Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
3 hoës van polisie aangekla

Regsverydeling. Dit is die klag wat genl.maj. Mpumelelo Manci, adjunk-polisiekommissaris belas met polisiëring in die Wes-Kaap, die naweek teen drie van sy kollegas aanhangig gemaak het.

Lt.kol. Charl Kinnear is in September 2020 voor sy huis in Sidneyvale, Bishop Lavis, Kaapstad, vermoor. Foto: Facebook

Manci het die klag Saterdag teen genl.maj. André Lincoln, hoof van die teenbende-eenheid in die Wes-Kaap, lt.genl. Peter Jacobs, geskorste nasionale hoof van misdaadintelligensie, en lt.genl. Godfrey Lebeya, nasionale hoof van die Valke, by die Kaapstad Sentraal-polisiekantoor ingedien.

Dit hou verband met die moord van lt.kol. Charl Kinnear op 18 September 2020 voor sy huis in Gearingweg, Sidneyvale, Bishop Lavis.

Manci sê in sy verklaring dat hy in die tydperk 3 September tot 30 September die waarnemende polisiehoof in die Wes-Kaap was. Nadat Kinnear op 18 September in ’n sluipmoordaanval doodgeskiet is, het hy verneem dat die selfoonseine van Kinnear, Lincoln en sers. Leticia van der Horst onwettig deur mense nagespoor en onderskep is.

Van der Horst is ook aan die teenbende-eenheid verbonde.

“Die ligging van die drie polisielede was deurentyd sigbaar en bekend aan die persoon of persone wat hul selfoonseine nagespoor het.”

Volgens Manci is die onwettige nasporing van die lede se selfone aan die Valke gerapporteer wat dit op hul beurt aan die afdelingshoof van misdaadintelligensie (Jacobs) gerapporteer het.

“Dit wil ook voorkom asof die inligting van die dreigement ook aan Lincoln oorgedra is.

“Lincoln het die kwessie by misdaadintelligensie se afdelingshoof geopper toe hy hulp gevra het oor hoe om die dreigement te hanteer.”

Polisiebronne het Sondag gesê polisiebeleid bepaal daar moet ’n strafregtelike klag of ondersoek wees voordat polisiebeamptes departementeel vervolg kan word.

Volgens die bronne volg die klag wat deur Manci ingedien is op aanbeveling en na aanleiding van inligting in die verslag van lt.genl. Francinah Vuma se ondersoek oor hoekom beskerming vir Kinnear in Desember 2019 sonder rede gestaak is.

Lincoln, Kinnear se direkte bevelvoerder is op 14 Januarie vanjaar ingelig dat hy departementeel ondersoek word. Luidens die kennisgewing wat aan hom beteken is, word hy van wangedrag aangekla omdat hy “van 3 tot 18 September 2020 versuim het om beskerming aan Kinnear te verleen”.

Die tweede klag is dat hy nie lt.genl. Yolisa Matakata, die Wes-Kaap se polisiehoof, of die hoof van misdaadintelligensie oor ’n moontlike dreigement teen Kinnear ingelig het en derhalwe van die provinsiale hulpbronne tot sy beskikking gebruik gemaak het om Kinnear te beskerm nie.

Verlede week is berig dat ook Jacobs, nasionale hoof van misdaadintelligensie, nou ook departementeel in verband met Kinnear se moord ondersoek word.

Netwerk24 het vroeër berig dat Kinnear reeds vroeg in September geweet het dat sy bewegings deur sy selfoonseine nagespoor word.

Die inligting het hy op 3 of 4 September by ’n adjudant-offisier verbonde aan die Valke in Gauteng gekry. Die inligting is glo terselfdertyd in ’n verslag aan Lebeya, Jacobs, Lincoln en aan genl.maj. Mzwandile Tiyo, hoof van misdaadintelligensie in die Wes-Kaap, gestuur.

Bronne met kennis van die verslag het gesê die adjudant-offisier wat die verslag opgestel het, het onder meer geskryf dat die nasporing onreëlmatig is en dat dit ondersoek moet word omdat dit heel moontlik ’n bedreiging vir Kinnear kan wees.

Kinnear, een van die speurhoofde in die teenbende-eenheid in die Wes-Kaap, is twee weke later, op 18 September, deur ’n onbekende man doodgeskiet.

Nog net een verdagte, Zane Kilian (39), is in verband met die moord in hegtenis geneem. Hy verskyn weer op 2 Februarie in die landdroshof in Bellville.


Meer oor:  Godfrey Lebeya  |  Peter Jacobs  |  Charl Kinnear  |  Polisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.