Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Diewe val aan by monument

Net ure nadat ’n groepie Voortrekkers Vrydagaand by die Voortrekkermonument in Pretoria aangeval is, het gewapende rowers Saterdagoggend toegeslaan en veiligheidswagte by die toegangshek van kontant beroof.

Die Voortrekkers, ’n groepie laerskoolmeisies en hul vroulike offisier, was net klaar met ’n nagmars-avontuur toe hulle Vrydagaand omstreeks 22:00 aangeval is.

Bert Visser, senior bestuurder van operasionele dienste by die Voortrekkermonument, sê in die nagmars het die kinders leidrade gekry en hulle moes dan na goed soos gloeistokkies soek.

Hulle was sowat 50 m van hul kampeerplek op die piekniekterrein af toe ’n man met ’n doringtak uit die bosse op die groep afstorm.

Hy het die offisier met die tak geslaan en met haar handsak met haar selfoon in gevlug.

Lede van private veiligheidsmaatskappye het Vrydagnag op die terrein help soek na die oortreder. Hoewel die offisier se handsak en bankkaarte Saterdagoggend teruggevind is, is haar selfoon en kontant steeds weg.

Cecilia Kruger, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, sê die voorval is vir hulle baie sleg en hulle probeer nog agter die kap van die byl kom.

Dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers, sê die kinders is almal ongedeerd, maar hulle het berading gekry.

“Ons het reeds stappe gedoen om te verseker dat die kinders veilig is. Die kommando’s gebruik juis die terrein omdat dit veilig is. Hierdie voorval wys net weer dat ’n mens oral weerloos is.”

In Saterdagoggend se rooftog het vier mans en ’n vrou in ’n Volkswagen Golf by die hek aangekom en hul toegangsgeld betaal voordat hulle vuurwapens uitgehaal en die wagte beroof het.

Kruger het Saterdagmiddag gesê die grootste uitgawe by die monument is die koste van beveiliging.

“Ons karring nou al hoe lank aan die munisipaliteit vir ’n beter heining om die perseel. Dit is hul verantwoordelikheid om die heining te onderhou. Ons herstel egter die heining waar ons kan en probeer om dit so goed as moontlik te onderhou,” sê sy.

Môre sal hulle gaan sit en ’n strategie rondom die voorvalle beplan.

“Ons wil nie die Voortrekkers as ’n kliënt verloor nie,” het Kruger gesê.

Meer oor:  Pretoria  |  Diewe  |  Kontant  |  Aangeval  |  Beroof  |  Voortrekkers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.