Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Duur sonde met die bure op Silver Lakes-landgoed

’n Bakleiery oor die verkiesing van komiteelede van die rykmanslandgoed Silver Lakes in Pretoria-Oos het uiteindelik tot ’n laster­eis van R1,5 miljoen gelei.

Die uitgerekte twis het pas in die hooggeregshof in Pretoria geëindig toe Marianne van Wyk (62) se eis teen Marna Pretorius (51) met koste van die hand gewys is.

Marna Pretorius op die Silver Lakes-landgoed. Foto: Elizabeth Sejake
Marianne van Wyk, oudvoorsitter van die Silver Lakes gholflandgoed se onafhanklike verkiesingskomitee.Foto: Verskaf

Pretorius, die eienaar van ’n tuinbou-onderneming, het haar in 2015 verkiesbaar gestel vir die omgewingsakeportefeulje van die gholflandgoed se huiseienaarsvereniging (HEV).

Van Wyk was die voorsitter van die gholflandgoed se verkiesingskomitee.

Volgens Pretorius het dinge suur geraak omdat Van Wyk haar beskuldig het dat sy onwettig stemme en stembriewe gewerf het. Inwoners wat nie vergaderings wou bywoon om te stem nie kon volmagbriewe verskaf, wat in ’n geseëlde houer geplaas moes word.

Die aand voor die verkiesing het Van Wyk ’n noodvergadering van die verkiesingskomitee belê en die verkiesing is tot die volgende jaar uitgestel. Sy was ontevrede oor die volmagbriewe.

Pretorius het ’n e-pos aan die 14 lede van Silver Lakes se korporatiewebeheerkomitee geskryf om oor Van Wyk te kla. Van Wyk het haar in die briewewisseling wat gevolg het onder meer gewaarsku sy “boks bo haar gewigklas”. En toe dagvaar sy vir Pretorius oor vier dele van dié brief wat sy beskou het as lasterlik.

“Ek het gebewe toe ek die dagvaarding op 29 Junie 2016 kry, ek het gebewe toe ek by die hooggeregshof instap en nóg meer gebewe toe ek moes getuig. Ek is nou net bly dis verby,” sê Pretorius.

“Daar was dinge in ons stelsel by Silver Lakes waarmee ek nie tevrede was nie en ek wou dit regmaak. Dis hoekom ek gestaan het. En toe gebeur die hofsaak. Dit het die laaste vier jaar alle joy uit my lewe gesteel.”

Sy het my reputasie beskadig met die e-pos wat sy vir 14 mense gestuur het.

Pretorius sê sy hét op die ou end die uitgestelde verkiesing gewen, maar sy was net minder as ’n maand in haar pos toe besluit die HEV die verkiesing was onregmatig en skop haar uit. Sy het in elk geval haar lus verloor vir die saak. Die dinge wat haar gekwel het, is intussen reggestel en die hofsaak het in daardie stadium al haar energie getap.

“Daar is baie nulle in R1,5 miljoen!” skerts Pretorius. Sy sê sy het vyf keer probeer om die saak te skik. “Elke keer het ons gesê ons elkeen betaal ons eie regskoste en gaan aan met ons lewe. Sy het dit elke keer van die hand gewys.”

Regter Dawie Fourie het einde Augustus beslis Pretorius het die stellings (in haar e-pos) per gepriviligeerde geleentheid (die verkiesing) gemaak en Van Wyk se eis met koste van die hand gewys.

Dié koste is volgens Pretorius ’n rekening van “seker so R225 000 waarvan ek nou al R15 000 betaal het”.

Van Wyk sê die hofuitspraak was slegs ’n tegniese uitklophou en Pretorius het haar geen ander keuse gelaat as om haar vir laster te dagvaar nie.

“Sy het my reputasie beskadig met die e-pos wat sy vir 14 mense gestuur het. Ek het al 29 jaar lank my eie besigheid. Ek kan nie bekostig dat iemand my van die misbruik van my posisie beskuldig nie,” sê Van Wyk. Sy sê nóg ’n regter het dié gewraakte landgoed-verkiesing bekyk.

“Die HEV het oudregter Roger Claassen gevra om die verkiesing te ondersoek. Hy het bevind daar was onregmatighede en na aanleiding van sy ondersoek is Pretorius uit haar amp onthef.”

Van Wyk sê sy kon nie Pretorius se voorstelle vir ’n skikking aanvaar nie. “Ek weet ek het die waarheid gepraat.”

Meer oor:  Verkiesing  |  R1  |  Hof  |  Bure  |  Bakleiery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.