’n Direkteur van die departement van korrektiewe dienste (DKD) is Donderdag deur ’n ondergeskikte geskiet.
Volgens omstanders het die voorval net na 11:00 in ’n kantoor op die tweede vloer van die Poynton’s-gebou in WF Nkomo-straat (die ou Kerkstraat) in die Pretoriase middestad gebeur.
Kapt. Augustinah Selepe, polisiewoordvoerder, sê die slagoffer is in ’n kritieke toestand na die naaste hospitaal geneem.
Die skieter is op die toneel in hegtenis geneem op ’n aanklag van poging tot moord.
Die DKD het die voorval in ‘n verklaring as ‘n “veiligheidskending” beskryf en sê ‘n interne ondersoek sal gedoen word.
Singabakho Nxumalo, DKD-woordvoerder, sê die gewonde beampte se toestand is stabiel.
Traumaberading is ook ná die skietvoorval by die departement se hoofkantoor aan werknemers beskikbaar gestel en die vuurwapen wat in die voorval gebruik is, is deur die polisie gekonfiskeer.
* Hou Netwerk24 dop vir meer.
* Dié berig is aangepas nadat dit aanvanklik gepubliseer is.

Werknemers en skoonmaakpersoneel staan buite die Poynton’s-gebou in die Pretoriase middestad ná die skietvoorval. Foto: Hanti Otto

Forensiese kundiges van die polisie gaan by die deur na die kantoorblok in waar ‘n senior-DKD-lid gewond is. Foto: Hanti Otto