Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Egpaar se vier ‘leeukinders’ vergiftig

’n Egpaar van Hartbeespoortdam in die Noordwes is platgeslaan nadat hul vier leeus, wat hulle met die hand grootgemaak het, Dinsdagaand vergiftig is.

Hennie Pio, mede-eienaar van die Chameleon Village Lion Park, sê ’n werker het Woensdag omstreeks 08:00 op die leeus afgekom.

Die leeus, twee wyfies en twee mannetjies, is Dinsdagaand ná 21:00 vergiftig.

Thor is een van die vier leeus van die Chameleon Village Lion Park in Hartebeespoortdam in die Noordwes wat Dinsdagaand vergiftig is. Foto: Verskaf

Die vermoede bestaan dat Mumford, Isis, Thor en Mia, wat tussen sewe en 11 jaar oud was, vir hul koppe en pote vergiftig is.

Pio sê hy het nou ’n wag aangestel om sy ander groot katte op te pas.

Mumford is die ander mannetjie wat vergiftig is. Foto: Verskaf

Volgens hom het ’n buurman wie se huis naby die leeus se hok is, die leeus nog teen 20:00 gehoor brul.

“Hul honde het egter daarna erg begin blaf en so teen 21:00 het sy vrou uitgegaan om die honde stil te maak. Ek dink sy het hulle (die booswigte) seker laat skrik en hulle het gevlug.

“ ’n Werker wat Woensdagoggend die heining nagegaan het, het omstreeks 08:00 op die dooie leeus afgekom. Hulle was toe reeds styf,” sê ’n ontstelde Pio.

Volgens hom het die vrou vermoedelik die booswigte laat vlug voordat hulle kans gekry het om die diere se koppe en pote af te kap. Dit het onlangs by ’n ander leeuplaas daar naby gebeur, sê hy.

“Ek en my vrou het daardie diere met die hand grootgemaak. Dit was nie net leeus nie. Dit was soos ons kinders. Ek moes haar vanoggend bel en sê ons leeukinders is dood. Sy was in trane.

“Dit gaan nie oor die geldelike waarde van die diere nie, maar oor die sewe, agt jaar wat ons ingesit het om hulle groot te maak. Nou kom iemand en maak hulle binne minute dood. Dit is ’n deel van jou lewe wat nou weg is. Hoekom?”

Polisiebeamptes was Woensdag ook op die toneel by die Chameleon Village Lion Park in Hartebeespoortdam in die Noordwes waar vier leeus die vorige aand vergiftig is. Foto: Verskaf
Van die hoenders met die gif is nog Woensdagoggend op die toneel gevind. Foto: Verskaf

Volgens hom het die booswigte die draadheining stukkend geknip om toegang tot die erf te kry. Hulle het hoenders wat besmet was met die gif Two Step gebruik om die diere mee te vergiftig. Vyf van die besmette hoenders is op die toneel gevind.

Die lykskouing het gewys dié gif, wat dikwels ook gebruik word om honde te vergiftig, is gebruik om die leeus vrek te maak.

Die polisie, waaronder die honde-eenheid, was Woensdagoggend vinnig op te toneel en het die booswigte se spore gevolg tot by ’n kwekery waar hulle ook ’n heining gesny het.

Beamptes van natuurbewaring en ’n veearts was ook op die toneel.

“Ek is bly ek het hulle nie gekry met hul koppe en pote afgekap nie. Dit sou erger gewees het. Ek het hulle vanmiddag begrawe en sal ook ’n grafsteen opsit.”

Een van die leeus lê dood by die Chameleon Village Lion Park in Hartebeespoortdam in die Noordwes nadat vier leeus Dinsdagaand vergiftig is. Foto: Verskaf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.