Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
EFF-leier in Limpopo vas ná mense hutte brand

Die EFF-leier in Limpopo is vir opsetlike saakbeskadiging en diefstal in hegtenis geneem nadat hy in Seshego buite Polokwane glo by bendebedrywighede probeer ingryp het.

Jossey Buthane (41)

Jossey Buthane (41) is Maandag in hegtenis geneem nadat hy en ’n groep mense Sondag in Seshego met inwoners vergader het ná die moord twee weke gelede op Thoriso Kgomo (18).

Brig. Motlafela Mojapelo, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê die groep mense het nadat Buthane met hulle gepraat het, glo op sinkhutte toegesak en dit aan die brand gesteek. Die hutte word glo gebruik deur mense wat na bewering by bendebedrywighede betrokke is.

Nóg ’n huis in sone drie in Seshego is glo beskadig en daar is glo twee selfone gesteel.

Buthane is saam met Boy Mamabolo (36), ’n bekende ANC-lid in Polokwane, en Motladi Setsiba (46) in hegtenis geneem.

Hulle het Maandag vlugtig in die landdroshof in Seshego verskyn en is elkeen is op borgtog van R500 vrygelaat.

Buthane is woedend omdat hy in hegtenis geneem is en ontken dat hy enigsins betrokke was by misdrywe in Seshego.

“Die polisie slaap aan diens, so ons het hulle werk vir hulle gedoen en sewe verdagtes wat moontlik met bendebedrywighede verbind kan word, aan hulle oorhandig. Toe die polisie wakker skrik, toe word ek in hegtenis geneem,” sê Buthane.

Hy het verlede Woensdag in sy rooi EFF-oorpak die prysuitdeling vir matriekpresteerders in Limpopo by The Ranch buite Polokwane bygewoon.

Polly Boshielo, LUR vir onderwys, het toe gesê hoe ernstig bendebedrywighede in veral skole in Seshego is. Buthane sê hy het besluit om iets daaromtrent te doen en dit is waarom daar met die gemeenskap vergader is.

Die sinkhutte wat Sondag in Seshego aan die brand gesteek is. Foto: SAPD
’n Njala moes Sondag in Seshego gebruik word om mense wat glo bendebedrywighede wou bestry, in bedwang te bring.Foto: SAPD
Van die sinkhutte wat Sondag in Seshego beskadig is.Foto: SAPD

Sy besoek aan Seshego het gekom ’n dag nadat Kgomo begrawe is. Kgomo was verlede jaar ’n matriekleerling in die private Northern Academy in Polokwane. Dié skool is as die top- private skool in Limpopo aangewys vanweë hul goeie matriekuitslae van 2019.

Hy was by ’n partytjie in die vroeë oggendure van 2 Januarie toe ’n 17-jarige seun hom glo etlike kere met ’n mes gesteek het. Kgomo is drie dae later in ’n hospitaal in Polokwane dood.

Die 17-jarige tiener is in aanhouding en moet op 27 Februarie weer in die landdroshof in Seshego verskyn. Hy was uit op borgtog nadat hy glo ’n meisie verkrag het toe hy glo betrokke was by die moord op Kgomo.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, polisiehoof in Limpopo, het mense gewaarsku om nie eie reg te gebruik nie.

Buthane, Mamabolo en Setsiba moet 6 Maart weer in die landdroshof in Seshego verskyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.