Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Diewe ‘met goeie smaak’ steel skilderye, matte

Diewe “met goeie smaak” het drie kunstenaars van die Vrystaat van bykans R200 000 se skilderye en Persiese matte besteel toe hulle by hul stalletjie op die Oesfeesmark op Bothaville toegeslaan het.

Hierdie skildery van ’n ou stoomtrein is twee meter lank en is een van Ben van Wyk se skilderye wat op die Oesfeesmark op Bothaville gesteel is.Foto: Verskaf

Die diewe het in die nag van 17 Mei 11 skilderye, waaronder ’n twee meter lange skildery van ’n stoomtrein, en 14 Persiese matte van Ben van Wyk (62) en sy seun Lourens van die Ben van Wyk-galery in Parys, en Corné Kapp (43), sy susterskind, gesteel.

Van die skilderye word teen tussen R12 00 en R15 000 verkoop en die waarde van die goedere wat gesteel is, beloop sowat R180 000, sê Van Wyk.

Lourens, wat saam met sy pa in hul ateljee in Parys werk, en Kapp het die Oesfeesmark, skuins oorkant Nampo se Noordhoek-parkeergebied, bygewoon en die stalletjie beman.

Die Oesfeesmark het niks met die Nampo Oesdag te doen nie.

Van Wyk het ses jaar gelede kanker gehad en is nou in remissie. Hy is egter steeds siekerig en het nie die fees bygewoon nie.

“Daar is ’n elektriese heining om die tent waarin ons uitstal en ’n veiligheidswag patrolleer ook. Die fees het Vrydag klaargemaak en ons was Saterdagoggend teen 07:00, toe die hekke oopmaak, daar om te laai.

Hierdie skilderye van Ben van Wyk is ook gesteel toe diewe op hul stalletjie op die Oesfeesmark toegeslaan het. Foto: Verskaf

“Dit was erg om ons stalletjie so te sien. Dit was kaal en van die ander skilderye was stukkend getrap. Dit moes in die nag gebeur het en die mense moes definitief vroeër kom kyk het wat hulle wou vat. Hulle was georganiseerd,” sê Van Wyk.

Nog ’n skildery wat gesteel is. Foto: Verskaf

Volgens hom moes die diewe van “groterige vervoer” gebruik gemaak het om al die kunswerke en matte te vervoer. Hy vermoed dat hulle ook ’n mark bedryf.

Van Wyk sê van die ander uitstallers wat ook kuns en matte verkoop, se stalletjies was onaangeraak.

“Die mense sê dit is ’n pluimpie omdat die diewe goeie smaak het. Dit is sleg en ’n geweldige terugslag vir ons. Nadat ek siek geword het, vat dit langer vir my om ’n skildery te voltooi,” sê hy.

Maryke Breytenbach van die Oesfees wou nie kommentaar lewer nie.

“Ons gaan nie betrokke raak nie, want dit het gebeur tydens die oppak van die stalletjies.”

Van Wyk sê hulle het foto’s van die skilderye wat gesteel is op hul Facebook-profiel geplaas om mense daaroor in te lig.

Ao. Loraine Earle, polisiewoordvoerder, het die diefstal bevestig en gesê niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die skildery van ’n rooi trekker van Lourens van Wyk is ook gesteel. Foto: Verskaf
Nog van Lourens van Wyk se skilderye wat gesteel is.Foto: Verskaf
Hierdie skildery van Corné Kapp is ook gesteel. Foto: Verskaf

Meer oor:  Bothaville
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.