Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Egpaar baklei terug teen aanvallers

'n Egpaar van Mbombela in Mpumalanga het 'n plaasaanval gekortwiek deur terug te baklei.

Wim Struyf (68) het 'n bofbalkolf in die hande gekry en met dit ingelê dat een van sy aanvallers se arm “soos rubber agteroor gebuig het”.

Struyf se vrou, Martie (65), kon daarin slaag om by die paniekknoppie uit te kom.

Wim Struyf
Martie en Wim Struyf van Mbombela het saam-saam hard terugbaklei teen twee aanvallers wat hulle Sondagoggend op hul kleinhoewe aangeval het. Foto: Verskaf

Die aanvallers het haar man oorrompel toe hy Sondagoggend die veiligheidshek oopgesluit het. Een was gewapen met ’n mes en die ander een met ’n pistool.

Die egpaar bly al jare op hul kleinhoewe in die Weltevreden-omgewing ongeveer 10 km buite Mbombela.

“Ek het net besluit ek gaan nie stilsit en toekyk hoe hulle my man se keel afsny nie,” sê Martie.

Alles wat hierna gebeur het was ’n bestiering.

Met die intrapslag het die twee aanvallers geld geëis. Wim was op pad uit gewees, en het omgedraai na die huis vir iets wat hy vergeet het.

Die aanvaller met die mes het Wim begin dreig en sy selfoon gevra. Wim het geweier en die selfoon in sy sak gedruk toe 'n struweling ontstaan het.

Intussen het die ander aanvaller met die vuurwapen vir Martie gedreig en gesê om op die grond te gaan lê. Sy het in pront Afrikaans gevra, “Wat de f** soek jy?”, waarop die aanvaller gesê het hy gaan haar doodmaak. Hy het in 'n stadium ook ’n stomp voorwerp uit die badkamer gehaal waarmee hy vir Martie oor die kop geslaan het.

“Hy (die aanvaller) het vir my gesê ‘I’m gonna shoot and kill you’ toe sê ek vir hom hy moet maar skiet, want ek het nie geld nie,” sê Martie.

Ek het net besluit ek gaan nie stilsit en toekyk hoe hulle my man se keel afsny nie.

Sy kon daarin slaag om die paniekknoppie te druk toe die aanvaller wat met Wim stoei sy makker vra om te help omdat Wim toe die kolf begin inlê het.

Die egpaar se veiligheidsmaatskappy was vinnig om te bel. Een van die aanvallers het die foon vir Martie gegee en haar beveel om te antwoord.

“Ek het kalm vir die maatskappy gesê hier is moeilikheid, ’n mes en vuurwapen,” sê Martie.

Dit het die aanvallers senuagtig gemaak.

Wim het vir die aanvallers gesê daar is geld in die bakkie, in ’n poging om hulle uit die huis te lok.

“Hulle wil toe net die bakkie se sleutel hê. Wim sê toe ‘julle het my nou so rondgegooi ons sal hom moet soek’, maar toe hy vir hulle sowat R1 000 uit sy sak gee toe is hul senuwees seker ook op en toe vat hulle liewer die pad,” sê Martie.

Hierna was dit nie lank nie voordat hulp opgedaag het, en 'n soektog begin is na die aanvallers.

Die vermoede bestaan dat daar dalk ’n derde persoon in ’n motor was wat vir sy makkers by die grensdraad gewag het. Naby die grootpad is die spoor verloor.

Die polisie in Mpumalanga kon nie dadelik die voorval bevestig nie.

Meer oor:  Mbombela  |  Aanval  |  Kleinhoewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.