Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dit reën range in polisie

Die polisie beplan om die getal generaals in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) met sowat 14% te vermeerder deur 37 voormalige vryheidsvegters uit MK- en Apla-geledere tot dié rang te bevorder.

Lt.genl. Khomotso Phahlane, geskorste polisiekommissaris.

Hierdie 37 generaals sal deel vorm van 600 voormalige vryheidsvegters wat volgens polisiedokumente binnekort ’n bevordering kan verwag. Baie van hulle sal etlike range spring – in een besondere geval word ’n sersant ’n brigadier (’n sprong van ses range); in 27 gevalle word kapteins bevorder tot die rang van generaal-majoor (’n sprong van vyf range); en in 48 gevalle word sersante bevorder tot kolonel (ook vyf range).

Ná afloop van die proses sal 600 van die 601 voormalige MK- en Apla-lede in die polisie offisiere wees.

Volgens die vakbond Solidariteit het hierdie proses van doelgerigte bevordering van voormalige vryheidsvegters reeds begin en is ’n brigadier verlede jaar terugwerkend tot generaal-majoor bevorder nadat hy reeds afgetree het.

Brigadier bevorder ná hy aftree.

Sou die polisie hierdie bevorderingsplanne deurvoer, sal dit beteken dat daar net in generaal-geledere tien nuwe luitenant-generaals en 27 nuwe generaal-majoors bykom.

Volgens die jongste beskikbare syfers was daar in die 2016-’17-boekjaar 257 generaals in die SAPD. Hierdie bevorderingsplanne sal die polisiebestuur na verwagting in ’n direkte botsing plaas met die tesourie en die minister van finansies, Tito Mboweni, wat verlede maand gesê het die staatsdiens het te veel middelvlak- en senior bestuurders. Die polisie is een van vier staatsdepartemente wat die grootste opoffering sal moet maak om hul salarisrekening te besnoei. (Berig op bl. 2).

Die vakbond Solidariteit het ook oorlog verklaar teen die beoogde bevorderings en gaan die hooggeregshof in Pretoria nader om die “hertoekenning van range” aan die voormalige nie-statutêre magte (NSF) permanent te stuit.

Solidariteit het bewyse van die ongewone bevorderings bekom ná ’n aansoek om meer inligting ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia). Die aansoek het verskeie kere in die hooggeregshof gaan draai omdat die polisie telkens nie die volledige inligting verskaf het nie. Die hof het telkens in Solidariteit se guns beslis.

Lt.genl. Lineo Ntshiea, afdelingskommissaris van personeel in die polisie.

Zirk Gous, oudbrigadier in die SAPD en nou die vakbond se koördineerder van polisie-aangeleenthede, sê die polisie het tot op hede grootliks geswyg oor die bestaan van en bedoelings met die NSF-projek. Polisiedokumente wat nou deur die vakbond bekom is, bevestig egter dat die projek goed op dreef is.

Gous sê die bevorderings is nie net uiters onregverdig teenoor ervare polisielede nie, maar ook nie in die openbare belang nie omdat dit direkte implikasies vir reg en orde het.

Die NSF-lede is ná 1994 in die ou weermag, polisie, intelligensiedienste en ander staatsinstellings geïntegreer. Net soos in die weermag is range aan die sowat 1 000 nuwe polisielede toegeken op grond van hul kwalifikasies en ervaring. Dit blyk uit die polisiedokumente dat daar mettertyd groot ongelukkigheid onder die oudstryders ontstaan het omdat hulle meen hul range was te laag.

Solidariteit voer in hofstukke aan dat die NSF-lede in werklikheid militêre veterane is wat onder die Wet op Militêre Veterane resorteer. Dié wet maak nie voorsiening vir onregverdige bevoordeling met bevordering nie.

Volgens Gous is daar sowat 150 000 polisielede in uniform. Die NSF-groep verteenwoordig sowat 0,4% van hulle.

Daar is tans 2 000 vakante poste in die polisie wat teen 2021 gevul moet word. Sou die bevorderings nou deurgevoer word, sal dit beteken dat 0,4% NSF-lede 30% van die beskikbare bevorderingsposte sal kry.

Die vakbond het ook ’n klag van bedrog en wanvoorstelling teen lt.genl. Khomotso Phahlane, voormalige polisiekommissaris, lt.genl. Lineo Ntshiea, afdelingskommissaris van mensehulpbronbestuur, en lt.genl. BC Mgwenya, adjunk- nasionale kommissaris van personeel, by die Lyttelton-polisiekantoor ingedien.

Dit spruit uit die bevordering van oudbrig. Abia Molaba, een van die NSF-lede wat reeds in Maart verlede jaar afgetree het. Phahlane en sy medegeneraals het Molaba ’n maand nadat hy reeds met pensioen was terugwerkend vir twee jaar tot die rang van generaal-majoor bevorder.

Die bevordering is skynbaar gedoen sonder dat die minister en adjunkminister van polisie dit goedgekeur het – ’n administratiewe vereiste. In sy hofstukke bied Solidariteit bewyse dat nie die minister of sy adjunk Molaba se bevorderingsinstruksies onderteken het nie.

Op pad boontoe

Die polisie se planne vir snelle bevorderings sal beteken:

* 10 luitenant-kolonels en hoër word luitenant-generaals. Tans is net 4 van die 35 luitenant-generaals in die polisie voormalige NSF-lede.

* 27 kapteins en hoër word generaals-majoor. Tans is net 14 van die 222 generaals-majoor voormalige NSF-lede.

* 60 kapteins en hoër en 1 sersant word brigadiers. Tans is 12 van 673 brigadiers voormalige NSF-lede.

*  48 sersante en hoër word kolonels. Tans is net 23 van 2 203 kolonels voormalige NSF-lede.

* 146 sersante en hoër word luitenant-kolonels. Tans is 75 van 6 531 kolonels voormalige NSF-lede.

* 84 konstabels en hoër word kapteins. Tans is 97 van 16 473 kapteins voormalige NSF-lede.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.