Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dros: Sy verloofde is swanger

‘Ek sal nooit só iets doen nie. Ek het ’n vrou en ’n kind op pad,” het Nicholas Ninow (20) verlede Saterdag geskreeu toe woedende klante van die Dros-restaurant in Silverton, Pretoria, hom in die mansbadkamer vasgekeer het.

Dit was nadat hy na bewering ’n meisietjie verkrag het.

Nicholas Ninow en sy verloofde in gelukkiger tye. Foto: Facebook

Ninow se 19-jarige verloofde is ses maande swanger met hul eersteling.

Drie kelners en nog ’n ooggetuie het die afgelope week met Rapport gepraat oor die gebeure dié middag.

Hulle sê Ninow het eers alleen by die restaurant se kroeg gesit, maar later het ’n ouer man by hom aangesluit. Hul drankrekening het uiteindelik R700 beloop. “Die hele rekening was net bier en shooters,” sê ’n kelner.

Sowel Ninow as die meisietjie se ma het gereeld die Dros besoek.

“Die ma bly hier naby in Mamelodi en het dikwels hier kom eet,” het een van die kelners Vrydag gesê.

Hulle sê Ninow was twee keer die middag badkamer toe. “Hy het een pad deur die winkel toilet toe geloop maar ’n ander pad terug kroeg toe, verby die speelarea.”

Hy het sy rooi hemp saam met die dogtertjie se klere probeer wegspoel. Dit was vol bloed.
-- ’n Kelner by die Dros

’n Halfuur later is hy weer badkamer toe. Kort daarna het die ma ontdek haar kind is nie meer in die speelarea nie. Die kinderoppasser het vir haar gesê die meisietjie is toilet toe.

“In die vrouebadkamer is daar drie toilethokkies. Die een toilet is buite werking en daar was ’n kennisgewing op die deur wat so sê. Die ma het in die ander twee hokkies gekyk en toe sy nie haar kind kry nie, het sy histeries geraak,” vertel ’n kelner.

Die personeel het kom help en een van die kelners het toe voete onder die afskorting by die stukkende toilet gesien. “Toe sy aan die deur raak, het die kind begin huil en na haar ma geroep,” sê nog ’n kelner wat in die badkamer was.

Die ma en vier kelnerinne het probeer om die deur oop te druk.

“Toe die deur oopgaan, het die man met sy gordel die vroue geslaan. Hy het verby die vroue na die mansbadkamer gevlug en homself in ’n toilet toegesluit,” sê die kelner.

Klante en personeellede het die deur oopgebreek. Hulle het glo die kind se broekie en haar spanbroekie asook die man se hemp in die toilet gekry.

“Hy het sy rooi hemp saam met die dogtertjie se klere probeer wegspoel. Dit was vol bloed,” beweer ’n kelner.

R700: Die verdagte en nog ’n man se gesamentlike drankrekening.

Vyf of ses van die omstanders het Ninow aangerand voordat veiligheidswagte tussenbeide getree het. “Hy het ons gevloek en geskree. Hy het gesê hy het net die dogtertjie probeer skoonmaak omdat sy gepoo het,” sê ’n kelner.

In ’n video van die konfrontasie in die mansbadkamers wat die afgelope week op sosiale media versprei is, is Ninow kaal en daar is bloed op sy skouer en bors, vermoedelik omdat hy aangerand is.

Hy skreeu vir die omstanders dat hy besig was om die toilet te gebruik.

“Maar jy is dan kaal, jou *&$#,” sê iemand vir hom.

“There’s nothing f**king wrong with me. I’m sober. I am a mental man. I’m f**kin’ okay,” skreeu Ninow. In die agtergrond huil-skreeu ’n vrou histeries.

Ninow is later in ’n ambulans weggeneem. Sy tafelgenoot het hul rekening betaal.

Vriende van Ninow en sy kollegas by die selfoonwinkel in die ooste van Pretoria waar hy die afgelope vier maande gewerk het, sê hulle is geskok.

“Ek sou glad nie só iets van hom verwag het nie. Hy is juis die soort ou wat altyd vir jonger ouens opgestaan het. Hy was nie skaam om sy vuiste te gebruik nie, maar nooit om te boelie nie,” sê ’n skoolvriend van hom.

“Ek het nog nie sedert Saterdag weer met hom of haar gepraat nie en ek wil ook nie. Ek wil nie verder by hierdie ding betrokke raak nie.”

Dié vriend ken Ninow se verloofde. Hulle het lank uitgegaan en in Augustus verlede jaar verloof geraak, sê hy.

“Ek dink die verlowing is nou verbreek,” het hy bygevoeg.

Hy sê sover hy weet, het Ninow nooit sterk dwelms gebruik nie.

“Hy het van ’n drankie gehou en op skool was hy gereeld in vuisgevegte,” sê dié voormalige vriend. “Hy het nie oor ’n probleem geredeneer nie. Sy vuiste het die praatwerk gedoen.” Hulle het mekaar twee jaar laas gesien.

Ninow se huislike omstandighede was ingewikkeld. “Sy pa was nie in die prentjie nie,” sê die voormalige vriend. “Hy het sy pa so erg gehaat dat hy op skool sy van laat verander het na sy ma se nooiensvan. Hy was eers Nosworthy, toe word hy Ninow.”

Daar was ook probleme by sy ma en daarom het hy by sy ouma en oupa gebly. Toe sy geliefde oupa ’n paar jaar gelede dood is, het dinge vir Ninow begin handuit ruk, vertel die vriend.

“Nicholas het nie ambisie of toekomsplanne gehad nie. Hy het daardie tyd so baie van die skool af weggebly dat ek later gedink het hy het van skool verander.”

In ’n stadium het Ninow tot bekering gekom. “Hy het gesê hy het die Here gevind, maar dan kom hy weer in ’n geveg of dan hoor mens weer stories van dwelms.”

Ninow se kollegas by die selfoonwinkel sê hulle het nooit so iets verwag nie. “Inteendeel. Hy het altyd net komplimente by klante gekry,” sê een.

Hy sê die man wat saam met hulle gewerk het is 180 grade verwyder van die monster wat hier uitgebeeld word.

Vir hulle was die eerste teken van onraad toe Ninow sedert verlede Donderdag nie by die werk opgedaag het nie. “Ons het hom probeer bel, maar net sy voicemail gekry. Ons het sy ouma ook gebel, maar sy het nie geweet waar hy was nie.”

Maandag het sy ouma vir hulle ’n teksboodskap gestuur om te sê hy kom nie terug werk toe nie. “Hy is in die tronk. Laat weet asb. die bestuurder dat sy met hoofkantoor kan reël vir die laaste van sy betalings ens. Dankie,” het dié boodskap gelui. Die ouma bedryf ’n agentskap vir kinderoppassers. Sy wou nie met Rapport praat oor haar kleinseun nie.

Ninow het minstens drie aktiewe profiele op Facebook. In Oktober 2016 het hy in ’n inskrywing op een daarvan gesê hy soek werk. “Ek sal teen 10 November klaar wees met matriek. My vakke is Besigheid Studies, Aardrykskunde, en Toerisme . . . Ek is lief daarvoor om met klein kinders te werk . . .” het hy geskryf.

Ninow het Dinsdag op aanklagte van verkragting en die besit van dwelms in die landdroshof in Pretoria verskyn. Hy is steeds in aanhouding.

Ninow word Saterdagaand weggeneem.

Hoekom ons Dros-verdagte wys

Rapport het besluit om die man te identifiseer wat daarvan beskuldig word dat hy ’n agtjarige kind in ’n badkamer by die Dros-restaurant in Silverton verkrag het.

Nicholas Ninow is in aanhouding en het reeds in ’n ope hof verskyn. Hy is reeds op sosiale media geïdentifiseer en word beskuldig van ’n grusame misdaad. Ons glo dat dit in die openbare belang is om sy identiteit bekend te maak – selfs al het hy nog nie gepleit nie.

Ons besef dat die Strafproseswet bepaal dat in gevalle van seksuele misdrywe niemand “op enige manier hoegenaamd enige inligting wat verband hou met die ter sprake aanklag” mag publiseer totdat die beskuldigde gepleit het nie.

Indien dit werklik die regsposisie is, dan was die meeste of selfs alle mediadekking van dié saak – asook honderde ander sake in die verlede – in stryd met die wet.

’n Blanko verbod op die publikasie van “enige inligting” wat verband hou met aanklagte van seksuele misdrywe tot die beskuldigde gepleit het, kan nie verdedig word nie in ’n grondwetlike bedeling waar die beginsels van die regstelsel deursigtigheid en verantwoordbaarheid is.

Ons glo dat wat die wet beoog om te beskerm nie die identiteit  van vermeende seksuele oortreders is nie, maar eerder die identiteit van die slagoffers van seksuele misdrywe.

Dit sal ons altyd respekteer.

Ons posisie in hierdie verband is voorts in pas met die bepalings van die Perskode, waaraan die koerant hom onderwerp. – Redakteur

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.