Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
'Dros-verkragter': 'Amen' toe sluiter klik
Hanti Otto
Hanti Otto

Ek besef op Maandag 1 Oktober reeds dat die volgende dag een uit die bose gaan wees.

Netwerk24 moet ’n amptelike aansoek bring voor die landdros om foto’s van die beweerde Dros-verkragter te mag neem.

Dit is ’n proses van dokumente, aansoeke en e-posse tussen partye wat nie gewoonlik deel van my daaglikse dagtaak is nie en my nerwe raak dun.

Die Strafproseswet bevat ’n eie wye verbod oor die publikasie van inligting rakende seksuele misdrywe totdat die beskuldigde gepleit het.

Netwerk24 se benadering was dat hy reeds wyd geïdentifiseer is op sosiale media en dit sou sinloos wees om foto’s van hom in die hof te verbied.

Sosiale media is dae reeds ’n hutspot van foto’s van Nicholas Ninow en dit is duidelik dat byna die hele wêreldbevolking die volgende dag by die landdroshof in Pretoria gaan opdaag vir die 20-jarige verdagte se verskyning.

Die Tshwane-metropolisie bevestig: Hulle gaan strate afsper.

Dit beteken dat die reeds beperkte parkeerplek rondom die hofgebou onbereikbaar sal wees – nog ’n nagmerrie vir joernaliste en fotograwe wat met toerusting hul weg deur verkeer en versperrings en betogers moet baan.

Wat lei tot my volgende uitdaging: Ons gaan reeds voor die eerste mossies moet op wees om akkreditasie en toegang tot die hofsaal te kry. Om nie eens van sitplek in die hof te praat nie.

Ek is nie ’n vroegoggendmens nie. Ek is ’n nagwolf.

Ek stel die noodplan in werking:

- Reël met een van die karwagte (lapswaaiers) om vir my ’n parkeergaatjie te hou.

- Reël met die koffiewinkel dat my allernoodsaaklike cappuccino gereed vir oplaai sal wees.

- Teister ons prokureur te veel kere om seker te maak dat hy Dinsdag aan my sy is.

Ek gaan slaap biddend en met my hart in my keel: Die laaste keer dat ’n hofsaak in daardie landdroshof soveel opspraak verwek het, was toe Oscar Pistorius verskyn het.

Drama en burokrasie agter die skerms

My oë is Dinsdagoggend nog dik terwyl ek probeer om voor die oggendverkeer na die middestad te ry.

Die cappuccino is gereed.

Sipho, die karwag, staan op die hoek by die hof – parkeerplek gereed.

Fotograaf Deaan Vivier, behang met kameras en lense van alle groottes, is ook op sy pos.

Ons begin ons weg deur burokrasie, veiligheidsmaatreëls en polisie baan tot net buite hof 16 se deur.

Gesluit, want die hofsaal word as veiligheidsmaatreël deursoek.

Intussen groei die groep belangstellendes – van joernaliste tot politieke partye en kinderregtegroepe – in die gangetjie voor die hof se deur.

Die massas begin van agter druk. Hulle wil in en almal is bang dat daar nie sitplekke gaan wees nie.

Verteenwoordigers van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) daag op: Net drie lede van elke politieke party en groep gaan binne toegelaat word – die hofsaal is te klein.

Fotograwe en kameras moet buite bly totdat uitspraak in ons aansoek gegee word.

Ninow: in lewende lywe

Ek laat my kop sak en maak my skouers krom soos kleintyd toe ek en my pa deur die Loftus-skare moes stoei – en mik vir die voorkant van die hofsaal waar ek my in ’n hoekie tussen ’n spinnerak, drie dooie kokkerotte en die aanklaer se tas inwurm.

Ek weet uit ervaring dat dit moeilik raak om van agter in die openbare galery alles in so ’n oorvol hofsaal te hoor.

Ninow kom in.

Die laggende seunsgesig van Facebook is weg. Sy hare is afgeskeer – standaard wanneer iemand in die verhoorafwagtende selle is.

Die amptelike rede daarvoor is luise.

In Ninow se geval kan dit ook wees omdat hy glo op die aand van 22 September aangerand is nadat hy na bewering ’n sewejarige meisie in die vroue-badkamer verkrag het.

Van die beserings was aan sy kop en oor, en sy hare kon dalk met sy mediese behandeling geskeer gewees het.

Hy lyk eers verwese en toe oorweldig deur die magdom mense in die hof.

Dis asof hy die haat en woede vanaf die openbare galery kan aanvoel.

Geklee in ’n T-hemp, luister hy koponderstebo na die hofprosedure: Die aanklaer wat die landdros inlig waarom hy in die hof verskyn, dat die staat gaan vra dat die saak vir verdere ondersoek uitgestel word, maar eers wil ’n mediahuis ’n aansoek bring voordat die hofverrigtinge voortgaan.

Dit is naelbyt-oomblikke terwyl Netwerk24 se prokureur verduidelik dat Ninow se identiteit en gesig lankal reeds die wêreld vol is, en dit dus sinloos sou wees dat die media hom nie mag identifiseer nie.

Ná verskeie regsargumente deur al die partye, kry ons die groen lig. Ek stuur onmiddellik ’n boodskap aan die fotograaf: “Kom in.”

Niks gebeur nie. Die deur bly toe.

Ek raak effens paniekerig – dit is waardevolle sekondes wat verlore gaan en ons is nie deur al die gespook vir niks nie.

Die hof verdaag vir ’n rukkie en ek vlieg oor voete, aantekeningboekies en prokureurstasse om by die deur te kom.

Buite die hofsaal bondel fotograwe teen veiligheidswagte wat eers die hofbevel wil bevestig.

Ek strek my arm oor hul skouers soos ’n drenkeling totdat ek Deaan se uitgestrekte hand tussen die ander mense voel – en trek. Met al my krag.

“We are legal,” verhef ek my stem tot by die NVG-verteenwoordiger aan die ander kant.

Ons moes almal onkant betrap het, want toe hulle weer kyk, staan Deaan voor die beskuldigdebank geplant.

Die foto wat in die landdroshof in Pretoria met Nicholas Ninow se verskyning geneem is toe die hof ten gunste van Netwerk24 se aansoek beslis het. Foto: Deaan Vivier

Ninow vs. fotograwe

Ninow word weer uit die aanhoudingsel gebring.

Dié slag het hy ’n sweetpak-bostuk aan, die kappie laag oor sy gesig getrek.

Hy is duidelik ongelukkig oor die toestemming dat hy afgeneem word en gaan sit letterlik met sy kop tussen sy knieë.

“Hoe gouer jy opkyk, hoe gouer is dit verby,” maan ek hom in my gedagtes.

Dit werk nie en die fotograwe moet hul kameras laat sak toe die landdros inkom.

Ek fluister ’n woord wat my ma sou laat frons.

Toe kom Deaan se WhatsApp met die foto stil-stil op my foon: Ninow se gryserige gesig onder die kappie.

“Amen,” fluister ek.

Ons lesers het nou ’n foto van die vermeende Dros-verkragter soos wat hy in die hof verskyn het. Wettig.

Ek sak terug tussen die oorle kokkerotte, trek my voete uit die aanklaer se pad.

Emosioneel uitgeput en dankbaar dat die res van die hofverrigtinge net die gewone uitstelprosedure is.

* Ninow is intussen verwys na die Weskoppies- psigiatriese hospitaal vir evaluasie en waarneming om sy geestestoestand en strafregtelike toerekeningsvatbaarheid gedurende die beweerde Dros-verkragting te bepaal.

Hy het na bewering onder meer ’n geskiedenis van bipolêre gemoedsversteuring en dwelmmisbruik.

Die saak is tot Januarie 2019 uitgestel terwyl hy op ’n bed in Weskoppies wag.

Hy is steeds in aanhouding.

Meer oor:  Nicholas Ninow  |  Hanti Otto  |  Jaaroorsig 2018  |  Hof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.