Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
KYK: Egpaar op landgoed doodgeskiet, dogter gewond

“You are not alone. Breathe. Just breathe.”

Janique Giles kon nog antwoord toe Elize Jacobs, ’n afgetrede waakeenheidverpleegster, Dinsdag donkeroggend by haar kniel en met haar praat.

Nooddienste het nog gehoop dat Janique (56) dalk gered kan word.

Sy en haar man, Wayne, (57), is egter albei in hul dubbelverdiepinghuis in die Fly Inn Estate in die landelike omgewing van Elandsfontein, oos van Pretoria, dood aan skietwonde nadat hulle aangeval is.

Hul dogter, Rachel (van vroeg in die 20's), is in die bobeen geskiet. Sy is per helikopter na ’n hospitaal geneem. Hul seun, Brandon (28), wat in ’n ander deel van die huis bly, was fisiek ongedeerd. Hy het hulp ontbied toe hy die skote hoor.

Janique en Wayne Giles by ’n jaareindonthaal vir vliegvriende. Hul familievriend en oud-vlieënier, Karl Jensen, staan regs agter.

Die landgoed, waar die meeste inwoners ’n verbintenis met vliegtuie het, is omhein deur ’n hoë muur met geëlektrifiseerde bedrading bo-op. Besoekers moet deur twee veiligheidshekke ry om toegang te kry. Die meeste huise het ’n loods vir hul vliegtuie en daar is ’n aanloopbaan.

Wayne Giles was ’n vliegtuig-geesdriftige wat as stokperdjie ligte vliegtuie gebou het en die gesin was van die eerstes wat jare gelede hier ingetrek het.

Dit was die einste huis wat lede van die Olifantsfontein-polisie en forensiese deskundiges Dinsdagoggend deurgesoek het en waarin hulle vir Brandon uitgevra het.

Verslae inwoners het vertel hoe hulle vroeër daardie oggend net so in hul slaapklere die Giles-gesin te hulp gesnel het nadat hulle wakker geskrik het van skote en Brandon se noodroep op ’n WhatsApp-groep.

Hy het om 05:43 geskryf: “Help!!! Gunfire. Security needed.” ’n Minuut later het Rachel geskryf: “Helppp. Armed intruders.” ’n Inwoner het onmiddellik laat weet die polisie en die plaaslike veiligheidsmaatskappy, CMS, word ontbied.

Om 05:47 tik Rachel: “I’ve been shot” en drie minute later “My mom too.”

Jacobs, wat saam met haar suster Marina naby die Giles-huis bly, sê Marina het by haar kamer ingestorm nadat laasgenoemde wakker geword het van ’n “doef-doef-doef-doef”.

“Ek het vir Elize gaan roep want sy is ’n ou ICU-verpleegster,” vertel Marina.

Brandon en Rachel Giles ’n paar jaar gelede. Foto: Facebook

Jacobs het opgespring en haar noodhulptassie gegryp.

By die Giles-huis het sy by die deur geroep of iemand hulp nodig het. ’n Buurman het gesê sy moet by die trappe opgaan.

“Wayne het onder in die sitkamer gelê, sy gesig na onder. Ek kon met die eerste oogopslag sien hy is dood.”

Dit blyk dat hy in die kop geskiet is. Marina sê hy was reeds aangetrek.

“Janique het bo-op die platform-deel van die trappe gelê, Rachel so links agter haar in die gang. Ek het vir Janique gevra of sy my kan hoor. Sy het ‘ja’ gesê. Ek het vir haar gesê: ‘Stay with me. Keep breathing.’ Brandon het langs my by sy ma kom kniel. Ons het haar pajama-toppie oopgeknip. Daar was ’n skietwond net onder haar hart,” vertel Jacobs.

Sy en Brandon het Janique verbind. ’n Narkotiseur wat ook op die landgoed bly, het probeer om ’n drup vir Janique aan te sit.

“Toe sien ek sy haal nie meer asem nie. Ek het mond tot mond begin doen. Die narkotiseur se vrou het hartkompressies gedoen. Ek weet nie vir hoe lank nie. Dit het gevoel soos ’n ewigheid en tog ook soos ’n oomblik. Toe die paramedici aankom, het ek na Rachel gegaan,” vertel Jacobs.

Die dogter was kalm, maar het baie pyn verduur.

Sy het aan Jacobs gesê: “I heard shots. Then I heard my mom scream ‘Where is my husband?’ ”

Brandon is later na buite, waar Marina hom huilend in sy slaapklere gekry het.

“Ek het hom vasgehou en my skoondogter gestuur om vir hom sterk koffie te maak,” sê sy.

Wayne Giles (voor) in sy eerste Bearhawk-vliegtuig wat hy gebou het, net voor sy eerste vlug. (Dit is onbekend wie die persoon agter is.)

CMS en die GauMed-nooddiens was omstreeks 06:00 op die toneel.

Wayne was reeds dood.

Intussen het twee mediese helikopters neffens die huis geland – een vir Janique, een om vir Rachel hospitaal toe te neem.

Die manne van CMS het die polisie ontbied en gekyk of hulle spore en/of verdagtes in die veld om die landgoed kry.

Die vermoede is dat die aanvallers die ketting en slotte van ’n ongebruikte hek na die landgoed afgeknip het om toegang te verkry en toe een van die vensters van die Giles-huis oopgebreek het.

Die WhatsApp-noodkrete van broer en suster. Foto: Skermgreep
noodkrete
Die noodboodskappe wat Brandon Giles, en later sy suster, Rachel, gestuur het.

Karl Jensen, ’n goeie familievriend van Giles-hulle en oud-Boeing-vlieënier, het later gesê Rachel is geopereer.

“Sy is nou uit die teater en stabiel.”

Hy beskryf die gesin as geheg en “sout-van-die-aarde-mense”.

“Wayne was ’n fenomenale nywerheidsverkoelingsingenieur wat yskaste vir groot ondernemings gemaak het. Hy het Bearhawk- ligte vliegtuie as stokperdjie gebou. Janique het die kantoordeel van sy verkoelingsonderneming behartig. Ek en hy (Wayne) het vanoggend nog ’n afspraak gehad . . . As ’n tragedie so na aan ’n mens tref . . . Dit is die ontstellendste ding,” sê hy.

• Brig. Mathapelo Peters, provinsiale polisiewoordvoerder, sê hulle ondersoek aanklagte van moord, poging tot moord en huisroof.

“Sekere items word uit die huis vermis, onder meer ’n televisie, twee MacBooks en ’n skootrekenaar.”

Polisielede en forensiese deskundiges ondersoek die toneel waar die Giles-egpaar vermoor is. Foto: Felix Dlangamandla
Die polisie was Dinsdag ure lank in en om die huis op die Fly Inn Estate waar die Giles-gesin aangeval is. Foto: Felix Dlangamandla
Die huis waarin Wayne en Janique Giles vermoor en hul dogter gewond is. Hul seun, Brandon, bly in ’n ander deel van die huis en is fisiek ongedeerd. Foto: Felix Dlangamandla

Meer oor:  Janique Giles  |  Elandsfontein
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.