Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Eers gebede, toe klap skote by moskee
Lede van die Oromo-gemeenskap drom buite Mohamed Amin Abba se huis saam en help met begrafnisreëlings. Foto: Zukhanye Mtebele

’n Bloedbad het Dinsdagaand minute ná ’n vredevolle aanbidding in die Mayfair Jummah-moskee in Johannesburg voorgekom toe ’n aanbidder koelbloedig voor ander doodgeskiet is.

Twee aanvallers het omstreeks 19:30 op die parkeergebied buite die moskee in Hanoverstraat op Muhammed Amin Abanagar (40) losgebrand, het Moulana Tahir Salloo bevestig.

Abanagar was ’n vooraanstaande lid van die Oromo-gemeenskap, ’n etniese groep uit Ethiopië.

Volgens Salloo was die aanbidding van 19:10 tot 19:30.

“Die skieters moes in die parkeergebied gewag het. Muhammed se motor het hier (voor die deur) gestaan. Toe hy by sy motor kom, het hulle op hom geskiet. Hy het probeer weghardloop – terug in die rigting van die moskee se deur waar hy uitgekom het, maar hy het in die paadjie voor ander aanbidders inmekaargesak. Die aanvallers het tot by hom gehardloop waar hy reeds op die grond lê en verder op hom geskiet,” sê Salloo.

Die paadjie waarin Abba afgehardloop het, en die plek waar hy inmekaargesak het. Foto: Zukhanye Mtebele
Die Mayfair Jummah-moskee in Mayfair, Johannesburg.Foto: Zukhanye Mtebele

Toe Netwerk24 Woensdagoggend by die moskee opdaag, was daar tientalle lede van die Oromo-gemeenskap buite Abba se huis oorkant die moskee besig om vir die begrafnis later die dag gereed te maak.

Skoonmakers was nog besig om die bloed op die moskee se parkeergebied af te spuit en ’n bloedreuk het in die lug gehang.

“Die familie kry baie swaar en Samira (sy vrou) is erg getraumatiseerd,” het Abanagar se broer Hussain Ahmed gesê nadat hy Woensdagoggend uit Kaapstad in Johannesburg aangekom het.

Muhammed Amin was nie net sy vrou se eggenoot nie. Hy was die pa van sewe kinders. Ons het baie verloor toe ons hom verloor het. Hy was ’n man wat opgestaan het vir wat reg is. Hy was nie bang om die waarheid te praat nie. Hy was ’n held,” het Ahmed in trane gesê.

Volgens Faheem Hassam, woordvoerder van die Emer-G-Med-nooddiens, het Abanagar verskeie skietwonde aan sy bolyf en in sy kop gehad. Hy is op die toneel dood verklaar.

Netwerk24 het betroubaar verneem daar het 15 koeëldoppies op die toneel gelê.

Hassam sê die nooddiens het nog ’n aanbidder vir ’n skietwond in sy been behandel, en volgens Salloo gaan dit goed met hom.

Moulana Tahir Salloo (regs) saam met Abdul Rahman Patel, oftewel Baboo, voorsitter van die moskee. Dit was daar voor die moskee se ingang waar aanbidders gestaan en gesels het toe hulle die skote hoor klap. Foto: Zukhanye Mtebele

Abdul Rahman Patel, oftewel Baboo, die voorsitter van die moskee, sê die groep aanbidders het nog buite gestaan en gesels toe Abanagar na sy motor loop en die skote begin klap.

“Die oorblywende aanbidders het eers net die eerste skoot gehoor, en gesien hoe Abba in hul rigting hardloop en toe uitmekaargespat,” sê Patel.

“Ons het ’n groot multikulturele gemeente wat uit Ethiopiërs, Somaliërs en ander nasionaliteite bestaan. Die aanbidders kom in groot getalle. Daar was gisteraand meer as 1 000 aanbidders. Daar was kinders. Enigiemand kon getref gewees het. Dit is baie kommerwekkend.”

Patel sê dis die eerste keer in die moskee se 31-jarige bestaan dat só iets gebeur.

Hy het bewerings dat die aanval die gevolg van beweerde onmin tussen Somaliërs en Ethiopiërs was, ten sterkste ontken.

“As daar enige waarheid daarin was, het ons gisteraand al oorlog hier gehad.”

Nawawi Mussa, voorsitter van die Ethiopiese Oromo-gemeenskap, sê Abanagar was ’n suksesvolle sakeman, wat vir talle behoeftiges in die gemeenskap gesorg het, en selfs ’n kinderhuis onderhou het. Hy woon al 18 jaar in Suid-Afrika.

“Hy was ’n eerbare sakeman. ’n Wetsgehoorsame persoon,” sê Mussa.

Ahmed sê die familie sal toesien dat geregtigheid geskied sodat sy broer se bloed “nie verniet gevloei het nie”.

“Duisende lede van sy gemeenskap het tot ná middernag hier by die moskee saamgedrom en gehuil. Die aanbidders wat alles sien gebeur het, is erg getraumatiseerd,” sê Salloo.

Die moskee-leiers beskryf Abanagar as ’n toegewyde Moslem wat vyf keer per dag kom bid het.

Die moskee staan Abanagar se gesin by en verskaf traumaberading.

“Dis ’n verlies vir die moskee, maar ook ’n groot verlies vir die hele gemeenskap,” sê Patel.

Abanagar se ouers sal na verwagting Woensdagmiddag uit Ethiopië in Johannesburg land om hul seun se begrafnis by te woon.

Kol. Lungelo Dlamini, Gautengse polisiewoordvoerder, sê die verdagtes het te voet van die toneel af gevlug.

“In dié stadium weet ons nog nie wat die motief vir die aanval is nie. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.”

Meer oor:  Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.