Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dogter vertel hoe rowers haar ma (80) kaalvoet in -5 °C los

WAARSKUWING: Die foto by hierdie berig kan sommige lesers ontstel.

Die 80-jarige boervrou van Boesmanskop in die Zastron-distrik wat Vrydagoggend om 02:00 deur vier gewapende plaasaanvallers in Lesotho kaalvoet en met slaapklere aan in die koue gelos is, sterk tans in die hoësorgeenheid van die Rosepark-hospitaal in Bloemfontein aan.

Dit is nadat sy 17 ure in die ongevalleafdeling van die hospitaal gelê het om eers vir Covid-19 getoets te word en daar op die uitslag gewag moes word.

So sê haar dogter, Lize du Plessis, wat sê sy word oorval met oproepe soos wat mense van oor die land heen oor die welstand van haar ma, Daleen van der Hoven, navraag doen.

Sy sê haar ma is tans in ’n stabiele toestand in die hoësorg-neuro-eenheid van die hospitaal, waar sy onder meer vir breinbloeding behandel word nadat sy Saterdagoggend om 02:00 opgeneem is.

“Daar is bloed aan die regterkant van die brein waarvoor sy die nodige medikasie en behandeling kry, nadat haar aanvallers haar verskeie kere met ’n ripper-tand geslaan het.

“My ma van die plaas Wanatha in Boesmanskop naby Zastron is ’n engel van ’n vrou, wat ’n uiters goeie verhouding met haar werkers handhaaf. Sy is so goed vir die werkers en laai hulle gewoonlik op wanneer sy dorp toe gaan.”

Du Plessis sê haar broer, Wally van der Hoven, wat saam met hul ma op die plaas bly, het vir die werkers gesê om mooi na haar te kyk omdat hy Donderdag vir ’n afspraak Bloemfontein toe moes gaan.

Dalene van der Hoven (80), wat erg aangerand is op haar Vrystaatse plaas.

“My ma was ongewapen en wou nooit ’n wapen gedra het nie omdat sy altyd sê hulle gaan jou met jou eie wapen om die lewe bring. Boonop is die werkers so lief vir haar en sy vir hulle dat ons gedink het alles sou in orde wees.”

Du Plessis sê die inligting moes uitgelek het dat haar ma alleen op die plaas was.

Vier gewapende rowers het Vrydagoggend om 02:00 eers die eerste veiligheidshek by die huis oopgebreek en toe die tweede veiligheidshek naby haar kamer. Dit is met die skeurploegtand gedoen.

“Toe my ma wakker word, het sy gesien dat hulle by haar in die kamer was. Hulle het haar twee of drie keer met die ripper-tand geslaan. Sy sê toe hulle haar die eerste keer slaan, het sy net sterre gesien. Hulle het haar vasgehou en heeltyd geld geëis.

“My ma het hierop die klein kluisie vir hulle oopgesluit, waaruit hulle die paar duisend rand wat daarin was gevat het. Hulle het die sleutels van die groot kluis in die klein kluisie gekry en die groot kluis toe self gaan oopsluit.

“My pa, wyle Naas van der Hoven, was in 1975 ’n Springbok-skut. Sy twee gewere en haelgeweer waarmee hy destyds deelgeneem het, was in die groot kluis. Hulle het dit ook gevat.”

Sy sê hierna het hulle die Ford- en Audi-motor se sleutels gevra.

“Hulle het presies geweet wat die make van die motors was.

“Hulle het die Ford se sleutels laat val en toe maar die Audi gevat. Hulle het my ma in die middel op die agterste sitplek tussen hulle laat sit, terwyl die ander twee voor gesit het.”

Du Plessis sê volgens haar ma het die motor heeltyd rukkend tot stilstand gekom en het dit gelyk of hulle nie kon bestuur nie.

“Hulle het ook waardevolle juweliersware wat familie-erfstukke is gesteel.”

Later het die plaasaanvallers haar gevra om vir hulle die motor die bergpas op te bestuur, want hulle kon dit nie self doen nie.

Daleen van der Hoven se uitgebrande Audi is in Lesotho gekry.

Hulle het haar in die Lesotho-kant sonder ’n bril, kaalvoet en in haar slaapklere in -5 °C, afgelaai, sê Du Plessis.

Sy het van hier af tot by ’n hut gestrompel waar mense ná ’n groot gesukkel vir haar oopgemaak en haar in warm komberse toegevou het.

’n Buurman, Tommie Rautenbach, is toe gebel, wat ander boere bymekaargemaak en haar gaan haal het, sê Du Plessis.

Sy sê sy het met haar ma na die Life Rosepark-hospitaal in Bloemfontein gejaag en was Vrydagoggend om 09:00 daar.

“Sy moes hier in die ongevalleafdeling lê van 09:00 tot 02:00 Saterdagoggend voordat sy in die hoësorgeenheid opgeneem kon word omdat sy onder meer eers vir Covid-17 getoets moes word en daar op die uitslag van die toets gewag moes word,” sê Du Plessis.

Meer oor:  Daleen Van Der Hoven  |  Zastron  |  Ontvoering  |  Misdaad  |  Plaasaanval  |  Rowers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.