Drie rowers wat Woensdagaand ’n fietswinkel by ’n winkelsentrum in Sunningdale buite Kaapstad beroof het se geluk met hul buit was van korte duur.
Die ses fietse, met ’n gesamentlike waarde van sowat R850 000, is binne minder as ’n uur ná die rooftog deur lede van die Table View-polisiekantoor en gewapendereaksiebeamptes van ’n private veiligheidsmaatskappy, teruggevind.
Een van die rowers is ook in ’n jaagtog met die polisie en die reaksiebeamptes gewond en in hegtenis geneem. Sy twee makkers kon egter daarin slaag om weg te hardloop. Kol. Andrè Traut, polisiewoordvoerder, sê dié twee is nog soek.

Van die fietse wat Woensdagaand by die fietswinkel gesteel is. Die fietse is almal teruggevind. Foto: SAPD
Volgens Traut het die rooftog Woensdag kort ná 21:00 gebeur. Die drie rowers het ’n veiligheidswag by die winkelsentrum aangehou en hom van sy selfoon en handradio beroof. Hulle het daarna ’n gedeelte van ’n betonblad gevat en dit deur ’n ruit van die fietswinkel gegooi. Hulle het daardeur geklim, ses fietse gesteel en dit in ’n voertuig gelaai wat op hulle gewag het.
Wat hulle egter nie geweet het nie, is dat die veiligheidswag wat deur hulle beroof is, daarin geslaag het om ’n paniekknoppie te druk.
“Gewapendereaksiebeamptes was binne minute op die toneel. Die rowers het van die toneel weggejaag met die beamptes op hul spoor.”
Traut sê die polisie is intussen ook gekontak en lede van Table View het hulle by die jaagtog agter die rowers aan aangesluit.
Toe die rowers se voertuig stilhou, het hulle uitgespring en in verskillende rigtings weggehardloop. Die polisie het een van die rowers gewond en in hegtenis geneem. Hy is na ’n hospitaal geneem.
Die gesteelde fietse is almal teruggevind.
Enigiemand wat weet waar die ander twee rowers hulle bevind, word gevra om die Table View-polisiekantoor by 021 521 3300 te bel of die Stop Misdaad-nommer by 08600 10111.