Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Misdaad
Egpaar van Uganda vermoor in huis op hoewe

’n Man is in hegtenis geneem ná ’n dubbele gru-moord op ’n Ugandese egpaar op ’n hoewe buite Northam in Limpopo.

Kol. Moatshe Ngoepe, polisiewoordvoerder in Limpopo, sê ’n 24-jarige man, ook ’n Ugandese burger, is Saterdag in hegtenis geneem. Dit is nie seker of hy familie van die vermoorde egpaar is nie.

Ngoepe sê die polisie is Vrydag ontbied na ’n hoewe in die Wildebeeslaagte-gebied naby Northam omdat ’n huis aan die brand was.

Die brandweer is ook ontbied en alles moontlik is gedoen om die huis te red wat in ligte laaie was.

Reddingswerkers het ’n venster gebreek om in die huis te kom om die egpaar wat in die vlammehel vasgevang was, te red.

Ngoepe sê al die deure van die huis was gesluit.

Die egpaar, wat in hulle 30's was, is dood op die vloer van die huis gekry. Hulle het albei verkool.

Die oorsaak vir die moord is nog onduidelik en die polisieondersoek duur voort.

Ngoepe sê ’n reusesoektog is begin na die vermeende skuldige of skuldiges.

Heritage Protection Group (HPG), ’n misdaadbestrydingsorganisasie, het die polisie met die ondersoek gehelp.

Die soektog is uitgebrei tot in Rustenburg in Noordwes.

Ngoepe sê ’n 24-jarige man is met die hulp van lede van die polisie se openbare-orde-eenheid van Rustenburg in hegtenis geneem.

Die polisie het op die vermoorde egpaar se motor beslag gelê. Die verdagte was vermoedelik met die motor op pad na ’n onwettige werkswinkel in Rustenburg waar motors se onderdele gestroop word.

Ngoepe sê die polisie het die egpaar se selfone, ’n tablet-rekenaar, ’n horlosie en huissleutels in die motor gekry.

Die 24-jarige man sal eersdaags op aanklagte van moord, brandstigting en diefstal van ’n motor in die landdroshof op Northam verskyn.

“Die rede vir die moord is nog onduidelik en die polisieondersoek duur voort,” sê Ngoepe.

Die name van die egpaar sal eers bekend gemaak word nadat al hul familielede oor hul dood in kennis gestel is.

Meer oor:  Limpopo  |  Northam  |  Moord-Ondersoek  |  Vermoor  |  Hoewe-Aanval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.