Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Don Steenkamp vier eersdaags verjaardag in tronk

Don Steenkamp, veroordeelde moordenaar en verkragter, wat sy 22ste verjaardag op 15 Augustus in die gevangenis in Deneysville in die Vrystaat sal vier, studeer nou rekenaarwetenskap.

Ingevolge die reëls in die gevangenis sal sy verjaardag nie ’n spesiale geleentheid wees nie.

Don Steenkamp Foto: Mary-Ann Palmer

Steenkamp is in 2014 altesaam 20 jaar gevangenisstraf opgelê vir die moorde op sy ouers, Deon en (44) Christel Steenkamp (43), en suster, Marthella (14), asook Marthella se verkragting en regsverydeling.

Steenkamp was 15 jaar en agt maande oud ten tyde van die moorde.

Die grusame moorde het in 2012 op Goeie Vrydag op die plaas Naauwhoek naby Griekwastad gebeur.

Gustav Wilson, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste, sê Don het verlede week met die hoof van die gevangenis ’n onderhoud gevoer.

“Hy het sy tevredenheid met sy omstandighede uitgespreek.

“Don is besig met ’n kursus in rekenaarstudies by ICDL (International Computer and Data Licence).

“Hy is juis in ’n enkelsel omdat hy studeer.”

In sy uitspraak het oud-regterpresident Frans Kgomo gelas dat Steenkamp se sielkundige en psigiatriese verslae saam met hom na die gevangenis gaan.

In die getuienis ter strafversagting en -verswaring het die betrokke deskundiges hul kommer oor Steenkamp uitgespreek, hoewel hy met geen geestesiektes of ander persoonlikheidsteuring gediagnoseer is nie.

Wilson sê wanneer ’n gevangene opgeneem word, word daar gewoonlik ’n sielkundige assessering gedoen om te bepaal of ’n gevangene enige sielkundige probleme ervaar. “Dit word dan deur die sielkundige by die gevangenis gehanteer.

“Daar is sielkundige dienste en maatskaplike werkers, asook geestelike dienste, by die gevangenis beskikbaar.”

Bennie Heckroodt, Don se voog, sê hulle gaan niks spesiaal vir Don se verjaardag doen nie.

Hy wil ook nie baie oor Don se studies verklap nie.

“Dit gaan goed met hom.

“Meer kan ek nie sê nie.”

Daar is sielkundige dienste en maatskaplike werkers, asook geestelike dienste, by die gevangenis beskikbaar.

Steenkamp kan ingevolge die bloedigehand-regsbeginsel nie uit sy ouers se boedel erf nie omdat hy hulle vermoor het.

Sy ouers het ook twee trusts gehad, waarvan hy een van die begunstigdes was. Hy kan moontlik voordeel trek wanneer hy eendag vrygelaat word, afhangende van die trustees se besluite.

Volgens ’n regsgeleerde moet ’n eksekuteur van ’n boedel die bepalings in die testament nougeset volg. Hy het die reg om te weier dat ’n erfgenaam erf omdat hy die testateur of testatrise vermoor het.

Die trustees het anders as ’n eksekuteur eerder diskresionêre magte.

In ’n diskresionêre trust waar die trustees die diskresie het om te besluit of die begunstigdes voordeel mag trek uit die trust, en tot watter mate, kan ’n begunstigde nie voordele eis van die trust nie.

Die trustees het ook die diskresie om die bates van die trust aan die begunstigde oor te dra.

In ’n trust waar die trustakte aan die begunstigdes gevestigde regte tot die kapitaal of inkomste verleen, kan die trustees ook ’n hofaansoek bring om die voordele aan die begunstigde, wat daartoe lei dat hy of sy bevoordeel word uit die trust, weens ’n misdaad te beëindig.

Meer oor:  Don Steenkamp  |  Deneysville  |  Tronk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.