Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dubbele moord: Familie herleef trauma opnuut

Hulle is stukkend en kan nou eers weer die stukkies begin optel.

So sê ds. Gerhard Pietersen, ’n skoonseun van die vermoorde egpaar Tewie (72) en Eurika Human (62) van Groot-Brakrivier in die Suid-Kaap, oor hoe dit met die familie gaan.

Die verhoor van ’n tweede moordbeskuldigde, Lebohang Lekoro (29), het verlede week in die rondgaande hooggeregshof in Mosselbaai begin.

Lekoro is verlede jaar in November in Bloemfontein in hegtenis geneem nadat hy voortvlugtig was sedert die Humans op 14 Junie 2016 in hul huis op die Sandhoogtepad in Groot-Brakrivier vermoor is.

Eurika en Tewie Human. Foto: Facebook

Lekoro, ’n oudwerker by Tewie se rioolverwyderingsdiens, word beskou as die vermeende baasbrein agter die moord. Sy makker, Tamsanqa Sishuba (27), is kort ná die moord in hegtenis geneem. Sishuba is in September 2017 in die rondgaande hooggeregshof in Mosselbaai twee lewenslange vonnisse opgelê vir die moorde, en 15 jaar elk op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede.

Lekoro word aangekla van die dubbele moord, asook twee sake van poging tot roof met verswarende omstandighede.

Die Humans is onderskeidelik met ’n panga (Tewie) en ’n mes (Eurika) vermoor. Die oggend van die moord is R14 000 ook deur middel van ’n elektroniese oorplasing uit Eurika se rekening na ’n bankrekening in Lesotho oorgeplaas.

Volgens Pietersen kon die familie die afgelope twee jaar nog nie afsluiting kry nie. “Die familie beleef weer al die trauma, maar is dankbaar vir die publiek se ondersteuning,” sê hy.

Getuienis is in die hof aangehoor, onder meer van hoe Lekoro op ’n dag met ’n rooi pet op die kop gaan werk het. Toe hy grappenderwys daaroor deur omstanders uitgevra is, het hy blykbaar nie gedink dit is snaaks nie en die slagspreuk “Kill the boer, kill the farmer” uitgeroep.

Volgens nog getuienis was die verhouding tussen Tewie en Lekoro goed, maar die laaste ruk voor Tewie se dood het dit nie meer na wense voorgekom nie. Eurika, wat volgens Sishuba deur Lekoro met ’n mes doodgesteek is, het ook vergeefs om haar lewe gepleit.

Die saak duur voort.

Meer oor:  Groot-Brakrivier
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.