Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dogters kry tyding van pa se moord op Vadersdag
Edwin Carl Kotzé
Edwin Carl Kotzé saam met sy ma, Yvonne Kotzé en sy oudste dogter Jo-Anne. Agter staan Carla en Amy.

Die dogters van ’n spysenier van Pretoria wou hom Sondag vir Vadersdag trakteer, maar moes toe uitvind dat hy die vorige aand in ’n plaasaanval doodgeskiet is.

Edwin Carl Kotzé se dogters het ’n verrassing vir hom beplan en begin rondbel toe hulle hom nie kon opspoor nie.

Kotzé was glo lief vir die lewe en sy dogters, Jo-Anne, Carla en Amy, se held.

“En om dit uit te vind op die manier wat ons moes . . . dit was net so erg,” sê Carla.

Die sussies het Sondag om 11:00 na hul pa begin soek. Volgens Carla was dit vreemd dat hy nie sy foon antwoord nie. Sy het daarna op sosiale media gevra of vriende kan help soek na haar pa. Toe het sy afgekom op ’n web-artikel waarin geskryf staan dat haar pa Saterdagaand die slagoffer van ’n plaasaanval in die Buffelspoort-gebied, noord van Pretoria, was.

En om dit uit te vind op die manier wat ons moes . . . dit was net so erg.

Rooftog net na middernag

Die 56-jarige Kotzé het ten tyde van die aanval by Rudi Botha (60), ’n vriend, op sy kleinhoewe gekuier.

Botha boer onder meer met granate en olywe, hoewel hy nie permanent op die plaas bly nie.

Eben Swart (55), Botha se lewensmaat, sê dit is waar hulle naweke gaan uitspan. Die plaas behoort aan Botha en nie aan Kotzé soos die polisie vroeër gesê het nie.

Swart het die naweek ander verpligtinge gehad en was nie saam op die plaas nie. Botha is alleen soontoe.

Hy het Maandag namens Botha gepraat omdat laasgenoemde geweldig getraumatiseer is.

Dit blyk dat drie gewapende mans die twee vriende omstreeks middernag oorval het nadat hulle by ’n badkamervenster ingebreek het.

Edwin Carl Kotzé (56)

“Hulle het in die sitkamer gekuier en die TV was aan. Ek dink dit was net toe Edwin wou gereedmaak om huis toe te gaan dat die rowers by die sitkamer ingekom het,” het Swart gesê.

Volgens hom het die rowers Botha en Kotzé beveel om uit te trek en op die sitkamervloer te lê. Albei se hande en enkels is met kabeldraad agter hul rûe vasgemaak.

“Ek weet nie heeltemal wat toe gebeur het nie. Dit lyk asof Edwin wou opstaan toe hulle hom net geskiet het,” sê Swart.

Kotzé is in die nek gewond en het geweldig gebloei.

Sowat twee uur later, nadat die rowers in Botha se Amarok-bakkie weggery het, kon hy daarin slaag om ’n mes uit die kombuis te kry om homself te bevry.

“Toe Rudi by Edwin kom om hom los te sny was Edwin klaar weg. Hy het doodgebloei,” sê Swart.

Botha kon deur ’n werker wat op die plaas woon, daarin slaag om Swart te bel sodat hulp ontbied kon word.

TV, mikrogolfoond en drank nog weg

Botha se bakkie is Sondagaand naby die Walmansthal-afrit opgemerk. Die verdagtes in die bakkie het ’n U-draai gemaak om ’n polisiepatrollie te vermy en is agternagesit. Volgens die Tshwane-metropolisie se Facebook-blad het die verdagtes in ’n heining vasgejaag en verder te voet gevlug. Die polisie het op die bakkie en die gesteelde goedere beslag gelê.

Swart het gesê nie al die gesteelde goedere is Maandag saam met die bakkie aan Botha terugbesorg nie.

“Ons het foto’s van die bakkie in die media gesien, waar die gesteelde goedere op die grond lê en die TV, mikrogolfoond en drank is onder meer nie teruggegee nie,” sê Swart.

Kap. Kay Makubele, Gautengse polisiewoordvoerder, het by navraag gesê die kwessie van die verlore gesteelde items moet onder die aandag van die bevelvoerder van die betrokke polisiekantoor gebring word.

Makubele het bevestig dat niemand nog in verband met die aanval en moord op Kotzé in hegtenis geneem is nie.

Aanlyn roudiens

Kotzé sal veral vir sy lewenslus onthou word. Jo-Anne meen hy was baie soos die akteur Robin Williams – lief vir die lewe en altyd besig om ander te laat lag. Vir Carla en Amy was hy ’n pa wat altyd baie betrokke by al drie sy dogters was.

Die begrafnisreëlings is nog nie afgehandel nie, maar daar sal spesiale voorsiening vir ’n aanlyn roudiens gemaak word.

Meer oor:  Pretoria  |  Vadersdag  |  Aanval  |  Hoewe-Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.