Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Drie kinders vermoor; vry ná 13 jaar

’n Voormalige lugmagsersant van Hoedspruit wat ’n kinderprostituut in Burundi verwurg het en daarna ook sy eie kinders met ’n R4-aanvalsgeweer in sy huis doodgeskiet het, gaan vrygelaat word ná slegs 13 jaar agter tralies.

Flippie Venter destyds by die hof. Foto: Theana
Flippie Venter destyds by die hof. Foto: Theana Calitz

Flippie Venter (48), wat as ’n lid van die Suid-Afrikaanse vredesmag in Burundi diens gedoen het, is in 2006 tronk toe gestuur vir die moord op sy kinders, en ’n jaar later gevonnis vir die moord op die 14-jarige sekswerker.

Venter se parool is Woensdag deur die paroolraad van die Barberton-tronk in Mpumalanga goedgekeur.

Venter se eksvrou, Millie, wat die aanval oorleef het nadat sy self in die maag geskiet is, vrees nou opnuut vir haar lewe.

Millie, wat die afgelope dekade hard gewerk het om vir haar ’n nuwe lewe te bou, het Saterdag aan Rapport gesê sy gaan so gou as moontlik ’n beskermingsbevel teen Venter kry om te keer dat hy naby haar kom wanneer hy uit die tronk vrygelaat word. Sy sê sy is steeds, ná al die jare, vreesbevange vir haar eksman.

Sy het die geweer probeer gryp en ’n skoot het afgegaan.

Venter se moordtog het in September 2004 begin toe hy die 14-jarige Therése Nkeshimana vermoor en ’n veiligheidswag van daardie land aangerand het toe hy as ’n BBP-wag deel van ’n Suid-Afrikaanse vredesmag in die land was. Hy is ses maande lank in ’n skeepsvraghouer in Burundi aangehou voordat hy na Suid-Afrika teruggestuur en op borgtog vrygelaat is. Terwyl hy op borgtog uit was, het hy sy kinders ná ’n stryery met sy vrou op 26 April 2006 in hul huis by die lugmagbasis op Hoedspruit doodgeskiet.

Destyds is getuig dat Venter en Millie die middag omstreeks 17:00 tuis gekom het nadat hulle by ’n sosiale geleentheid was. Hulle het begin stry oor ’n kolonel op die basis wat by haar sou aanlê, asook wat sou gebeur indien hy skuldig bevind word aan die moord op die Burundiese meisie.

Die stryery het later so heftig geword dat sy die woord “help” aan drie mense op haar selfoon geteks het. In ’n stadium het Venter vir haar gesê: “My bolla, dankie vir alles wat julle vir my beteken het.” Hy het toe die vierjarige Janco in die bors geskiet. Hy het daarna met die aanvalsgeweer op heuphoogte op haar afgestorm.

Sy het die geweer probeer gryp en ’n skoot het afgegaan en haar in die maag getref.

'n Koerantberig oor die saak destyds.
'n Koerantberig oor die saak destyds.

Die vyfjarige Millize het probeer weghardloop, maar Venter het haar in die rug geskiet terwyl ’n gewonde Millie steeds vergeefs probeer het om die geweer uit sy hande te ruk.

Die rondgaande hof op Nelspruit het Venter aanvanklik in Oktober 2006 tot effektief tien jaar tronkstraf gevonnis vir die gesinsaanval nadat die regter versagtende omstandighede (wat sy ongelukkige kinderjare en die trauma en spanning van die gebeure in Burundi insluit) in ag geneem het.

Die staat het teen dié vonnis geappelleer en die appèlhof het dit verhoog tot 18 jaar.

Terwyl hy in die tronk was, is hy deur ’n militêre hof vir 24 jaar tronk toe gestuur vir die Burundiese misdade. Dié vonnis is uiteindelik verlaag tot 18 jaar.

Singabakho Nxumalo, woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste (DKD), het aan Rapport gesê die vonnisse word gelyklopend uitgedien.

Hy het bevestig dat Venter Woensdag voor die paroolraad verskyn het en dat sy aansoek suksesvol was. Nxumalo wou nie sê wanneer hy vrygelaat gaan word nie.

Venter het reeds 13 jaar en drie maande van sy straf uitgedien. Aanvanklik sou hy eers op 17 Julie vanjaar vir parool in aanmerking kom. Hy trek egter voordeel uit ’n uitspraak van die konstitusionele hof in Mei verlede jaar wat dit vir ’n sekere kategorie gevangenes (wat voor 1 Oktober 2004 misdade gepleeg het, maar eers daarna gevonnis is) moontlik maak om vroeër parool te kry.
Hiervolgens moes Venter in der waarheid reeds in Desember 2015 vir parool in aanmerking gekom het nadat hy nege jaar van sy vonnis uitgedien het.

Nxumalo sê die slagoffers se familie is wel na die paroolverhoor genooi.

“Millie het skriftelike insette ingedien en aangedui sy is nie bereid om deel te neem aan die proses nie. Sy het benadruk dat die gevangene sy volle vonnis moet uitdien.”

Hy sê die DKD het ook vergeefs pogings aangewend om met die polisie se hulp die familie van die Burundiese meisie en die veiligheidswag op te spoor.

Nxumalo sê benewens die slagoffers se voorleggings is daar 20 ander kriteria wat in ag geneem is in die paroolproses. Daar word, benewens die tyd wat Venter reeds in die tronk deurgebring het, ook gekyk na die gevaar wat hy vir die gemeenskap inhou; sy fisieke en geestelike welstand; sy aanpassing en gedrag in die tronk; sy vaardighede en sy ondersteuningstelsel buite die tronk.
Parool is nie ’n reg nie, dis ’n voorreg wat verdien moet word, sê Nxumalo.

Meer oor:  Flippie Venter  |  Therése Nkeshimana  |  Millie Venter  |  Hoedspruit  |  Burundi  |  Moord  |  Paroolraad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.