Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Edenville: Inwoners steier onder misdaad

“Ons het hier kom aftree omdat ’n stil plekkie is. Dit voel amper soos ’n plaas, maar nou moet ons alles wat ons oor jare bymekaar gemaak het, weer koop soos ons besteel word,” sê Susan Engelbrecht van Edenville in die Noord-Vrystaat.

Susan, haar man, Jan, en nog inwoners het Maandag aan Netwerk24 vertel hoe inwoners se honde sonder ophou vergiftig word en die dorp onder inbrake deurloop. Dié euwel het in die laaste twee jaar skerp toegeneem.

Jan Engelbrecht, links, en Steve van Vuuren vertel hoe die dorp gereeld onder inbrake deurloop. Foto: Alet van der Walt

Hier is amper nie meer honde op die dorp oor nie, so erg gooi hulle gif, sê Jan Engelbrecht.

Niks is vir dié diewe heilig nie.

Fielies Heymans sê diewe het sy kosbare versameling veteraanmotors beskadig om die batterye te steel en selfs die motors se petroltenks is oopgebreek om die petrol daaruit te tap.

“Hulle het ’n besonderse ingevoerde ou Mercedes-Benz, wat aan ’n Suid-Afrikaanse ambassadeur behoort het, se rooster oopgebreek om die battery te steel. Hulle vat toe die Mercedes se sleutel en breek dit in ’n Mini se deur af om dit te probeer oopsluit.”

Heymans sê daar is sewe keer by sy vertoonlokaal ingebreek en van die motors is beskadig.

“Ek het een van hulle, wat ek ken, op heterdaad betrap en toe hy vlug, het ek hom by sy huis gaan soek. Ek het die polisie se hulp ontbied.

“Hulle sê toe hy sê dis nie hy nie en toe los hulle dit net.”

Van die gif wat deur inbrekers in inwoners se erwe gegooi word. Foto: Alet van der Walt

“Ons wys hulle uit, maar niks gebeur nie, Een is ’n baie klein mannetjie wat by die kleinste opening inklim en dan glo vir die ander oopsluit.”

Daan van Wyk, ook ’n inwoner, sê diewe het van sy duur gereedskap gesteel en op een van sy trollies gelaai.

“Ek vat toe die spoor en gaan wys die polisie die spoor lei tot by ’n huis op die dorp. Daar was niemand by die huis nie, maar hulle het beloof om ’n polisielid by die huis te laat wag.”

Van Wyk sê hy het later die dag verby die huis gery, net om te sien die polisie het niemand daar geplaas nie en geen ondersoek is verder gedoen nie.

Van Wyk sê drie dae later het misdadigers weer by hom toegeslaan en die nuwe gereedskap wat hy gekoop het, gesteel.

Niemand is gevrywaar van die vlaag inbrake nie en selfs ’n groep begrafnisgangers wat op die dorp in gastekamers oorgebly het, se splinternuwe begrafnisklere is gesteel toe hulle ’n ruk lank uit was.

’n Inwoner wat nie sy naam wil bekend maak nie, besit ’n huis wat hy uitverhuur.

Die huurders het uitgetrek en toe hy daar kom, het hulle die laaste stukkie elektriese bedrading uit die huis gesteel, vertel hy.

Dalina en Fielies Heymans van Edenville. Heymans sê diewe het sy kosbare veteraan-motors beskadig. Foto: Alet van der Walt

Nog ’n vrou, wat nie haar naam wil bekend maak nie, vertel hoe sy eers op Kersdag 2019 en toe op Kersdag 2020 onder misdaad deurgeloop het.

“Hulle het die laaste keer my kar se ruit uitgeslaan en die battery, domkrag en nog gereedskap gesteel.”

Haar ganse het die booswigte geskraap en hulle het van die artikels laat val.

“Ek het die polisie laat kom, maar toe sê hulle vir my ek het mos alles teruggekry, daar is nie ’n klag nie.”

Dis net die oortjies van die seekoei, sê Engelbrecht.

“Mense se goed word onophoudelik gesteel, hulle los alles net soos dit was, partykeer kom jy eers ’n dag of drie later agter daar is by ’n motorhuis of stoor ingebreek.”

Dit lyk ook asof goed dikwels op bestelling gesteel word en bakkies dit kom oplaai.

Engelbrecht en talle ander inwoners se voertuie se batterye is al gesteel en dan kom hulle dit gewoonlik eers agter wanneer hulle wil ry.

Brig. Motantsi Makhele, provinsiale polisiewoordvoerder, sê van die saaknommers wat Netwerk24 aan hom verskaf het, is sake wat gesluit is omdat geen verdagte met die voorvalle verbind kon word nie.

Só ’n dossier kan heropen word, sê Makhele.

Makhele sê speurders het van die inwoners se leidrade opgevolg, maar die polisie kon nie verdagtes met die misdade verbind nie.

Hy sê as inwoners voel die polisie doen nie hul werk nie, kan hulle die stasiebevelvoerder, die klusterbevelvoerder of die distriksbevelvoerder van die gebied nader met klagtes.

Engelbrecht het daarop gesê hulle sê nie die polisie is sleg nie, “maar van die speurders is laks, hulle doen nie genoeg moeite nie”.

Meer oor:  Misdaad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.