Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Drama in Muizenberg toe bendelede toeslaan

Twee gewapende mans wat vermoedelik bande met ’n bende het, het Vrydag een misdaad ná die ander in Muizenberg gepleeg voordat omstanders hulle op dramatiese wyse in hul spore gestuit het.

Die mans word in die hospitaal behandel vir beserings wat hulle opgedoen het, sê brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder, in ’n verklaring.

“Hulle sal in die hof verskyn op aanklagte van huisroof, die rig van ’n vuurwapen, gewapende roof en die besit van vuurwapens en ammunisie sodra hulle uit die hospitaal ontslaan word.”

Die mans het Vrydagoggend by die huis van ’n 82-jarige vrou in Moselleweg, Muizenberg, ingebreek, haar met kabelbinders vasgebind en verskeie items gesteel, waarna hulle gevlug het.

’n Paar meter van die vrou se huis het die hulle ’n ander persoon van sy selfoon beroof.

Nadat die verdagtes St James se hoofstraat bereik het, het hulle probeer om ’n vrou se voertuig te kaap.

Lede van die publiek het ingegryp om die kaping te keer, waarna die man probeer het om die voertuig te kaap van iemand wat die vrou wou help.

’n Derde bestuurder wat die voorval sien gebeur het, het met opset in die tweede voertuig vasgery en een van die mans gestamp, sê Potelwa.

Die man was op daardie tydstip by die deur van die voertuig en besig om dit te probeer steel. Hy het reeds die gesteelde items in die motor gegooi.

Hy het ernstige beserings opgedoen. Sy makker het intussen gevlug en sy vuurwapen in ’n nabygeleë bos gegooi.

Die polisie in Muizenberg wat hulle na die toneel gehaas het, het die vlugtende man gesien en agtervolg. Hy is deur die polisie aangekeer. Dit is nie bekend hoe hy beseer is nie.

Die motor in Muizenberg wat die verdagtes probeer steel het. Foto: Verskaf
Die deur van die motor in Muizenberg waarteen ’n lid van die publiek glo met opset vasgery het om die verdagte te keer. Foto: Verskaf

Binne-in die tweede voertuig wat die mans probeer kaap het, het die polisie verskeie items wat uit die huis in Moselleweg gesteel is, gevind. Dit sluit in juweliersware, buitelandse valuta, ’n selfoon en vuurwapen.

Die polisie het Vrydag om 15:45 die vuurwapen in die bos gevind waar die man dit gegooi het.

“Die hulp van die publiek om die slagoffers en die polisie te help om die verdagtes aan te keer, word geprys,” sê Potelwa.

“Die moontlikheid word ondersoek of die verdagtes met ander misdade verbind kan word.”

Meer oor:  Muizenberg  |  Misdaad  |  Kaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.