Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
‘Dit was wild’ toe rowers, polisie in Centurion slaags raak

Inwoners van verskeie woonbuurte rondom die Makro-winkel in Centurion het hulself Woensdagaand koud geskrik toe die klank van geweerskote en sirenes vir byna ’n uur lank deur die laatnag weergalm het.

“Dit was nie net een of twee skote soos wat ’n mens soms hoor nie. Dit was wild. Dit was duidelik dat dit ernstig is,” sê Arno Brandt. 

Makro
Die Makro-winkel in Centurion waar die skietery tussen die polisie en rowers plaasgevind het. Foto: Deaan Vivier

Verskeie polisie-eenhede, insluitende ’n helikopter en die honde-eenheid, nooddienste en veiligheidsmaatskappye het ingespring toe rowers net ná 22:00 op die grootmaat-winkel toeslaan. 

Refilwe Boikanyo, woordvoerder van Massmart wat onder meer Makro besit, sê volgens hul inligting het die rowers nadat hulle by die winkel ingebreek het, onder meer sigarette, selfone en ander multimedia-items geroof.

Van die goedere is wel deur die polisie teruggevind. 

“Gelukkig is niemand beseer nie en die polisie werk onverpoos aan die saak,” sê Boikanyo.

Dit blyk dat die aanvallers, toe die polisie hulle op heterdaad betrap, sonder huiwering begin skiet het.

Gelukkig is niemand beseer nie en die polisie werk onverpoos aan die saak.

Stemboodskappe van “die lede trek vuur! Bly uit die omgewing”, met die rattatat-rattatat van skote in die agtergrond het inwoners gewaarsku om in hul huise te bly.

Lede van veiligheidsmaatskappye het die roetes rondom die reuse-perseel, insluitende die een wat na die N1-snelweg lei, afgesper, terwyl die polisie inbeweeg het.

Kapt. Mavela Masondo, polisiewoordvoerder, sê ongeveer tien gewapende aanvallers het om ongeveer 22:00 die veiligheidswag op die Makro-perseel oorrompel en hom aangehou. 

“Die (ander) verdagtes het vensters gebreek en toegang tot die winkel gekry,” sê hy.

Die polisie het egter inligting van die sakerooftog in aanvang ontvang.

“Met hul aankoms op die toneel het die verdagtes begin skiet, waarop die polisie teruggeskiet het. Die verdagtes het in verskillende voertuie gevlug. 

“Ons ondersoek nog wat uit die winkel geroof is en vra enigeen met inligting om hul naaste polisiekantoor te kontak of die Stopmisdaad-nommer (08600 10111) te skakel of van die MySAPS-app gebruik te maak,” sê Masondo.

Die wag en polisielede is ongedeerd. Dit is nog onbekend of van die aanvallers gewond is.

Luidens gemeenskapsveiligheidsgroepe het die verdagtes in twee BMW’s op die toneel aangekom. Dit blyk dat, hoewel die meeste van die rowers weer in die voertuie gevlug het, van hulle per voet weg is toe die polisie toeslaan. 

Daar is bespiegel dat die voertuie nie geskik sou wees om groot goed, soos televisies, te roof nie, maar eerder grootmaat-produkte wat in die bagasieruim sou pas. 

“Swartmark-goedere”, was die konsensus op sosiale media. 

Ander inwoners het tot byna middernag nog per WhatsApp-groepe vertel waar die spoor van skote trek en die polisie-helikopter is soos wat die bende rowers vermoedelik uit die omgewing probeer vlug het voordat dit stil geraak het. 

* Boikanyo het later gesê Makro vra om verskoning vir enige ongerief en dat die winkel intussen weer oopgemaak is. 

* Die berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

Meer oor:  Rowers  |  Polisie  |  Centurion  |  Misdaad  |  Diefstal
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.