Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Don Steenkamp kry matriek, wil regte swot

Die Griekwastad-gesinsmoordenaar Don Steenkamp (22) begin dié jaar in die regte studeer.

Steenkamp is in Augustus 2014 vir 20 jaar tronk toe gestuur vir die moord op sy pa, Deon, ma, Christel, en suster, Marthella. Hy is ook aan sy suster se verkragting skuldig bevind.

Don Steenkamp

’n Nabye vriend van Don het aan Rapport gesê Don het sy laaste matriekvak se sertifikaat in Oktober gekry.

Hoewel sy punte nie goed genoeg is vir ’n graadstudie nie, kan hy deur Unisa inskryf vir regsvakke sodat hy later toelating kan kry.

Die vriend sê Don het deur die Volkskool in Orania se afstandleerprogram sy matriek voltooi.

Hy het sedert sy inhegtenisneming in 2012 by die skool as gr. 10-leerling van Grey Kollege in Bloemfontein ’n opdraande stryd gevoer. Grey het hom uit die koshuis én skool geskop. Bennie Heckroodt, Don se destydse voog, het ’n aansoek in die hooggeregshof in Bloemfontein ingedien om die skool te dwing om hom weer toe te laat, maar dié aansoek is laat vaar.

Daarna het Grey en ’n ander hoërskool in die Noord-Kaap hom wel bygestaan om tuis verder te leer en gr. 10 en gr. 11 te behaal.

Direk ná sy skuldigbevinding in 2014 het Don aan die hof gesê hy wil borgtog hê om dadelik sy matriek te voltooi en verder te studeer. “Ek het ambisie en toewyding,” het hy gesê.

Don se vriend sê vir die volgende vier jaar het hy in die tronk gestudeer, maar veral met wiskunde en fisiese wetenskap gesukkel.

“Sonder onderwysers om hom by te staan, was die twee vakke maar ’n probleem. Hy het uiteindelik toerisme en aardrykskunde in die plek daarvan geneem.”

Die vriend sê Don wik en weeg tussen graadstudies in die regte of landbou. Met sy verhoor het die hof gehoor hy wou in sy pa se voetspore volg om te boer, maar sy pa wou gehad het hy moet eers goed vaar op skool en universiteit.

Vir Don se tannies is dit nuus dat hul broer se seun matriek het.

Dr. Marianna Smith, Deon se een suster van Stellenbosch, het aan Rapport gesê sy het geen kontak met Don nie. “Ek het gedink hy het opgehou (met afstandonderrig deur die Volkskool).”

Ook Elbeth Vermaak, Deon se ander suster van Pretoria, was verbaas. “Ek het geen kontak met Don nie. Ek weet nie eens waar hy in die tronk is nie.”

Don se vriend sê hy het ondersteuning uit ander oorde. “Daar is baie mense wat vir hom gaan kuier. Hy is ’n positiewe mens van natuur. Sy gemoedstoestand is goed. Maak nie saak wat mense van Don dink nie. Om onder hierdie omstandighede matriek deur te kom, is ’n groot prestasie. Hy kan trots wees op wat hy vermag het.”

Die Volkskool verskaf luidens hul webwerf studiemateriaal aan die leerlinge, maar sonder internet in die tronk was dit ’n uitdaging. “Hy het darem baie ondersteuning. Ons het die toetse en take altyd tuis uitgedruk en na hom toe gevat in die tronk. As ons nie kon nie, was daar altyd iemand anders wat bereid was om in te spring en te help,” sê die vriend.

Volgens hom gaan dit so goed met Don soos dit kan in die tronk.

“Afrikanerkinders floreer onder dissipline. In die tronk is daar baie streng dissipline en Don rook byvoorbeeld nie sigarette of dagga nie, so hy pas aan. Die reëls is goed vir hom.”

Netwerk24 het vroeër berig Don sal op die heel vroegste in 2024 in aanmerking kan kom vir parool.

Hy het in ’n ander hofsaak, oor die identifisering van minderjarige misdadigers deur die media, in ’n verklaring voor die hof gesê sy toekoms is onseker. Hy het toe nog gesê hy beplan om teen sy skuldigbevinding te appelleer, maar dit het nog nie gebeur nie.

Don vrees dat hy nooit ’n normale lewe sal kan lei en trou nie.

“Verder weet ek nie wat ek sal doen wanneer ek vrygelaat word nie. Waarnatoe sal ek nou gaan as my tronkstraf klaar is? Almal weet wie ek is en hoe ek lyk.”

Meer oor:  Gesinsmoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.