Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Dit gaan ons nie onderkry’ sê egpaar oor plaasaanval
Ludwig en Melanie Uys, ’n egpaar van Wellington wat Vrydagaand aangeval is.Foto: Facebook

’n Egpaar wat Vrydagaand deur gewapende rowers op ’n plaas buite Wellington in die Wes-Kaap aangeval is, sê hulle gaan nie toelaat dat dié skrikwekkende aanval hulle onderkry nie.

“Ons gaan nie die land verlaat nie. Ons woon in ’n wonderlike omgewing met wonderlike mense en sal sterker anderkant uitkom,” het Melanie Uys (40) Maandag aan Netwerk24 gesê.

Melanie en haar man, Ludwig (41), het Vrydagaand omstreeks 20:45 buite by hul braaiplek gesit en ontspan toe vyf gewapende mans met klapmusse hulle aangeval het. “Alles het blitsvinnig gebeur. Toe ons weer kyk was hulle by ons.”

Melanie het huis toe gehardloop om by haar kinders uit te kom wat binne was tydens die aanval.

Ludwig het intussen in ’n struweling met die mans betrokke geraak. “Hulle het sy linkerknie op drie plekke gebreek en sy regterrib gekraak,” het Melanie gesê.

“Ek het die houtdeur van ons huis met al my krag probeer toedruk om hulle uit te hou maar hulle het my oorrompel en my in die regterbors en drie keer in my linkerhand met ’n mes gesteek,” het Melanie gesê.

Die mans het deurentyd geld geëis. Die gesin is in hul inloopkluis toegemaak waarná die mans met waardevolle items waaronder die gesin se juweliersware gevlug het.

"Ek het met die genade van die Here daarin geslaag om die kluis van binne af oop te sluit en toe onmiddellik hulp ontbied. Ek wil net ’n pluimpie gee vir die ongelooflike mense by Stellenbosch Medikliniek wat ons absoluut op hul hande gedra het. Daar is nog wonderlike mense in die land en ons as ’n gesin het besluit dat dit wat met ons gebeur het ons nie gaan onderkry nie,” het Melanie gesê.

Ludwig is Maandag geopereer om sy knie te herstel en sterk nog by die hospitaal aan. “Ons woon al agt jaar op dié betrokke plaas en is baie gelukkig hier. Dit gaan ons nie van stryk bring nie,” het Melanie gesê.

Ons woon in ’n wonderlike omgewing met wonderlike mense en sal sterker anderkant uitkom.

Meer oor:  Wellington  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.