Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dis sy laaste dag, dink bejaarde gedurende aanval
Peter Treichel (78) is verskeie kere geslaan, geskop, met ’n mes gesteek en met ’n kristalbak geslaan. Foto: Verskaf

WAARSKUWING: Van die foto's by die berig kan sensitiewe lesers ontstel.

“Vandag. Vandag gaan ek doodgaan.”

Peter Treichel (78) was verlede Donderdag oortuig dit is die einde toe twee mans hom kort voor middernag aangeval het.

Die oudsakeman is so hard met ’n swaar kristalbak oor die kop geslaan dat die dokter later glasstukke uit sy kopvel moes haal.

Hy is geskop, met ’n mes gesteek, met kookwater gegooi en by die trappe afgegooi.

“My pa het in daardie twee uur van die aanval iets soos vyf keer sy bewussyn verloor,” vertel sy dogter, Natascha.

“Hy bly in ’n kompleks in Menlyn Maine, Pretoria. Daar is hoë mure met elektriese draad buiteom. Sy erf het ’n palissadeheining en daar is diefwering voor elke venster. Hy het ’n alarmstelsel en ’n paniekknoppie. Wat meer moes hy doen om homself te beveilig?” vra sy.

Sy glo dit was Godsgenade en haar pa wat teenwoordigheid van gees bly hou het, wat sy lewe gered het.

“Hy is nog baie gedisoriënteerd. Sy bloeddruk en suikervlak bly hoog. Hy slaap nie, want hy kry nagmerries en bly die ding herleef.

“Hy glo die aanvallers wou hom doodmaak,” sê Natascha.

Treichel is oorval terwyl hy alleen tuis televisie gekyk het.

Hy bly in ’n kompleks in Menlyn Maine, Pretoria. Daar is hoë mure met elektriese draad buiteom. Sy erf het ’n palissadeheining en daar is diefwering voor elke venster. Hy het ’n alarmstelsel en ’n paniekknoppie. Wat meer moes hy doen om homself te beveilig?

Twee mans het die woning op ’n manier ingekom. Een was skraal, kort en jongerig. Die ander een was ’n “baie, baie” groot, ouer man.

“Hulle het hom met ’n swaar kristalbak oor die kop geslaan waar hy op die rusbank gesit het. Dit het gebreek, maar hy het nie sy bewussyn verloor nie. Hy het vanuit die rusbank probeer terugveg,” sê die dogter.

Een van die aanvallers het Treichel toe met ’n potplant oor die kop gemoker.

Die groter aanvaller het hom aan die nek gegryp, “asof hy my pa se nek wou breek”.

Natascha sê die aanvallers wou haar pa se trouring hê, maar hy kon dit nie afkry nie.

“Toe dreig die rowers om sy vinger af te sny. My pa het op sy vinger gespoeg om die ring af te haal.

“Terwyl hy op die vloer gelê het, het hulle hom geskop, op sy keel getrap en sy hande vasgebind – so styf, sy polse was geswel en swart gekleur.”

Bloedspatsels teen die muur by die trap waar Peter Treichel afgegooi is. Foto: Verskaf
Peter Treichel se huis was tot teen die mure en op die vloer langs die rusbank vol bloed nadat hy verlede week aangeval is. Foto: Verskaf

Treichel het haar vertel die aanvallers het in Engels bly maan: “Werk saam. Ons is professioneel. Ons gaan jou doodmaak.”

Iewers gedurende die nagmerrie-voorval is hy, hande steeds vasgebind, die trappe opgeneem om die kluis oop te maak. Natascha vermoed hy het dalk van skok die kode verkeerd onthou, want hy kon dit nie oopkry nie.

Weer is hy aangerand. Hy het die kode vir die rowers gegee, maar ook hulle was onsuksesvol.

“Hulle het toe gereedskap gesoek om die kluis uit die muur te breek. My pa het beduie waar hul dit sou kry. Hy het die heeltyd saamgewerk. Die groot man het na onder gegaan, teruggekom met die gereedskap en die ketel. Hulle het van die kookwater oor my pa se een arm en been gegooi.

“Hy het hulle toe gesê daar is kluissleutels in ’n laai onder. Hulle het hom by die trappe afgegooi. Hy het seker so ses, sewe trappe afgerol,” sê die dogter.

My pa is weerloos. Hoekom het hulle hom nie net vasgebind en gesê ‘bly hier ou man’ en sy goed gevat nie?

Op die onderste verdieping het die rowers Treichel se hande effens losser gemaak sodat hy die kluissleutel in die laai kon soek. Hy het die alarm se afstandbeheerder raakgevat en in sy sak gedruk.

Ten einde laas is Treichel se hande en voete aan mekaar vasgebind en hy is op die kombuisvloer gelaat met ’n kombers en stoel oor hom.

“Die rowers het vir hom gesê hy moet bly lê, hulle gaan terugkom om hom dood te maak,” voeg sy dogter by.

Die 78-jarige Peter Treichel kort ná die voorval. Foto: Verskaf

Toe dit stil raak, het Treichel die kans gewaag om sy hande los te wriemel totdat hy die alarmknoppie kon druk. Die veiligheidsmaatskappy het kort daarna opgedaag.

Die rowers is vort met elektroniese ware, sy trouring, die kluis en kontant.

Volgens Natascha was daar sedert 2018 verskeie inbrake in die kompleks, ook by Treichel. Dit is alles by die Brooklyn-polisie aangemeld. Dié slag, sê die dogter, is ’n saak van poging tot moord geopen.

“My pa is weerloos. Hoekom het hulle hom nie net vasgebind en gesê ‘bly hier ou man’ en sy goed gevat nie?” vra sy.

• Die polisie het nie op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Peter Treichel  |  Menlyn Maine
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.