Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dis hoës in polisie vs. Opod oor ‘was van geld’

Die onafhanklike polisieondersoekdirektoraat (Opod) vermoed oudpres. Jacob Zuma se voormalige hooflyfwag, genl.maj King Ngcobo, wou vinnig R45 miljoen met ’n geldwasslenter kry om stemme te koop op die ANC-konferensie by Nasrec.

Robert McBride, hoof van Opod.

Opod beweer dié transaksie is op die nippertjie op 14 Desember 2017 afgeweer nadat dit reeds in die verwerkingsfase was. Opod het in Desember ’n aansoek by die hooggeregshof in Pretoria ingedien om sekere polisiedokumente gedeklassifiseer te kry. Die aansoek moet nog aangehoor word.

Robert McBride, hoof van Opod, sê in hofstukke hulle het die dokumente nodig om drie ondersoeke te doen oor die polisiebestuur se bande met I-View Integrated Systems. Opod vermoed dis ’n korrupte verhouding.

McBride sê genl. Khehla Sitole, polisiehoof, weier of bly in gebreke om die dokumente te deklassifiseer.

Hy sê Sitole, Bongani Mbindwane (toe adviseur van die destydse polisieminister Fikile Mbalula), lt.genl Lebeoana Tsumane (adjunk- nasionale kommissaris: misdaadopsporing) en lt.genl Francinah Vuma (adjunk- nasionale kommissaris: bestuursadviesdienste) was almal op 13 Desember 2017 op ’n vergadering met I-View in ’n hotel in Pretoria.

Ngcobo was by as die polisie se waarnemende hoof van misdaadintelligensie. Zuma het Ngcobo vier maande voor die ANC-konferensie in dié pos aangestel.

McBride sê die groep het die “noodaankope” by I-View van ’n selfoon-spioenasietoestel teen R45 miljoen bespreek, terwyl dit tussen R7 miljoen en R10 miljoen op die mark kos.

Opod het in Mei 2018 in die landdroshof in Pretoria vergeefs dagvaardings teen Sitole, Vuma, Tsumane en Mbindwane verkry om dokumente te deklassifiseer voordat hulle dit aan Opod gee.

Die vier daag nou die dagvaardings teen hulle in die hooggeregshof uit. Hulle meen die dagvaardings is onwettig, want dit dwing hulle om intelligensie-inligting bekend te maak wat die nasionale veiligheid kan bedreig.

McBride-hulle sê dis bog. Die inligting gaan oor vermoedelike misdaad, spesifiek tenderbedrog. Die polisie het die dokumente juis geklassifiseer om die vermoedelike misdade toe te smeer, sê hy.

McBride vra die hof om te verklaar dat Sitole-hulle hul plig versuim het deur nié dokumente aan Opod te gee nie.

Volgens Opod het hulle inligting van ’n bron gekry dat Ngcobo destyds misdaadintelligensie se regsdienste gevra het om die aankoop van die toestel teen R45 miljoen aan te beveel en dat dié geld “glo gewas moes word om stemme te koop by die ANC-konferensie”.

McBride sê daar was geen noodsaak vir dié grabber-toestel nie.

Opod het Sitole op 15 Desember 2017 gebel en gesê die betaling moet dadelik beëindig word.

McBride sê misdaadintelligensie se aankope van goedere en dienste by I-View het die staat tussen 20 Desember 2016 en 31 Maart 2017 R54 miljoen gekos.

Opod se eerste ondersoek gaan oor R33 miljoen wat in Desember 2016 aan I-View betaal is vir sogenaamde Ripjar-sagteware om so­siale netwerke dop te hou tydens die #FeesMusstFall-protesoptogte.

McBride sê geen normale tenderprosesse is hiervoor gevolg nie. ’n Kwotasie is van I-View verkry, asook nog een van die maatskappy Perfect Source Solutions, “wie se direkteur die vrou is van I-View se alleendirekteur”.

Die R33 miljoen is oorbetaal sonder ’n kontrak met I-View.

“Daar is geen bewyse dat die diens deur I-View gelewer is nie. Daar is geen bewyse dat Ripjar ooit geïnstalleer is nie.”

Misdaadintelligensie het einde 2016 R21 miljoen aan I-View betaal vir die Daedalus-stelsel, om Opod se monitering van selfoonkommunikasie te blokkeer, sê McBride.

Daedalus kodeer SMS’e en oproepe. Opod glo dit was om sy naspeuring te keer van kommunikasie tussen lt.genl. Khomotso Phahlane, voormalige polisiehoof, en speurders van Noordwes, onder leiding van genl.maj Jan Mabula.

McBride sê Phahlane het die speurders aangestel as teenvoeter vir Opod se ondersoek vir beweerde bedrog en korrupsie teen hom.

Die tweede ondersoek gaan oor die grabber. McBride sê senior polisielede het bevestig Sitole-hulle en Ngcobo wou dié transaksie “deurdruk”, wat spanning tussen polisielede veroorsaak het.

Die derde ondersoek gaan oor die aankoop van koeëlvaste baadjies by I-View teen R33 000 per baadjie, terwyl die markprys tussen R5 000 en R10 000 is.

McBride sê hulle het vergeefs probeer om dokumente oor Ripjar en Daedalus by misdaadintelligensie te kry. Toe die inspekteur-generaal van intelligensie nie kon help nie, het die dagvaardings gevolg.

Meer oor:  Robert Mcbride  |  Jacob Zuma  |  Nasrec  |  Korrupsie  |  Anc  |  Opod
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.