’n Voormalige skoolhoof van die Laerskool Fort Beaufort en sy vrou was Sondagoggend verslae toe hulle op hul plaas opdaag en hul huis afgebrand aantref.

Danie en Retha Malan. Foto: Facebook/Retha Malan
Daniel (Danie) en Retha Malan bly ongeveer 23 km buite Fort Beaufort op sy grootwordplaas, Smitskraal.
Die egpaar het die naweek in die Vrystaat gaan kuier en terwyl hulle weg was, is daar ingebreek en is al die vuurwapens in twee kluise gesteel.
“Albei kluise was oop. Ons het geen idee hoe dit kon gebeur het nie. Daarna moes die brandstigting gebeur het. Die vyfslaapkamerhuis is heeltemal vernietig,” sê Retha.
“Ons het nou die klere aan ons lyf en die goed wat ons ingepak het vir die naweek se kuier by my skoonma.
“Die inbrekers het ons Corsa-bakkie as wegkom-motor gebruik en dit ’n paar kilometer van die plaas langs die pad gelaat.
“Ons het veiligheidshekke, dit het hulle nie uitgehou nie,” sê sy.
Werkers op die plaas het die egpaar Sondag omstreeks 02:00 gebel en gesê hulle sien vlamme in die plaashuis.
“Ons het van ons vriende gevra om te gaan kyk. En nou ja, niks kon gered word nie.”

Die Malans se huis op Smitskraal ná die brand. Foto: Facebook/Elani Malan

Die huis op Smitskraal nadat dit in ’n brand vernietig is. Foto: Facebook/Elani Malan
Die egpaar bly nou by een van hul dogters in Fort Beaufort. Die ander twee bly in Cradock.
Retha sê die gesin is baie dankbaar vir die hulp wat mense in die gemeenskap aanbied – van kos tot slaapplek. “Hulle kyk so mooi na ons. Die Here se genade is groot.”
Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, het Sondagmiddag gesê die polisie was Sondag teen 03:30 nog op die toneel.
“Brandstigting en huisbraak word ondersoek. Die taakspan is besig om leidrade te soek en dit op te volg. Nog niemand is in hegtenis geneem nie.”
Hy het gevra dat enigiemand met inligting oor die voorval konst. Kholeka Mbambeni by 082 388 9344 bel.