Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dringende hofbevel gevra om besetters te arresteer

’n Dringende aansoek is Woensdagmiddag voor die hooggeregshof in Pretoria gebring om die polisie te beveel om betreders so gou moontlik in hegtenis te neem voordat hulle onwettige besetters word.

Zahir Omar, regsverteenwoordiger van die applikante in die saak, voer aan drie mans, Charles Ellis, Ian van Rensburg en Sikander Mohammed, het op 9 Maart gesien hoe sowat 1 000 mense ’n stuk grond van sowat 6 000 ha in Olievenhoutbosch, Gauteng, onwettig betree het.

Die grond is bestem vir ontwikkeling

Mohammed het die mense gevra wat hulle op dié grond doen, waarop hulle geantwoord het dat hulle besig is om grond af te merk, waarna hulle plakkershutte sou oprig.

“Mohammed het toestemming van ses maatskappye wat dié grond besit, gekry om strafregtelike klagte van onwettige betreding by die Olievenhoutbosch-polisiekantoor aanhangig te maak teen die betreders,” sê Omar.

Volgens die applikante het die polisie nie na die toneel gegaan of die betreders in hegtenis geneem nie.

“Die polisie se weiering om mense in hegtenis te neem wat ’n misdaad gepleeg het deur grond onwettig te betree, het die groep grondeienaars genoop om ’n dringende versoek voor die hof te bring,” sê Omar.

Hy sê sodra ’n betreder ’n struktuur soos ’n plakkershut oprig op ’n stuk grond wat aan iemand anders behoort, kan die polisie dié persoon nie meer in hegtenis neem nie. Die betreder word dan ’n besetter en kan slegs met ’n hofbevel verwyder word.

Omar het regter Shahnaz Miah gevra om die polisie te beveel om so gou moontlik te reageer op klagte van betreding sodat dié mense in hegtenis geneem kan word voordat hulle onwettige besetters word.

Sodra ’n onwettige betreder ’n struktuur oprig op iemand se eiendom, word hy ’n besetter wat dan slegs per hofbevel verwyder kan word. ’n Groep grondeienaars van Olievenhoutbosch in Gauteng het hulle nou tot die hooggeregshof in Pretoria gewend ten einde die polisie te dwing om teen betreders op te tree. Foto: Argief

Die respondente in die saak is onder meer die minister van polisie, die Gautengse polisiekommissaris, die bevelvoerder van die polisiekantoor in Olievenhoutbosch, die Tshwane-metro en die onwettige grondbesetters.

Adv. Lerato Maite, wat die polisie in dié saak verteenwoordig, het aangevoer dat die Olievenhoutbosch-polisiekantoor nie self ’n eenheid vir openbare orde het nie. Dus moet die polisiekantoor eers die openbare geweld takseer voordat ’n eenheid vir openbare orde van elders ontbied word.

“Die gevalle kom ook in die nag voor en mense meld dit dikwels eers die volgende dag aan wanneer daar nie meer mense is om in hegtenis te neem nie.”

Adv. Kabelo Bokaba, wat Tshwane in die saak verteenwoordig, het aangevoer dat dit nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid is om private grondeienaars te help om betreding te voorkom nie.

“Dit is ook nie die munisipaliteit se verantwoordelikheid om ander blyplek aan die sogenaamde betreders te verskaf nie.”

Samkelo Mgobozi, woordvoerder van Tshwane se burgemeester, sê dit is geen geheim dat die stad nie voldoende hulpbronne het om ander blyplek vir besetters te vind nie. “Mense gryp grond en verwag dan dat die stad dienste moet verskaf op plekke waar dit nie moontlik is nie. Ons probeer tans wettige grondkwessies hanteer, die stad het nie nog hulpbronne om met onwettige grondkwessies ook te werk nie.”

Luidens die applikante se verklaring het AfriForum, die Helen Suzmann-stigting en die DA die grondeienaars teleurgestel omdat hulle nie dié eienaars se regte beskerm het nie.

Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapsveiligheid, sê dié uitlating is ongeregverdig. “AfriForum is die organisasie wat deurgaans tydens onwettige grondbesetting daar was om inwoners by te staan. Ons het verskeie vergaderings gehou om die inwoners in te lig oor die regsproses as grond beset word.”

Miah het die hofverrigtinge tot Vrydag uitgestel vir uitspraak.

Meer oor:  Olievenhoutbosch  |  Grondgryp  |  Grondbesetting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.