Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Durban-ploftoestelle dodelik, meen kenner

Die soort tuisgemaakte ploftoestelle wat onlangs in Durban gevind is, kan ernstige skade doen en is vergelykbaar met die soort wat vir 75% van sterftes in byvoorbeeld Afghanistan en Irak verantwoordelik is.

Dit is volgens Willem Els, ’n deskundige op die gebied van die hantering van misdaadtonele en bomverwydering by die Instituut vir Sekerheidstudies (ISS).

Els waarsku indien KwaZulu-Natal nie misdaadintelligensie in die provinsie verskerp nie kan meer sulke toestelle in openbare ruimtes geplant word.

Die soort ploftoestel staan algemeen bekend as ’n geïmproviseerde ploftoestel (GPT, oftewel IED). Die term verwys na enige plofbare toestel wat nie in ’n fabriek gemaak is nie.

“Jy kan die oggend wakker word en algemene items gaan koop waarmee jy ’n toestel soortgelyk aan dié wat gevind is, kan maak,” sê Els.

Jy kan die oggend wakker word en algemene items gaan koop waarmee jy ’n toestel soortgelyk aan dié wat gevind is, kan maak.
Willem Els, sekuriteitskenner

Volgens hom kan iemand met net ’n bietjie kennis instruksies oor hoe om so ’n bom te vervaardig op die internet vind.

Verskeie verdagte toestelle is die afgelope paar dae in veral groot winkelsentrums in Durban gevind. Daar is die naweek ook sulke toestelle in ’n parkeerterrein naby die Durban July gekry.

Els sê die owerhede moes meer gedoen het nadat ’n plofbare toestel twee maande gelede by ’n moskee in Verulam gevind is.

Els sê daar is steeds min inligting oor hierdie voorval. “As jy goeie misdaadintelligensie het, behoort daar selfs ná die eerste voorval noemenswaardige leidrade te wees.”

Els, wat deskundiges in bomverwydering opgelei het en meer as twee dekades se ondervinding het, sê die bomverwyderingseenhede in die provinsie is egter goed toegerus en opgelei om die korrekte prosedures te volg.

“Die probleem is dat selfs wanneer die polisie iemand in hegtenis neem dit uitdagend kan wees om hulle suksesvol in die hof te vervolg. Ons ondersoeke in sulke sake lei weens ’n gebrek aan kapasiteit en opleiding nie tot ’n hoë aantal skuldigbevindings nie.”

Els meen dit is onwaarskynlik dat ’n terroristeorganisasie die toestelle geplant het, omdat hulle gewoonlik krediet neem vir terreurdade. Dit is moontlik dat iemand winkelsentrums vir geldelike gewin wil afpers, sê hy.

Die derde moontlikheid is dat ’n ontevrede werker verantwoordelik is.

“Sonder behoorlike intelligensie kan die polisie egter nie verdagtes identifiseer nie. Dit is soos ’n blinde man met ’n stok,” sê Els.

Voorvalle:

* Die polisie het Maandag ’n beheerde ontploffing gedoen om ’n verdagte pakkie by die Wentworth Spar onskadelik te stel.

* Dit kom nadat ’n verdagte toestel Saterdag in die Woolworths in die Gateway-winkelsentrum gevind is. Die toestel, skynbaar ’n pyp wat aan ’n selfoon gekoppel is, het nie ontplof nie.
* Twee toestelle is vroeër verlede week by onderskeidelik Gateway en The Pavillion-winkelsentrum gevind.
* Twee toestelle is Sondag onder twee verskillende voertuie in Berea, ook in Durban, gevind.

Meer oor:  Willem Els  |  Durban  |  Irak  |  Afghanistan  |  Ontploffing  |  Durban-Ploftoestelle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.