handelsname
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.