Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Dwaalkoeëls dood 2 in Gqeberha

Minder as ’n dag nadat die Oos-Kaapse polisiekommissaris Gqeberha (Port Elizabeth) se bendegeteisterde gebiede besoek het, is twee mense, onder wie ’n 16-jarige, hier doodgeskiet.

Lt.genl. Liziwe Ntshinga (voor met die ligblou hemp), Oos-Kaapse polisiekommissaris, en Yolande Faro (regs van Ntshinga), hoof van die Nelson Mandelabaai-metropolisie, het Saterdag die stad se noordelike voorstede besoek.

Die tienerseun is volgens ’n bron drie keer in die bolyf raakgeskiet, terwyl ’n 33-jarige man in die kop getref is, vermoedelik deur dwaalkoeëls wat deur vermeende bendelede op ’n teenstrydige bendegroep afgevuur is.

Die twee slagoffers is Sondag omstreeks 14:30 in Greenfields, Booysenpark, dood terwyl hulle na ’n kafee gestap het.

Die dubbele moord kom kort nadat lt.genl. Liziwe Ntshinga, provinsiale polisiekommissaris, Saterdag die noordelike voorstede saam met veiligheidsowerhede besoek het. Ntshinga het inwoners bemoedig om teen geslagsgeweld op te staan en nie stil te bly oor bendeverwante misdaad nie.

“Die mense in hierdie gebiede moet weet dat hulle nie alleen is nie en as hulle saam met ons werk, sal ons ’n veilige omgewing vir ons kinders en vroue kan skep. Ons sal nie deur die bendes in hierdie gebiede geïntimideer word nie,” het Ntshinga gesê.

Kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, het Sondag se skietvoorval bevestig en gesê die omstandighede rondom die voorval word nog ondersoek.

Niemand is al in hegtenis geneem nie.

Ntshinga het wel gedurende haar drie dae lange besoek aan die stad, wat laataand-klopjagte ingesluit het, verskeie suksesse behaal, waaronder die inhegtenisneming van agt verdagtes vir onder meer gevalle van verkraging, die rig van ’n vuurwapen, gesinsgeweld, dwelmhandel en die besit van vermoedelik gesteelde goedere. Die polisie het ook 11 pakkies tik en 234 daggasigarette gekonfiskeer.

Polisiebeamptes deursoek motors in Gqeberha gedurende laataand-klopjagte tydens lt.genl. Liziwe Ntshinga, Oos-Kaapse polisiekommissaris, se besoek aan die stad.

Nog ’n deurbraak is Vrydag tydens die polisie se besoek aan twee skole in KwaZakhele gemaak, waar bewusmakingsveldtogte teen boelie-optrede, dwelmgebruik en vandalisme in skole gehou is.

’n Minderjarige het na vore gekom oor beweerde seksuele aanranding en het onmiddellik hulp van die polisie se eenheid teen gesinsgeweld, kindermishandeling en seksuele misdrywe (GKS) ontvang.

Ntshinga het haar besoek afgesluit deur al die wetstoepassers in die metro te bedank vir hul samewerking.

“Ons hoofdoel is om misdaad te verminder, terwyl ons almal ’n gesamentlike doel het om die metro te beveilig.

“Ons is hier om ons voetsoldate te ondersteun, hulle aan te moedig en te lei terwyl ons ons gebied van misdadigers terugneem.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.