Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dís waarom misdaad gedy in Rustenburg

Armoede, werkloosheid, ligging, vervoerroetes en baie immigrante.

Dit is van die bestanddele in die kookpot wat Rustenburg die misdaadhoofstad in Noordwes maak, sê prof. Christiaan Bezuidenhout, kriminoloog aan die Universiteit van Pretoria, en Marieta Kemp, direkteur van die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) se maatskaplike dienste.

’n Gebou brand in Januarie vanjaar in Rustenburg nadat xenofobiese geweld by ’n taxi-staanplek uitgebreek het. Foto: Facebook

Uit die polisie se misdaadstatistieke vir die 2017-’18-boekjaar wat pas bekend gemaak is, blyk dit Rustenburg is die gevaarlikste plek in Noordwes.

Bezuidenhout sê die meerderheid Suid-Afrikaners leef onder die broodlyn en dat dié armoede wat ook in Rustenburg voorkom, tot maatskaplike wanorde lei.

Kemp beaam dat maatskaplike werkers in Rustenburg die gevolge hiervan sien.

“Armoede en werkloosheid is ’n groot probleem hier, dit gaan gepaard met dwelm- en drankmisbruik. Ouers wat werk elders soek, los hul kinders dikwels by familie of vriende, waar hulle soms mishandel en gemolesteer word. Dit veroorsaak dat gesinstrukture uitmekaar val en ’n siek samelewing ontstaan (waarbinne misdaad gedy). Die enigste oplossing is die herstel hiervan deur werkskepping, en dat kinders skool toe gaan.”

So het dit in Rustenburg gelyk nadat xenofobiese geweld in Januarie vanjaar daar uitgebreek het.Foto: Facebook

Kemp sê baie werklose mense word ook ingetrek by gewelddadige optogte en betogings. “Maatskaplike werkers kan soms nie dienste gaan lewer nie omdat paaie in die omgewing (feitlik daagliks) toegemaak word weens gewelddadige protesoptrede. Die myne in die omgewing is ook ’n groot werkmag wat ’n rol speel in protesoptrede.”

Buiten armoede, maak Rustenburg se ligging en bevolkingsamestelling dit kwesbaar vir misdaad, sê Bezuidenhout.

Wat kwel die meeste in Rustenburg?

Rustenburg is een van 30 gebiede landwyd waar dié misdrywe die meeste voorkom:

  • Transito-rooftogte;
  • Seksuele misdrywe (dit het met 15% toegeneem sedert die vorige boekjaar);
  • Rooftogte;
  • Poging tot moord;
  • Roof met verswarende omstandighede;
  • Nie-huishoudelike rooftogte;
  • Brandstigting;
  • Eiendomsverwante misdrywe soos diefstal.

Aanrandings het die afgelope boekjaar met 13,7% in Rustenburg toegeneem.

“Rustenburg, die nabygeleë Sun City en Pilanesberg-natuurreservaat is groot ekonomiese sentrums naby arm gemeenskappe. Die N4-snelweg en verskeie nader hoofroetes loop deur of naby Rustenburg verby.

“Dit verskaf ontsnaproetes vir bendes wat van ander gebiede kom om misdrywe hier te pleeg, juis omdat hulle dit nie wil doen waar hulle woon nie. Die N4-hoofweg is ook ’n belangrike vervoerroete na Botswana, die res van Afrika en eindelik Europa en die Ooste – waarheen van mense tot dwelms, edelgesteentes, perlemoen en renosterhorings gesmokkel kan word. Geld word dikwels ook hierlangs vervoer. Baie misdadigers kom dus van buite Rustenburg om self oorgrensmisdade daar te pleeg.”

Rustenburg het weens sy omliggende myne (waar baie buitelanders werk) en sy ligging naby die Botswana-grens ook baie onwettige (en wettige) immigrante. Bezuidenhout sê navorsing wat hulle in die omgewing gedoen het, dui daarop dat dit ’n groot bron vir vreemdelinghaat en xenofobiese geweld is. “Die plaaslike mense se persepsie is dat die buitelanders van Zimbabwe, Mosambiek en Botswana hul vroue, werk en geleenthede vat. Hulle sluit die inheemse Vendas dikwels hierby in en verwys in skeltaal na hulle met sambreelterme soos ‘Shangaan’ en ‘Makwerekwere.”

Makwerekwere verwys letterlik na ’n soort wors gemaak van afvalbestanddele, sê Bezuidenhout. Daar is boonop ’n groot klomp Chinese by myne en ander ondernemings in Rustenburg betrokke.

In Januarie vanjaar byvoorbeeld was daar voortslepende plundering, brandstigting en geweld by die taxi-staanplek in Rustenburg, waar buitelanders daarvan beskuldig is dat hulle die staanplek as ’n basis gebruik van waar onder meer prostitusie en dwelmhandel bedryf word.

“Ons sit in Rustenburg dus met ’n kombinasie van faktore wat die misdaadsyfers verklaar,” sê Bezuidenhout.

’n Woordvoerder van die Lonmin-myn by Rustenburg het gesê die myn kan nie kommentaar op misdaadsyfers lewer nie.

Brig. Sabata Mokgwabone, polisiewoordvoerder in Noordwes, sê die polisie sal eers op die provinsiale misdaadsyfers reageer op ’n mediakonferensie wat binnekort gehou sal word.

Meer oor:  Rustenburg  |  Noordwes  |  Armoede  |  Immigrante  |  Werkloosheid  |  Misdaadstatistieke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.