’n Egpaar van Mbombela is in die vroeë oggendure van Donderdag in hul huis oorval terwyl hulle geslaap het.
Die man (75) is in die aanval dood.
Volgens Albert Gryvenstein van Bossies Community Justice wat op die toneel was, het die voorval vermoedelik tussen 02:00 en 03:00 gebeur.
Gryvenstein sê die egpaar is in hul slaap oorval.
“Die vrou sê sy het wakker geword en gesien haar man stoei met die rowers. Daar was glo drie van hulle.”
Gryvenstein sê die man is vermoedelik weens steekwonde dood en die vrou is geneem na ’n nabygeleë hospitaal, waar sy vir steekwonde behandel word.
In dié stadium lyk dit of slegs ’n televisie en skootrekenaar gesteel is.
Brig. Leonard Hlati, woordvoerder van die polisie in Mpumalanga, het die voorval bevestig. Hy het gesê nog inligting oor die voorval sal bekend gemaak word namate die ondersoek vorder.