Die polisie in Limpopo het Donderdag beslag gelê op ’n vragmotor waarin onwettige sigarette ter waarde van byna R10 miljoen vervoer is.
Volgens brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, is ’n 36-jarige doeanebeampte van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) en twee vermeende medepligtiges in hegtenis geneem.
Polisielede van Makhado (Louis Trichardt) en Tshilwavhusiku was by die optrede betrokke.

Die vragmotor met houers vol sigarette waarop die polisie in Limpopo beslag gelê het.
Mojapelo sê in ’n mediaverklaring polisielede van Makhado was vroeg Donderdagoggend op ’n patrollie-rit toe hulle ’n vragmotor teen ’n hoë spoed op die N1 sien ry.
“Hulle het dit probeer stop, maar die bestuurder het weggejaag. Die lede het toe hulp van die polisie in Tshilwavhusiku gevra. Intussen het die polisie ook inligting ontvang oor ’n vragmotor wat gekaap is. Die beskrywing van die gekaapte vragmotor het ooreengestem met die vragmotor wat hulle op die N1 gesien het wat in die rigting van Tshilwavhusiku gery het.”
Die vragmotor is later verlate in die Magau-gebied gevind. Beslag is gelê op houers vol onwettige sigarette met ’n geraamde straatwaarde van byna R10 miljoen wat in die vragmotor gevind is.
“Die doeanebeampte het later die dag by die Tshilwavhusiku-polisiekantoor opgedaag,” sê Mojapelo. “Hy het beweer hy was aan diens toe die vragmotor en bagasie klaring gekry het by die Beitbruggrenspos. Die twee ander verdagtes het ook by die polisiekantoor aangekom en beweer hulle is die eienaars van die vragmotor. Al drie die verdagtes is net daar in hegtenis geneem.”
Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiekommissaris in Limpopo, het die betrokke polisielede geloof vir hul vinnige optrede. Die verdagtes sal binnekort in die landdroshof in Tshilwavhusiku verskyn op aanklagte van korrupsie en dwarsboming van die gereg.