Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Drotské: Polisie bekyk hantering van misdaadtoneel

Die polisie ondersoek bewerings van nalatigheid in die hantering van die misdaadtoneel waar Naka Drotské, oud-Springbok-haker en Cheetah-afrigter, raakgeskiet is.

AfriForum het Woensdag ’n brief aan die polisie se Tshwane-Oos-kluster geskryf waarin hy verskeie bekommernisse opper oor hoe dié toneel hanteer is.

Dit sluit in dat die toneel nie voldoende afgebaken is nie en dat versuim is om verdagte voetspore te identifiseer voordat polisielede die toneel betree het.

Naka Drotské in die hospitaal. Foto: Verskaf

“Lede van die polisie het op die toneel gerook terwyl bewysstukke agtergelaat of oorgesien is,” lui die brief.

AfriForum skryf ook die polisie het die oud-Springbok Os du Randt, wat saam met Drotské was tydens die aanval, gevra om die koeëls wat in die hospitaal uit Drotské verwyder is by hom te hou sodat die polisie dit later by hom kon afhaal.

“Verder is die klere wat Drotské tydens sy struweling met die aanvallers aangehad het ook nie deur die polisie by die ondersoek ingesluit nie.”

Genl.maj. André Wiese, bevelvoerder van die polisie se Tshwane-Oos-kluster, het Donderdag bevestig hy het dié brief ontvang.

“Ons neem kennis van die kommer oor die hantering van die toneel. Ons ondersoek dit. Indien daar wel nalatigheid was, sal dit aandag kry.”

Wiese sê hy het met Drotské se familie gepraat. “Ek was ook reeds in gesprek met die polisiebeamptes wat op die toneel was.”

Twee koeëls het Drotské verlede Donderdagaand getref in ’n aanval op sy broer, Tinus, se huis in Kameeldrift buite Pretoria.

Een van die koeëls het sy elmboog getref en is toe deur sy arm by sy bors in. Die ander koeël het hom in die maag getref en veroorsaak dat sy dunderm lek.

Hy het Maandag ’n operasie van vier uur aan sy regterarm ondergaan. Dit is die tweede groot operasie op hom in minder as ’n week in die Netcare Montana-hospitaal in Pretoria.

Tinus het Donderdag op JacarandaFM se ontbytprogram gesê dit gaan goed met Drotské.

“Gister (Woensdag) was die eerste keer wat ek by hom kon ingaan. Hy is in isolasie omdat hulle bang is vir bakterieë en infeksie.”

Volgens Tinus ervaar sy broer baie pyn en swelling.

“Onder die omstandighede vaar hy goed. Hy is ’n yster. Hy sal deurtrek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.