Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dubbele moordenaar probeer boer (68) glo vermoor

’n Veroordeelde moordenaar wat twee mense op ’n plaas vermoor het, het glo Maandag probeer om batterysuur in ’n 68-jarige boer van Frankfort se oë en keel te gooi.

Die man, wat nog nie op die jongste klag in die hof verskyn het nie, is in 2005 skuldig bevind aan die moorde op Fanie en Ina Smith van Heilbron. Twee neefs is destyds in die rondgaande hof in Kroonstad aan die moorde skuldig bevind en lank tronk toe gestuur.

Die departement korrektiewe dienste (DKD) moet nog vasstel of die verdagte op parool is en of hy reeds sy vonnis uitgedien het.

Gert Terblanche, die boer wat Maandag op sy plaas buite Frankfort aangeval is, het in 2003 ’n plaas by die Smith-egpaar gehuur en het een van sy twee aanvallers herken as die man wat destyds verantwoordelik was vir die grumoorde op die Smiths.

Die Smith-egpaar is in hul huis vermoor en toe in hul stasiewa verbrand.

Twee mans van Frankfort het die naweek ’n telefoniese afspraak met Terblanche gemaak om skape te koop. Terblanche doen gereeld sake met mense wat skape koop en het die mans niksvermoedend ontmoet.

Hulle het aan Terblanche gesê dis nie nodig dat sy plaaswerkers saamry na die skaapkraal nie; hulle sal die skaap self oplaai. Terblanche het hulle na sy skaapkraal geneem, waar hulle self ’n skaap uitgesoek en op die bakkie gelaai het.

Op pad by die plaas uit het een van die mans Terblanche gevra om stil te hou en hy is toe uit die bakkie geruk en met ’n vuurwapen gedreig. Die aanvallers het Terblanche met twee kettings, een om sy nek en een om sy arms, aan sy bakkie vasgemaak.

In ’n stadium het die twee mans Terblanche aan sy kettings die veld ingesleep. Hulle het die enjinkap oopgemaak en die battery uitgehaal om die suur in Terblanche se oë en keel te gooi, maar die battery is ’n geseëlde eenheid.

Hulle het Terblanche ook gedreig dat hulle hondegif in sy keel sal afgooi.

Terblanche is nie gesond nie. Sy familie het hom op sy selfoon gebel en die aanhoudende oproepe het blykbaar die twee aanvallers ontsenu. Hulle het sy beursie, selfoon en bakkiesleutels gegryp en weggehardloop.

Sy familie het intussen alarm gemaak en die twee mans is kort daarna in hegtenis geneem.

Sonja Terblanche, Terblanche se skoondogter, sê hy is in skok en het erge kneusings opgedoen toe die mans hom in met die kettings gesleep het.

Hy was Dinsdag weer by die dokter en daar is kommer oor sy gesondheid.

Brig. Motantsi Makhele, polisiewoordvoerder, sê die polisie sal eers wanneer die mans in die hof verskyn gronde gee oor waarom die staat borgtog teenstaan. Makhele sê tot dan word die inligting rakende parool en vorige veroordelings nie bekend gemaak nie.

Josiah Ramokoena, woordvoerder van die DKD, sê hy sal Woensdag ’n verklaring uitreik.

Meer oor:  Fanie Smit  |  Gert Terblanche  |  Heilbron  |  Plaasaanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.