Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dít is waar en wanneer rowers meestal toeslaan

Huiseienaars in Suid-Afrika staan die grootste kans om tussen middernag en om 04:00 in hul eie huise met vuurwapens, messe en byle aangeval en beroof te word.

Genl. Khehla SitoleFoto: JACO MARAIS

En dít gebeur die meeste in Gauteng, die Wes-Kaap, KwaZulu-Natal en Mpumalanga.

Dié angswekkende inligting is vervat in die jongste statistieke oor huisrooftogte wat Bheki Cele, minister van polisie, en genl. Khehla Sitole, nasionale polisiekommissaris, Donderdag saam met die res van die land se misdaadstatistieke vir die 2018-’19-boekjaar in die parlement bekend gemaak het.

Dié tipe misdaad vorm saam met motorkapings en sakerooftogte die sogenaamde trio-misdade wat Suid-Afrikaners die meeste vrees.

Huisrooftogte is ook die enigste van dié misdaadkategorieë wat in die betrokke boekjaar gestyg het.

Dit terwyl motor- en vragmotorkapings, sakerooftogte, transitorooftogte en bankrooftogte se statistieke afgeneem het.

Cele het laasgenoemde se afname Donderdag toegeskryf aan die polisie se nasionale stabiliseringsplan wat misdaadintelligensie, spesiale taakspanne, nasionale ingrypingseenhede en taktiese reaksiespanne vinnig vir sulke misdade kan ontplooi.

“Ons glo dat die herbouing van misdaadintelligensie, die Valke en beter werksverhoudinge met die staatsveiligheidsagentskap, die nasionale vervolgingsgesag en die departemente van justisie en verdediging ook sal aanhou om beter resultate te lewer.

“Terwyl ons nog nie is waar ons wil wees nie, is daar ’n sprankie hoop. Polisie-sigbaarheid by winkelsentrums en ander openbare plekke het ook verseker dat ons ’n stap nader is om die doelwitte van die Nasionale Ontwikkelingsplan te bereik.”

Die tien polisiekantore waar die meeste huisrooftogte aangemeld is, is dié in Ivorypark, Honeydew, Mondeor, Sandton, Diepsloot en Tembisa in Gauteng, sowel as dié in Nyanga, Delft en Khayelitsha in die Wes-Kaap en in Mtunzini in KwaZulu-Natal (KZN).

Verder tel die polisiekantore van Florida, Midrand, Norkempark, Roodepoort Douglasdale in Gauteng, sowel as Pinetown in KZN, ook onder die 30 polisiekantore met die meeste huisrooftogte.

Die Noord-Kaap blyk die veiligste provinsie vir huiseienaars te wees met net 157 voorvalle wat in die provinsie aangemeld is.

In 1 443 gevalle het slagoffers self die rowers onder vals voorwendsels in huise gelaat.

Luidens die statistieke het rowers in meer as 15 000 van die huisrooftogte toegang tot die huise verkry deur huiseienaars met vuurwapens of messe te dreig, terwyl in ander gevalle slotte afgebreek, vensters gebreek of huiseienaars fisiek oorrompel is.

In 1 443 gevalle het slagoffers self die rowers onder vals voorwendsels in huise gelaat.

Behalwe vuurwapens en messe, het rowers ook byle, knopkieries, bakstene, ander stomp en skerp voorwerpe en hul kaal hande gebruik om huiseienaars te dreig.

Altesame 16 026 voorvalle van motorkapings is die afgelope boekjaar aangemeld.

Daarvan is 7 776 in Gauteng aangemeld, 2 764 in KZN, 2 294 in die Wes-Kaap en 1 048 in die Oos-Kaap.

Polisiekantore wat die ergste hierdeur geraak word, is dié van Nyanga, Guguletu en Delft in die Wes-Kaap, sowel as dié van Booysens, Kempton Park, Vosloorus, Florida en Jeppe in Gauteng. Verder is die polisiegebied van KwaZakhele in Port Elizabeth en Umlazi in Durban ook brandpunte vir motorkapings.

Voertuie van die handelsmerke Toyota, Volkswagen, Nissan, Ford, Hyundai, Isuzu, Mercedes-Benz, BMW en Chevrolet word die meeste gekaap.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.