Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Een man se tweede kans

Jare lank het *Joseph die Chicago-buurt in die Paarl as lid van die 28-bende geterroriseer en as sluipmoordenaar verskeie mense doodgeskiet. Daarna was hy 18 jaar lank in die tronk.

Jeremy Arries: “Daar’s hoop vir julle.” Foto’s: Edrea du Toit

Sy gesig en arms vol tatoeëermerke getuig van die tyd toe hy as ’n gevaarlike misdadiger op die polisie se lys van mees gesoektes was.

Maar vandag is dié eertydse huurmoordenaar ’n vry man en terug in die klaskamer. Hy en 40 ander klasmaats, wat almal al met die gereg gebots het, is besig met ’n program van Community Aftercare Sanitation Education (Case). Hulle leer vaardighede wat hulle sal help om weer in die gemeenskap in te skakel, dinge soos gras sny, noodhulp en brandbestryding.

“Ek het my nou bekeer. Ek kan nie meer so aangaan nie. My grootste stryd nou is teen werkloosheid,” sê Joseph.

Die program word ondersteun deur die departement van maatskaplike ontwikkeling. Die fasiliteerder en medestigter van die Case-program is Jeremy Arries, ’n man wat die hartseer van bendegeweld goed ken.

‘Ek het my nou bekeer.’

Hy was ’n stout kind en het in st. 7 (gr. 9) skool gelos, weggeloop en saam met sy jonger broer in ’n afvoerpyp gaan bly, vertel Arries.

Sy broer Jonathan is in 2001 deur bendes vermoor. Hy is in die hart gesteek en ’n slagaar is afgesny. In ’n stadium het Arries langs dié moordenaar gebly. Dié het eendag ’n sigaret in Arries se gesig doodgedruk.

Hy het destyds koerante afgelewer, maar sy hart was nie in dié werk nie, sê Arries. Toe slaan hy ’n kontrak los om vir die Drakenstein-munisipaliteit gras te sny én hy kry ’n beurs om sakebestuur te studeer. Dit was die keerpunt in sy lewe.

“Ek het altyd die begeerte gehad om met mense te werk,” sê hy. Op ’n dag het die munisipaliteit hom genader om in hul uitgebreide program vir openbare werke (EPWP) mense op te lei. In 2016 was daar was 117 mense in die program. Verlede jaar het 43 van dié mense vaste betrekkings by die munisipaliteit gehad. Hieroor swel sy hart van trots, sê Arries.

*Joseph in die klas.

“Baie gevangenes wat op parool was, het my toe gevra maar hoekom bied ek nie ook vir hulle die program aan nie. Hulle sukkel vreeslik om werk te kry. Ek besef toe: dís my roeping.

“Die gangsters is in die minority in die gemeenskap, maar hulle gaan aan asof hulle die majority is. Saam met die gemeenskap kan hierdie gewese misdadigers ’n groot verskil maak.”

Arries wil uiteindelik sy program na die res van die provinsie uitbrei. “Korrektiewe dienste het goeie programme bínne die tronk, maar nie goeies buite die tronk nie. Die tronke is oorvol. Baie jong mans is daar vir geringe misdade en word dan daar geskool deur bendes – vir erge misdaad.

“Herstellende geregtigheid is noodsaaklik vir gewese gevangenes. Hulle moet versoen raak met die gemeenskap waar hulle soveel hartseer en leed gebring het,” sê Arries.

Hy het byna daagliks afsprake met moontlike finansiers om die koste van sy program te help dra. Hy self verdien nie ’n sent nie, want vir hom gaan dit oor die allerbelangrike boodskap wat hy met sy programme uitdra: “Daar’s hoop vir julle ná die gevangenis.”

*skuilnaam

Tronke oorvol
Die minister van justisie, Ronald Lamola, het die afgelope maand gesê dis kommerwekkend hoe oorvol die tronke is. Die oorbevolking staan tans op 37% bó beskikbare plek (162 000 gevangenes in tronke met plek vir  118 000). Hy sê die verpligte minimum vonnisse vir baie misdade dra by tot dié oorbevolking. Jong mans wat minder as twee jaar tronkstraf moet uitdien, word deur tronkbendes ingetrek, terwyl hulle eerder vaardighede kon leer om ’n konstruktiewe rol in die gemeenskap te speel as hulle nie direkte gevangenisstraf uitgedien het nie, sê Lamola.

Meer oor:  Paarl  |  Bendes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.